Dertien jaar...

 ... dis hoe oud julle vandag is.


Elke verjaarsdag is 'n viering van mylpale, sommiges bewustelik en sommiges onbewustelik. Op jou eerste verjaarsdag was dit nog oraait dat jy nie kon loop nie, want jou tweeling boetie kon ook nog nie loop nie. Met jou tweede verjaarsdag het ons al staan-kroek vir foto's goed onder die knie gehad - "pardon the pun", soos die engelse sê. Onbewustelik het ek, soos elke verjaarsdag nader gekom het asem opgehou en harder gebid en sagter geglo, dat jy met jou derde verjaarsdag sal loop... dat jy met jou vierde verjaarsdag sal loop...


Later het ek begin vrede maak dat die "loop" tien-teen-een nooit onafhanklik gaan wees nie, maar wie gee om hoe jy loop, solank jy net loop??!! Of dit nou met behulp van 'n loopraam of krukke is. 

jy!

moet!

net!

loop!


Nog later het ek besef dat die saam-wees belangriker is as die loop. En ek het daarop probeer fokus, maar met elke verjaarsdag was daar 'n deel van my wat steeds na daardie mylpaal gehunker het, wat kop onderstebo gewag het dat die engel die water roer, sodat ek jou vinnig genoeg daar kan insit, sodat hierdie alledaagse voorreg ook vir jou beskore sal wees.


En vandag is jy 13 jaar oud. Jy kan nogsteeds nie loop nie, jy kan ook nie staan nie... maar ironies genoeg het jy gister jou splinternuwe, "personalised" AFO's met die pers "inners" en die roomys en unicorn-stickers op, vir die eerste keer aangepas... met die splinternuwe, spierwit tekkies met pienk rosies op, nommer 5, sodat die groot AFO's daarin kan pas. 


Die belofte van staan en loop was weer terug... dalk eendag... dalk met jou 14de verjaarsdag?!

As ons jou brein kan kondisioneer om die AFO's te "voel" en nie oorweldig te voel nie.

As ons jou kan oortuig dat dit jou regtig gaan help en jou regtig nie seermaak nie.

As ons die tyd kan kry in die seisoen waarin jy is, die seisoen waarin ons is, om dit aan te trek en uit te trek en bietjie langer aan te trek en weer uit te trek en nog bietjie langer aan te trek en weer uit te trek en jou dalk te leer om dit self aan te trek en weer uit te trek... totdat dit so deel van ons roetine raak, soos die rolstoel opslaan en afslaan en opslaan en afslaan en opslaan en afslaan...

En dan dink ek aan my Universiteitsvriend se wyse woorde in 'n Whatsapp gesprek oor daardie einste AFO's en 'n gedeelde video van 'n getraumatiseerde dogtertjie wat huil: "Shame man. Ek wonder watter emosie(s) haar so laat huil. 

Dink jy frustrasie, 

vernedering, 

vrees? 

Teleurstelling dat dit nie dadelik werk soos sy gehoop het nie? Hartseer omdat sy nie net vir een keer normaal kan voel nie? Ek dink nie mense kan verstaan nie. Niemand kan 'n myl in haar stoel ry by die skool en badkamer toe gaan met ander se hulp en daardie braces dra met bene wat nog nooit kon loop nie. Mense wat dink hulle verstaan is arrogant. 

Zelé is 'n lewende getuienis van God se genade, 

onvoorwaardelike liefde, 

ondersteuning. 

Sy empatie en julle volharding. Ook alledaagse mense se goedheid agter harde maskers. DIS GROTER AS 'N KIND WAT CRAVENWEEK RUGBY SPEEL.

Sy mag huil - dis nie maklik nie en sy is oud genoeg om te besef dit gaan nooit maklik wees nie. Niemand anders kan haar stryd verstaan soos sy nie. En niemand anders kan hom baklei nie.

Dis soms 'n eensame plek dink ek."


My liewe beter-as-Cravenweek-kind. Mag jy altyd beleef dat jy in jou grootste frustrasie en hartseer en twyfel en selfbejammering God in jou sal voel. Mag jy self sien dat Hy die Een is wat jou leer. (En) wanneer jy die regte koers verlaat, (dat jy) agter jou 'n stem (sal) hoor sê: "Hier is die pad, loop hierlangs" (Jes. 30:20b & 21). En dat jy sal loop... nie net met jou voete nie maar met jou hart en met jou gees. Dat jy sal hardloop agter die Een aan wat jou vooruit sal gaan, wat by jou sal wees, wat jou nooit in die steek sal laat nie en jou nie alleen sal laat nie. Dat jy nie sal bang wees nie en nie sal skrik nie. (Deut. 31:8)... en dit is ook my gebed vir jou, liefste Demar. Staatmaker... jy wat elke dag ook ekstra uitgedaag word. Jy wat eerlik my in die oë kyk wanneer ek jou vra oor 'n waterpartytjie saam jou sussie en kan sê: "Sy kan saamkom, maar ek gaan haar nie dra nie en ek gaan haar nie help nie, want ek wil saam my maats speel". Hoe goed ken ek nie daardie selfsug, of is dit self-versorging... en dan in daardie selfde asem sê jy vir my: ""...ek is nie skaam dat sy in 'n rolstoel is nie, Mamma... ek wil net daardie een dag net met my maats speel... 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...