Duif-stories



Gistermiddag was daar 'n duif in die kombuis... (dit klink soos 'n ddisselblom liedjie se titel!) Inelkgeval... die deur was oop en hy het seker maar ingestap en toe ek in die kombuis kom gaan hy aan die vlieg. En het jy al 'n duif probeer oortuig om uit te loop, soos hy ingeloop het, as hy bang is en net wil vlieg??!!

Ek het hom soos 'n steeks perdeby probeer uitlei met 'n buislig gloeilamp wat rondstaan ("random", ek weet, maar dit was nader as die besem), maar 'n duif wat bang is en kan vlieg word nie deur 'n stok gelei nie. Toe dink ek: dan sal ek hom maar moet rondjaag, dat hy homself moeg vlieg (en seker die huis bemors) en dan 'n handoek oor hom gooi en hom vang. Zelé het gemeen hy soek kossies en ek het ook 'n hansie-en-grietjie-saadjies-tot-buite-opsie oorweeg...

En dis toe ek die verband trek tussen ons mense en 'n duif: soveel keer beland ons in slegte en ongemaklike en selfs gevaarlike situasies, omdat ons ons eie kop volg. En dan, wanneer ons besef ons is in die moeilikheid, maar dat God ons kan en wil help, dan vlieg ons! Nie goed-vlieg nie maar sleg-vlieg! Heeltyd wég van Hom af. En dan gebeur dit meesal dat ons eers onsself moet moeg vlieg... teen die grond... op ons knieë, voordat Hy Sy liefdevolle arms om ons kan sit en ons na vryheid kan help. Vryheid en VREDE! Ware vrede, wat alle verstand te bowe gaan, soos Sy Woord belowe. (Selfs die metafoor: dat ons in die gespartel en gevlieg die hele plek om ons bemors is waar...)

Dan kan ons maar net bid: om gehoorsaam te wees van die begin af en nie in situasies te beland waar ons onsself en mense kan seermaak nie... en as ons wel daarin beland, soos maar menslik is, dat ons sal afgee... opgee en ingee... vìnnig... teenoor die Een Wie se sagte hande altyd om ons wil wees.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...