Seisoene

Seisoene... Vier seisoene... daar is liedjies oor geskryf... sketse oor gemaak... skilderye geverf. Ons almal het ons gunsteling... soortvan, want selfs in ñ seisoen is daar tye wat vir ons net té erg raak, of dinge wat ons deurmekaar maak: Kaapse winterweer wanneer dit Somer in die Laeveld moet wees, of die hitte wat nét nie breek nie, wanneer die humiditeit al 3dae ñ donderstorm belowe? En soms voel dit of Herfs en Lente glad nie hier was nie... die een dag is dit nog somer en die volgende is dit winter?? En dan is daar die feit dat seisoene nie by kalenders hou of omgee vir geleenthede nie.. ek meen: wanneer was dit al ooit ñ lente-dag op 1 September of kon die Matriekafskeid meisies hul moulose taberds aantrek, sonder om te bibber?

Dalk is dít hoekom ons lewens ook so goed vergelyk met seisoene: die voorspelbare maar ook die onverwagse... onverklaarbare en vreemde van ons drie-ledige mens-wees. Die feit dat ons: gees, siel en liggaam is en dat hulle op verskillende tye van ons dag... maand en jaar beurte maak om volgorde van belangrikheid (en oordondering). En dit, wanneer ons dink ons ken onsself? Hoeveel meer kompleks is die verhoudings dan nie ook, wat deel vorm van ons lewens-seisoene nie... al wat ek weet is dat die koudste winter (wat ek al in my 39 jaar beleef het) nie náby die koue kom van ñ seisoen van vriendskap, wat tot ñ einde kom nie.

Die moeilikste deel is sekerlik om te erken en herken, dat die seisoen draai en verandering onkeerbaar is. Mens skop en stoei met jouself en gaan deur stadiums van oortuiging... eers onthou jy nét die goeie dinge... dan nét die slegtes en dan probeer jy om niks te onthou. Maar as jy in die spieël kyk sien jy die spierwit lyf vd Winter, al het jy jou kostuum aan en die son skyn warm buite...

Ek staan in die middel van ñ onverwagse seisoen verandering of -afsluiting... watter een van die twee weet ek nog nie. Die "vriendin", is my bediende... en die vrou wat my kinders oppas, en vir wie hulle lief geword het in die afgelope 2 jaar... die een, wat Zelé vra ek voor moet bid, en die een wat Demar kan rondjaag buite, omdat Zelé nog nie kan nie en Mamma by die werk is. Die een vir wie ek vertel dat die kinders sleg geslaap het en my teorie daaromtrent... my bekommernis oor ñ lastige hoes of opgewonde my nuwe broek wys wat ek gekoop het. My klankbord, ja... in baie gevalle en dus ook die een wat lekker baie skietgoed het, wanneer sy wil baklei. Ek meen ek is ñ goeie baas-vriendin... ek probeer doen aan haar, wat ek aan myself gedoen wil hê. Ek is teleurgesteld wanneer sy nie kan werk toe kom, maar probeer ook verstaan, dat sy self (enkel)-Ma is van 3 kinders, en respekteer en wardeer dit. Maar op die einde gaan dit maar weer oor twee kulture, wat mekaar net nie volkome verstaan nie... en al praat sy vlot Afrikaans baklei ons in Engels, ons elkeen se "tweede taal", wanneer ons wil seker maak die ander verstaan my... en dus ñ tweede-handse vriendskap. Ek voel dat ek haar bemagtig in alles wat ek doen, maar dan verstaan sy my frustrasie van alleen-regkom & onprofessioneel moet afsprake kanselleer en waardevolle geldjies, wat weer vir Dewald help, verkeerd... en hoe oortuig mens nou iemand wat, ten spyte van die feit dat jy haar nog nooit so behandel het nie, steeds ge-breinspoel word met "apartheid"?! Al wat ek sover weet is: dis onregverdig en traumaties... dit maak my moeg en moedeloos...en dit maak my stres. Want hierdie spesifieke vriendskap vereis dat ñ plaasvervanger gesoek móét word... en so vinnig as moontlik ook, want anders is nie net jou hart nie, maar ook jou huis vuil en nie net jou hart nie maar ook jou dagboek leeg... en hoe help en ondersteun jy dan die wat régtig saak maak... jou man en kinders?! Maria sê in Sound of Music: "Where God closes a door... He always opens a window..." Mag dit ñ grootte wees... ñ mooi venster en ek daar deurkom, sonder stukkies splinter-glas in my lyf...

Prediker 3:1-8, 11-13 (Die Boodskap)

"Alles gebeur op ’n bepaalde tyd. Alles in die lewe is vooraf bepaal: • daar is ’n tyd om gebore te word en daar is ’n tyd om dood te gaan; daar is ’n tyd om te plant en daar is ’n tyd om weer die plante uit te trek; • daar is ’n vasgestelde tyd om dood te maak en daar is ook ’n tyd om gesond te maak; daar is ’n tyd om dinge af te breek en ’n tyd om dit te herstel; • daar is ’n tyd wanneer ’n mens hartseer is en dan is daar ook weer ’n tyd vir vreugde; daar is ’n tyd om te huil en ’n tyd om weer gelukkig te wees; • daar is ’n tyd om mekaar lief te hê en ’n tyd om weg van mekaar te wees; daar is ’n tyd om mekaar te liefkoos en ’n tyd wanneer liefkosing nie pas nie; • daar is ’n tyd om te soek en ’n tyd om goed te laat wegraak; daar is ’n tyd om op te gaar en ’n tyd om weg te gooi; • daar is ’n tyd om iets te skeur en ’n tyd om dit heel te maak; daar is ’n tyd om te praat en ’n tyd om stil te bly; • daar is ’n tyd vir liefhê en ’n tyd vir haat; ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede. God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe Sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie. Toe het ek besef al wat die mens maar moet doen, is om gelukkig te wees en die lewe te geniet. Om tussen al die harde werk deur nog te kan eet en drink en gelukkig te wees is ’n geskenk uit die hand van God."

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...