...dankie...
"Hoe sê mens dankie...
Na soveel jare.
Hoe sê mens dankie...
Al is dit laat
Ek sal my ouers nooit ooit vergeet nie
Vir wie ek lief is... vir goed onthou.
Hoe vergeet mens die swaar en die seerkry?
Deur te dink aan die goeie wat was!
Daar is soveel wat leef in gedagtes,
In hul fotos wat lê in die kas
Kyk 'n slag rondom jou na die lewe
Jy sal sien almal jaag net verby
Gaan nou terug na 'n goue verlede
Gaan vind weer jou vrede
Jou anker...
Jou rede...
En jy sal wel sien hoe die wiel vir jou draai."
Nou ja... as ek 'n blog met 'n Jurie Els liedjie begin, wonder jy dalk of my blog ge-hack is, maar dis die refrein in my kop die afgelope paar dae: "...hoe sê mens dankie?!" Soos die jaar op 'n einde kom en die skool sluit en die praktyke toemaak en ek orals totsiens sê en dankie daarmee saam, besef ek net weer wat 'n eenvoudig-komplekse woord dit is.
Soms sê mens mos dankie uit gewoonte, omdat jy goed opgevoed is en jou Ma dit in jou kop ingedril het (ek weet... ék is nou daardie Ma: sê dankie vir die tannie... hoe sê mens as jy iets kry... ek hoor niks?!). En soms, omdat jy weet jy moet en dat dit die gepaste ding is om te sê, maar daar is nie veel hart daaragter nie. Maar soms...
Soms word jy gedwing om stil te word, wanneer iets só mooi is en iets só spesiaal is en só diep, dat niks anders as 'n "dankie" gegee kan word nie. En dan wens ek dat daar 'n ander woord was, as dankie. Dat ons soos op 'n Whatsapp 'n sterretjie voor en agter die woord kan sit, sodat dit in BOLD uitkom, sodat die persoon ook stil word en regtig besef wat jy voel wanneer jy vir hulle dankie sê... dankie!
'n Vriendin het hierdie jaar vir my die allervreeslikste moeite gedoen: sy het van haar werk af gery om te gaan kyk of my kar, wat toe al 2 dae nie ry nie en in 'n winkelsentrum parkering staan, se bande gesaboteer is of net afgeblaas is... net die feit dat sy my angstigheid ingesien het en die moeite gedoen het om die angs so kort moontlik te maak, nadat ek die nuus gekry het dat al vier my kar se bande pap is, is só groot dankie werd. Maar dis nie waar sy gestop het nie, toe het sy verder gegaan en van die manne wat saam haar werk gaan haal en elkeen van daardie bande een-vir-een afgehaal en laat oppomp en toe weer laat terugsit! Hoe sê mens dankie? Wat is die manier wat jy die woord kan laat ego, sodat sy weet hoe jou hart régtig voel en hoe dankbaar jy werklik is vir haar moeite en insig en simpatie en empatie en liefde? Daarvoor sê ek dankie!
Dan is daar Zelé se Arbeidsterapeut: wat elke week na ons huis toe kom en vir 'n kwaliteit-uur met haar werk, op watter gebied daar ookal aandag en leiding gegee moet word. Wat videos maak en stuur en foto's neem en websites deel oor wat hulle maak en altyd so verskriklik positief is en so rustig is, met Demar wat wil deel wees van die sessies en soos 'n warrelwind (ongeduldige warrelwind) Zelé help waar sy dit self moet doen of die antwoord gee, terwyl dit juis die doel van die oefening was vir haar. Maar dis nie waar sy stop nie, as die skool raad en leiding nodig het oor 'n doelwit of 'n beweging of posisie, dan kan ons haar nie net enige tyd vra nie, sy doen moeite om skool toe te gaan en "agter die kap van die byl" te kom en praktiese raad te gee: "hands on" al die pad! En wanneer ek moedeloos is en bemoediging nodig het kan ek haar Whatsapp en weet sy het wysheid en insig en ondervinding en kan bid, want soms is dit al wat ons vir mekaar kan doen. Wanneer die PMB-sessies vir die jaar op is, vul sy die vorms in en skryf 'n gedetaileerde verslag sodat ons vir nóg kan aansoek doen en as die mediese fonds hardkoppig is en nie wil toestaan, dan doen sy moeite om te "appeal" met nóg vorms en nóg verslae. Hoe sê mens vir haar dankie vir die insae: fisies, geestelik en emosioneel wat sy in my kind se lewe het en in my lewe bring? Daarvoor sê ek dankie!
En soms staan ek in die oggend op en stap met my kaalvoete kombuis toe... ek is bewus van die koue teëls onder my voete en die feit dat ek kan loop (sonder moeite kan loop ook). Ek maak die blindings oop en sien die prieël, wat besig is om vol trosse druiwe te raak. Ek maak koffie en raak bewus van die reuk van vars koffie en let die druppels dou, op die half-deurskynende druiweblare op. Ek stap uit om vars kruie vir ons omelet te kry en voel die nat gras... ek beleef 'n vrede in my, wat Jesus belowe ons elke dag kan kry as ons in Hom bly en Hy in ons en ek is dankbaar... daarvoor sê ek dankie!
Waarvoor sê jy dankie?
Mag hierdie tyd jou laat stilstaan om te besef dat daar wel soveel is om voor dankie te sê en mag jy tye kry waar jy, soos ek, nie anders kan as om 'n behoefte te kry vir 'n ander woord as dankie nie. 'n Woord wat meer in detail jou dankbaarheid kan saamvat. Mag jy mense hê vir wie jy wil dankie sê en dat jy ook die kans sal kry om dit te doen. Want... soos die voorreg om vir iemand te sê jy is lief vir hulle verby gaan, so gaan ook die kans om daardie spesiale dankie te sê. Sê dit! Doen dit! Dankie!

Opmerkings
Plaas 'n opmerking