...soos 'n Koning Rooibekkie...
Hierdie is 'n foto van 'n Koning Rooibekkie ("Pin-tailed Whydah", vir die wat in Ingels voëls kyk)... en soos mens duidelik op die foto kan sien is hy 'n bakleier. Hy duld nie ander voëls in dít wat hy voel sý gebied is nie (dalk is die foto van 'n mannetjie, wat 'n wyfie probeer verlei ek weet nou nie, want ek is nie so goed met die identifisering nie en die arme vroutjies in die voëlkoninkryk trek mos maar aan die kortste ent wat "looks" betref)... inelkgeval... die Koning Rooibekkie herhinner my aan 'n Jack Russell hondjie, wat dink hy is 'n Doberman en wat al wat hond is aanvat, selfs al is hul twee maal sy grootte. So sal die Koning Rooibekkie ook nie skroom om die duiwe weg te jaag, wat BAIE groter as hy is nie. En die duiwe skrik, hoor! Maar daar is ook ander voëls, wat hulle nie steur aan die lawaaierige voël, met sy lang stert nie, soos die Lysters... en hul eet lustig/rustig voort.
Wat interessant is van die Koning Rooibekkie, is dat hy nie die lang stert het, totdat hy die dominante mannetjie is nie. Hulle is heel besadig en op hul plek by die kosbak, totdat hy agterkom hy is die enigste/oudste/sterkste (net hulle weet hoe dit werk) mannetjie en dan kry hy hierdie pierewaaier stert en houding aan hom en dan hoor mens hom van veeeeeer aankom soos hy die ander voëls wegjaag.
Gister sit ek so en kyk na die Koning Rooibekkie wat tans 'n skrikbewind voer in ons tuin, en dink: ons mense is darem maar baie dieselfde... Bo in die boom hang 'n voerhuisie, waarin Dewald saad gegooi het vir die (gewone) Frette ("Bronze Mannikin") en ander saadvreters om te kom eet, maar die Koning Rooibekkie het almal weggejaag en dié sit nou onder op die grond en eet die saadjies, wat afgeval het in die malle gevlieg van sy dominansie... Maar hy sit rég onder die voerhuisie en nou is die kleine Frets ook nie dom nie, hulle vlieg doodstil na die voerhuisie toe en eet tog te lekker die "vars" saadjies, terwyl die Koning Rooibekkie omtrent sy nek omdraai om seker te maak dat geen ander voels naby "sy" saadjies kom nie.
Dis mos hoe ons ook is: wanneer ons 'n opinie en of mening het, wat ons met hand-en-tand beveg, dan maak ons "skoon" om ons, wat betref ander se argumente, idees en opinies. Ons is só seker dat ons reg is en dat ons die regte ding doen, dat ons nie gefokus kry op enige iets anders nie, want ons is te wild besig om rond te kyk om te sien wie volgende ons gaan kom uitdaag of dalk 'n bedreiging kan wees vir ons vredevolle bestaan - asof die ge-"blur"de rondkyk vredevol is. Maar in tussentyd is die ware vrede en "skoon kos" reg bo ons koppe, besig om opgeëet te word, deur dié wat wys genoeg was om te weet dat ons nie reg bo ons kan sien as ons ons eie geraas veroorsaak met heen-en-weer kyk nie. Want is dit nie maar altyd ons probleem: die geraas wat ons vir onsself veroorsaak nie? Met "vertikale" stresse, met kop-af-aandag-aftrekkers soos dagboeke, selfone, laptops en iPads?
Dankie tog vir die Lysters in ons lewens, wat ons herhinner dat ons nie die dominansie het wat ons op reken nie, dat ons nie alleenreg het tot ons opinies en idees nie, dat daar ander is wat nie gaan terugveg nie, maar ook nie opsy gaan staan sodat ons rondom ons kan skoon maak nie, want op die ou einde, as die Koning Rooibekkie ophou rondkyk sal hy/sy besef dat hy stoksiel alleen is... en watse vreugde is daarin om 'n oorwinning alleen te vier? Watse vreugde is daarin om alleen te eet?
Psalm 62:6
"Ek het vir myself gesê: Word stil en rustig by die Here. Om by Hom te wees gee vir my hoop. Ek vertrou Hom. Hy beskerm en red my."
Mag hierdie Feestyd vir ons elkeen 'n stil-word-tyd inlyf... mag ons stil word saam ons geliefdes en mekaar geniet... die saam-wees geniet... die kos geniet... en saam beplan en uitsien en bid vir 2019, mag ons soos die Fret wees, wat by die "Boonste Bak" ons voedsel kry en mag ons soos die Lyster wees, wat ons nie steur aan 'n vals bravade in ons lewens, as dit nie deur God bevestig is nie. En as dit moet, as ons tog die Koning Rooibekkie geword het, mag die Here ons stertvere uittrek, sodat ons dominansie alleen in Sy hand en in Sy wil sal wees, sodat ons outoriteit deur Hom bevestig sal word en ons vredevol grense kan verskuif vìr Hom en tot Sy eer.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking