Die identiteit stryd...


Een oggend gesels ek en 'n hartsvriendin so tussen-deur haar gym sessie oor die dinge wat pla, die dinge wat frustreer en irriteer en bekommer. Sy is 'n Ma van 3 laerskool seuns met 'n man wat sy eie besigheid en boerdery het en uit 'n familie kom wat sport-mal is, so sy is besig! Verder het sy ook 'n "A-tipe" persoonlikheid, soos sy dit noem, en dis eintlik maar net 'n lettertjie vir iemand wat perfeksionisties is en hou van detail. Wat wonderlik is vir haar man en seuns en mense, maar nogal erge druk op haarself sit, want daar is net sòveel ure in 'n dag, mens kan net sò vinnig van Witrivier af Nelspruit toe ry en daar is net sòveel detail, wat jyself kan doen, en daarna het jy òf hulp nodig (dié tipe persoonlikheid vra ook nie maklik vir hulp nie), òf jy moet, tot jou eie frustrasie dit net los... En ek kry hierdie openbaring, terwyl ons gesels, wat ek voel ek moet neerpen voordat dit verdwyn, 'n openbaring oor die vrou se identiteit stryd...


Ek het al baie maal gehoor van vrouens wie se kinders uit die huis is en dan skielik kry hulle "leë nes sindroom". Hulle weet nie wat om met hulleself te doen nie, want hulle roetine en verantwoordelikhede het skielik totaal verander. Nou het hulle weer tyd vir hulleself, om die dinge te doen waarvan hulle hou en wat hul nou vir 18+ jaar afgeskeep het en nie kon doen nie en dan kom die besef: "Ek weet nie meer wat ek van hou nie?! Ek weet nie meer wie ek is nie?! Ek het 'n identiteit stryd!?"


Want sien, ons vrouens word groot as dogters en susters in huise met 'n spesifieke dinamika, afhangend van of daar ander kinders is en hoeveel julle verskil en hoe betrokke en teenwoordig die Pa en Ma is en... en.... Dis 'n unieke dinamika met unieke verhoudings, vreugdes, uitdagings en frustrasies. En in daardie dinamika is jou Ma... en daar is dinge van jou Ma wat jy mal oor is en daar is dinge van jou Ma wat jou mal maak. Daardie dinge wat jy dink "ek sal dit nooit doen en/of sê nie vir of met my man en/of kinders nie..." En dan gaan ons uit die huis uit en het ons eie unieke leerskool en ons leer ander mense ken, wat uit ander unieke verhoudings en gesinne kom en as ons gelukkig is dan raak ons lief vir een van daardie mense en hy raak op dieselfde tyd lief vir jou en julle trou en begin jul eie unieke en spesifieke dinamika.


En daardie man het ook 'n Ma... jou skoonma! Iemand wat jy leer ken, soos jy haar seun leer ken, en daar is dinge van haar wat jy oor mal is en daar is dinge van haar wat jou mal maak, en jy dink: "...hy moenie dink dit gaan so werk en of ek gaan dit doen in ons huis nie..." 


En dan... as julle geseënd is met kinders, dan word jy 'n Ma. En skielik, eendag... tref dit jou: jy is net soos jou Ma! Daardie dinge wat jou mal gemaak het, wat jy jouself voorgeneem het jy nie gaan doen of sê nie... 90% van daardie dinge doen en sê jy nét so! En jy leef saam jou man en jy besef hy is ook net soos sy Ma (en soos sy Pa!!) Daardie dinge wat jy jouself voorgeneem het jy nie gaan toelaat in jou huis nie... 95% van dit gebeur nét so in julle huis! En jy stry! Jy stry met jou kinders en jou man en jy stry meeste van alles met jouself, want dis nie wie jy is nie, dis nie wie jy wil wees nie en dis nie jou identiteit nie! En hoe meer jy daarop fokus, hoe meer kla die vyand jou aan dat jy jouself verloor het, dat jy nie meer 'n identiteit het nie, dat jy nooit weer 'n identiteit gaan hê nie en dat jy vir altyd en ewig gaan moet stry en baklei teen dít wat jy nie wil wees nie en dit wat jy nie wil hê nie. En so glo jy al meer die leuen en word al minder jouself, wanneer Jesus so duidelik vir ons gesê het in Sy Woord:

"Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek! Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree. Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here. (Romeine 8:33-35, 37-39 AFR20)


Liewe vrou. Moenie die leuen glo nie! Jy is uitverkies en uniek. Jy is vrygrspreek, vergewe en verlos! Ja, jy is nie perfek nie. Ja, jy moet aanhou groei en ontwikkel en ja die lewe is vol uitdagings en "curve balls", maar jy het 'n identiteit! Jy is God se kind en Hy het jou tot die dood toe (en die wederopstanding) lief! 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...