Ten spyte van... In spite of...
T.S.V.
Hierdie afkorting het ek al soveel keer in die afgelope jaar+ gebruik, in bemoedigende Whatsapps vir myself en vriendinne. Want as jy "40-something"" is, dan het die lewe jou al 'n paar klappe gegee. Sommige klap-merke gaan weg, maar sommiges bly, soos daardie kruis wat ons moet opneem en dra, is daar dinge wat net aanhou om ons uit te daag: sommige dae meer en sommiges minder. Nie dat die kruis weggaan of kleiner word nie, sommige dae voel ons maar net sterker en ander dae weeg die kruis 'n ton en kruip ons aan teen 'n slakkepas... ten spyte van!
Ten spyte van jou kanker...
Ten spyte van jou breinbeseerde, sosiaal uitgedaagde, disleksiese, gestremde kind...
Ten spyte van jou groot verlang...
Ten spyte van jou finansiële uitdagings...
Ten spyte van jou outo-immuunsiekte...
Ten spyte van...
Dan laat dink dit my aan Habbakuk se skrywer wat die ander groot word gebruik
NOGTANS!
Nogtans, sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my redder!
Deur ons, ten spyte van, kan ons fokus weggetrek word na 'n Soewereine God. Ek hou van die woord Soewerein want dit is 3 woorde in een:
Almagtig...
Alomteenwoordig...
Alwetend...
Watter woord het jy nou die nodigste in jou, ten spyte van, reis?
Het jy nodig om te onthou dat Hy almagtig is, dat Hy mag het oor die dood en die lewe, dat hy mag het oor die wêreldse ekonomie. Dat Hy steeds wonderwerke doen, élke dag? Wil jy Sy mag beleef en voel in jou moedelose omstandighede? Sal jy soos Moses in 'n klipskeur wegkruip en moed hê om Sy grootheid te beleef wanneer Hy by jou verby beweeg? Sal jy onthou dat wanneer ons swak is, is Hy sterk?
Of moet jy onthou dat Hy alomteenwoordig is, by jou... by jou kind... en jou man of vrou... by jou Ma en Pa en Boeties en Sussies. Die, hier by jou, die daar vêr oor die see, die by die werk... by die skool, in die hospitaal, terwyl chemoterapie deur hul are pols of 'n sjirurg 'n delikate operasie uitvoer. Hy is daar! Hy is teenwoordig! Hy sluimer of slaap nie!
Of gaan jou hart dalk rustiger raak as jy besef dat Hy alwetend is. Hy weet wanneer jy gaan sterf, hy weet wanneer jou geliefdes gaan sterf, en niemand kan een sekonde daarby voeg om hom daaroor te bekommer nie. Hy weet waar jou perfekte werk is, Hy weet dat jy geld nodig het, 'n konstante stroom om in hierdie wêreld te kan leef en oorleef, maar Hy weet ook presies wanneer en hoe Hy dit moet stuur en presies wat regtig nodig is en wat nie. Hy weet dat jy sukkel, Hy weet dat jy twyfel, Hy weet dat jou geloof klein is. Hy weet, en Hy het jou lief, ten spyte van! Hy het jou nie net lief nie, Hy IS LIEFDE!
Aan die begin van die jaar is ek tussen die oë geslaan met hierdie pragtige vertaling van Matt.11:28 in Die Boodskap se engelse boetie: "Learn the unforced rhythms of grace..." Elke woord het vir my diep betekenis gehad toe ek dit lees en die hart-prentjie daarvan maak.
Leer... om te leer is nie lekker nie... om te leer is nie maklik nie, om te leer vat tyd!
Ongedwonge...nie-geforseerd... dit is steeds daardie geduld-aspek, daardie oorgee aspek. Maar ook eie wil, vrye wil: vir ons mense en vir ons mense se mense. Moenie jouself dwing nie, moenie jou geliefdes dwing nie, laat dit nie geforseer word nie! Gee kans!
Ritme... 'n op en 'n af, 'n eb en 'n vloei, 'n nag en 'n dag, 'n somer en 'n winter... dit gaan nie altyd maklik wees nie, dit gaan wel soms maklik wees. Jy gaan nie altyd klim nie, jy gaan ook soms "free", maar dit gaan verander, aanhoudend!
Genade!
Verstaan ons mense regtig genade?! Dit wat ons Jesus aan die kruis laat sterf... dit wat 'n verdiende sondaar vryspreek en 'n ewige lewe gee. Genade klink soos geskenk: dis iets wat jy nie verdien nie... dis iets wat jy nie verwag nie: dis 'n onverdiende verrassing, 'n bos blomme as jy by die huis kom, 'n druk wanneer jy dit die nodigste het, maar ook soveel meer, soveel groter en soveel meer gereeld.
Ten spyte van... mag jy 'n heerlike dag en naweek en week en jaar verder hê!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking