Die prentjie in my kop...


Hierdie is een van daardie baie wyse woorde wat mens in flieks hoor (Susan Sarandon in 'Shall We Dance') & onthou en weer en weer aan dink en herkou. Nou kyk, dat dit mooi is, en waar is, is so... maar soos ñ fliek soms maar vir mens ñ wanbeeld van realiteit gee en dan jou moedeloos maak oor jou eie... dit is ook so. En dis wat ek eintlik oor wil skryf... wanbeelde... die prentjie in my kop...

Want sien, ons elkeen loop mos elke dag met ñ klomp prentjies in ons koppe rond: van hoe ñ ding moet wees of soms eerder nié moet wees nie: van so kompleks en diep soos my huwelik, tot so eenvoudig soos die slaai wat ek by Mugg & Bean bestel. Die teleurstelling, wanneer die ding dan nie lyk soos ons prentjie nie is intens... hetsy vir ñ kort rukkie-die slaai, wat nie soos die prentjie in my kop óf die op die spyskaart gelyk het nie of van lange duur-my huwelik ens.

En hoe langer tyd ons het om ons prentjie op te bou, hoe groter die teleurstelling... soms het jy nie eers geweet jy't ñ prentjie in jou kop nie, totdat jy die teleurstelling beleef. En soms is die intensiteit soos ñ vloedgolf, wat jou heeltemal onkant vang & ontsettende skade aanrig. Veral as daar juis iemand is as getuie... want soms wil mens mos maar net so in jou eie selfbejammering MARINEER... en dan, wanneer die getuie jou daarop wys, of nog erger: jy moet jouself probeer verduidelik, dan is dit nou maar 9 uit die 10 kere waar: "Men are from Mars & Women are from Venus"... want hoe moet jy nou jou prentjie in detail verduidelik as jy nounet self bewus geraak het daarvan... en hoeveel detail daar ìs!!!!

Ek onthou die keer toe ek uit SA, op ñ Intern salaris, dalk in Frankryk kon gaan ski... daar was ñ laaste minuut kansellasie en alles was reeds betaal. ñ Vriend, wat saam gaan ski en wat nog Ponde verdien het, sou las vir die vliegkaartjie... daar sit ek toe in die donkerste, kleinste kantoortjie by die Universiteit van Zululand & bou lugkastele so hoog, dat die kamertjie skoon groot voel... daar was 100 goed wat in plek moes val, soos dat ek kon afkry... ñ vliegtuigkaartjie kry... ens... en toe, nog meer op die laaste minuut... toe ont-kanselleer die kansellasie.  O dit was traumaties... ek het al die ski's hoor girts onder my en my shins voel blou word v al die "snowplough"-stoppe. Maar nou-ja... daar gaan my lugkastele én my prentjie... en wat sal die studente dink as ek nou daar in die kleinste, donkerste kamertjie sit en grens??!!

Maar daardie prentjie wat ons het is kragtig! Dit kan ons motiveer... dit kan ons laat glo & dit kan ons ook aggressief maak, veral wanneer iemand jou prentjie kom verander... of kritiseer of jy besef jy is die enigste een wat sò prentjie van die situasie en vir die situasie gemaak het. Soos ñ vriendin, wat met haar laaste & mees onbereikbare spaargeldjies ñ pragtige, antieke kas gekoop het en dit laat stoor het by die winkel... en toe sy haar kas gaan haal, het hulle dit verkoop?! Die rede hoekom dit gestoor is, is omdat hulle aanbouings gedoen het... sy het vir 2 maande gedroom oor die kas, wat sy gaan opmeet het & oor gaan oplees het en in haar kop haar kombuis geskuif tòtdat dit perfek gepas het by die ander erfstuk... en nou weier die persoon aan wie die kas verkoop is, wat aan haar behoort, om dit terug te gee??!! Ai die ònregverdigheid en die séér van ñ stukkende "prentjie"!!!!

Daar is al baie wyshede gedeel via Facebook & Whatsapp's & bbm's oor die feit dat jy moet respekteer dat elkeen sy eie gevegte veg... sy eie seer het en sy eie wonde lek... en dis mooi en waar... maar ek dink, as ons net onthou van ander se prentjies & probeer om dit beter te verstaan of ten minste te respekteer... dán sal dit sommer baie beter met almal gaan. Lekker skilder... in jou kop... Picasso!



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...