...in ń ander liga...
...dis nou waarmee ek gedink het om die engelse gesegde: "in a different league" te vertaal. Want sien, deur my lewe was daar nog min wat ek gevoel het mense is "in ń ander liga" as ek. (Nie omdat ek wintie is nie, net omdat ek nog altyd gevoel het ek is aanpasbaar en sensitief, ingestel op mense)... Maar soos ek ouer word (en hopelik darem wyser ook) en al meer mense leer ken (en dalk ook groei in my onderskeidingsvermoë), besef ek al meer hoeveel mense in ń ander liga as ek is! (Dan is daar ook natuurlik die mense wat my pad kruis wat in ń liga van hul eie is - "in a league of their own", maar dis ń blog op sy eie!)
Soms is dit fisies: ń vrou wat (soms is sy baie jonger as ek, soms is sy amper net so oud, of ouer as ek), wat net absoluut uitsonderlik sterk en/of begaafd of albei is. Dis een van die dinge wat ek soveel van CrossFit geniet: om oopmond te staan en kyk waartoe die menslike (néé vroulike liggaam) in staat is met oefening en vermoëns en genetika! En dan wil ek ook so wees en dit motiveer my en maak my dankbaar vir wat ek na kan streef en wat ekself kan doen.
En dan is daar die tye, wat hierdie week opgelewer het: waar ń vriendin SO swaar kry en só "af" is dat ek besef dat sy buite my liga is. Ek kan haar nie ondersteun nie, ek weet nie eers wat om vir haar te bid nie, want haar vlak van seer en moedeloosheid en teleurstelling in die lewe dwing haar om totaal te onttrek en glad nie te kan deel nie. As ek sê dat ek nie empatie met haar het nie, maar wel simpatie, is dit omdat ek (volgens definisie) my glád nie in haar skoene kan plaas nie.
Selfsugtig bid ek dan dat ekself nooit so laagtepunt sal bereik nie en as dit wel gebeur, dat die Here mense in my lewe sal anker, wat sal aanhou bid, aanhou ondersteun, aanhou dáár wees, totdat Hy my uit die put gelig het en my voete weer op vaste grond sit.
"Jesus, Lover of my soul. Jesus, I will never let You go. You've taken me: from the miry clay. Set my feet upon the Rock and now I know: I love You, I need You. Though my world may fall I'll never let You go. My Saviour, my closest Friend. I will worship You until the very end..."
(Hillsongs United)
Opmerkings
Plaas 'n opmerking