Vakansie maak vet!
Dit moet dit wees, want ek is nou net ‘n week met vakansie en ek is klaar vetter! Dalk is dit die…
Vleis?
Dit is
eintlik al wat ek meer van eet as dit vakansie is. Braaivleis en Skaapboud en
Biltong, maar vleis is mos proteïene en is mos nie eintlik veronderstel om vet te
maak nie, maar dit moet dit wees!
Afskakel?
Dis wat ek
doen as ek op vakansie is. Ek weet nie eers watter dag van die week dit is nie,
ek laat die kinders begaan met hulle ge-TV kyk en het defnitief ook meer geduld
met hulle. Ek worry ook nie as die kombuis nie silwerskoon is nie – dis mos
waarom die Opwaskamer ‘n deur het en ek 'n skottelgoedwasser het, maar ongelukkig kan mens mos nou nie alles in die skottelgoedwasser pak nie. Maar ek stres nie daaroor nie en alles is net meer ontspanne. Ek sweer dit
maak vet?!
Kersfees?
Kersfees
moet vet maak: dalk die kerskoek, wat nou al 3 maande terug gebak is en lekker
gedoop is in die brandewyn - dalk tel die maandelikse kalorieë op? Maar ons het vandag vir die eerste keer daarvan
geëet?! Kan dit so vinnig vet maak? Ons het gister vir ure in die winkels
rondgeloop en kersinkopies gedoen en kersbome gekyk en liggies... dit is mos nie veronderstel om vet te maak nie, maar ek is séker
dis daarna wat ek nou regtig begin “dik” voel het.
Alkohol!
Maar nie
eers baie nie… ons drink net elke aand ‘n ou wyntjie of dalk ‘n G&T, as
daar is. Ook net enetjie, want almal weet mos ek is “goedkoop en maklik”…
goedkoop om voor drank te koop – want ek drink net 1 drankie, dan het ek genoeg
gehad en maklik om oor die weg mee te kom!
Netflix!
Dit moet
die oorsaak wees van die skielike vet-gevoel! Want nou kan ek mos darem bietjie
fliek! Ou flieks, nuwe flieks, reekse (tans is Friends, Big Bang Theory en
Prison Break deel van die lys wat opkom wanneer ek my profiel oopmaak. Ja, ek en
Dewald het uiteindelik Prison Break ontdek!). En wie kan nou ‘n “soppy”,
romantiese Kersfeesfliek weerstaan as jy nou regtig in die 'krismis spirit' wil kom!
Sosiale
Media!
Dit! Maak!
Vet! Ek dink die kos wat jy daarop kyk, selfs die oefen-hacks en haar-hacks en
funny fails! Dit moet vet maak, want dis eintlik maar al wat ek bietjie meer tyd
aan spandeer as dit vakansie is. En ek self het al ‘n paar oulike reels gemaak op Instagram en foto’s gedeel op Facebook. Dit maak sekerlik vet, want dis al wat ek aan kan dink wat ek meer van doen, wat my klere
reeds knapper kan laat sit!
Inlê… In
die bed!
Bietjie
wakker word sonder ‘n alarm en dan weer bietjie inkruip en dalk nog bietjie slaap.
Dit dra verseker by tot die vet-gevoel. Maar dis mos wat mens doen op vakansie!
Want jinne die hele jaar is dit een dol gejaag van die een plek na die ander.
Selfs die “lekker” goed moet mens voor alarms stel en na toe jaag! Nee jinne,
dis sekerlik dan wat mens help in jou klere pas, al maak dit ons moeg en put ons
uit?!
Eiers!
Ek dink dis
eintlik die ding wat ons versigtig voor moet wees op vakansie! En dis defnitief
waar ek nou al my vet gaan staan en optel het! Nie net daardie rituele “bacon
en eiers" tuisgemaakte brunch en/of Wimpy en/of Spur ontbyt nie, maar eerder die
weggesteekte eiers! Die wat in die koek gebruik word, die sjokoladekoek en die
wortelkoek en die rooi fluweel koek en daardie stukkie koek wat mens by Mugg &
Bean deel as jy jou vriendin uiteindelik te siene kry, en darem maar ietsie
lekkers kan eet, want julle verdien dit na die vreeslike jaar. Deel help nie
eers as dit vakansie is nie! En daardie eiers wat hulle in die regte-egte
lekkerste mayonnaise gebruik, wat jy broccoli slaai en aartappelslaai en
tunaslaai en watookal mens met lekker mayonnaise maak, mee maak! En pasta! Ek is
seker hulle gebruik eiers om pasta ook te maak? En pastei deeg – kry dit nie
ook eiers in nie? Ek is seker die lekker pastei-deeg het eiers in?
Ja-nee… dis
nou maar een ding wat nie twee is nie: vakansie maak vet! Dit moet ons nou maar
net aanvaar! Maar darem word ons ook vol van samesyn en seëninge tel en onsself
herlaai en dinge gedoen kry wat ons nooit doen, sodat die nuwe jaar meer georden
en reggepak en weggepak en vol goeie voornemens en planne en kreatiewe idees
begin kan word.
En dan moet
jy maar net van voor af weer maer word!
Moet net
nie vir jou groter klere koop nie – dis wat my Ma altyd sê, want as jy eers vir
jou groter klere gaan koop dis dan wat jy die stryd gaan verloor! Kyk, vandag
se klere rek inelkgeval baie meer as die van 40 jaar terug, so laat dit maar bietjie
rek! Trek vir nou eers die aan wat meer kan rek, of daardie paar wat jy een keer gekoop het en jy nou as jou "fat pants" sien as dit "daardie tyd van die maand" is en jy jouself toestemming gee om gemaklik te voel... en maak maar die belt een gaatjie verder
vas, maar laat dit jou maar herhinner dat die vakansie verby is en jy nou weer
moet ophou met die V-A-K-A-N-S-I-E-dinge!
Maar vir
nou hou ek vakansie tot die sesde Januarie… en weet dis dit wat vet maak! Niks anders nie!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking