Einde-van-die-jaar-openbarings...




Kyk, daar is mos net een tyd soos dié tyd van die jaar: einde-van-die-jaar... daar is net één so moeg: sielsmoeg, uitgeput, opgebruik, totaal oorweldig, moedeloos, onherstelbaar verby... dit klink vreeslik maar dis die realiteit wat ek in my praktyk en in my vriendekring ervaar: beserings wat onverklaarbaar is en onverklaarbaar hardnekkig blý, sonder om beter te word en sonder om te vererger... dis só dat jy kan leef, maar nie voluit kan leef en eers wanneer jy jou lyf EN siel gerus het, sal jy herken (en kan erken) dat dit jou lewenskwaliteit met 40% verminder het en nie net met 10% soos wat jy jouself die heeltyd verseker het nie. Aan die een kant word die tyd al hoe minder: om projekte af te handel, om Kersfees toe te tel, maar ook word dinge stadiget: soos dit afsluit en klaarmaak... soms tot volgende jaar en soms vir ewig. Dus kry jy méér tyd om te doen of te dink of te murmereer... as jy dit vat?

So het ek hierdie jaar ń paar tawwe (erge anglisisme maar "moeilik" beskryf dit net nie akkuraat nie) lesse geleer in ń paar belangrike verhoudings, wat soos-ń-disprin opgelos het... uitgefizzel het. Gereelde kontak het al minder en minder geword of sommer net kru en brutaal opgehou. Eers het ek dit probeer ignoreer... toe was ek bekommerd en toe het my oorsensitiwiteit ingeskop (asook my aktiewe verbeelding) en moes ek myself keer om nie te oorreageer en oorboord te gaan met die vrae en omgee ("too much love can kill you", sê die liedjie mos!) Soms was dit a.g.v. omstandighede: soos ń selfoon wat skielik breek en laaaaank vat om reg gemaak te word, soms was dit a.g.v. ń siekte wat van die een huislid na die volgende versprei en dan uiteindelik tref die som die Ma en is sy vir 2 weke buite aksie, terwyl sy steeds moet Ma-wees en vrou-wees en werk!

Maar elke keer het ek weer besef dat kwaliteit tyd ń liefdestaal is... en dat dit nie net gegee word op "date night" of vriendinne-koffiedrink-sessies maar ook oor Whatsapp: voicenotes, reply, opbouende more-sê prentjies of ń grap deel op die regte tyd. Ek is lankal nie meer in die stadium van my lewe wat ek ń vriendin kwalik neem wat nie reply nie of wat 3 dae vat om te reply, behalwe as dit dringend was, my MAGTAG jy kan mos sien dis dringend! Hahaha! Maar...

Ek hét besef die mag wat kommunikasie het in ń vriendskap: hoe minder jy met my kommunikeer, hoe minder selfvertroue het ek om jou vriend/vriendin te wees, om jou te ondersteun, om jou klankbord te wees, om my eerlike (lewenswyse en weldeurdenkte...soms) opinie en raad te gee. Want ek weet al mìnder wat in jou hart en lewe aangaan en al bly sekere dinge dieselfde, kan ek nie ń betekenisvolle, diep vriendin wees as ek nie toegang het tot jou en die nuus in jou lewe nie: dis nie net die klein jakkalsies wat die wingerd verniel maar ook dit wat die blomtuin mooi maak. Dalk is dít die grootste probleem met digitale verhoudings deesdae: selfs al deel ons ons harte via Facebook, Whatsapp en instagram... as ek nie in jou oë kon kyk of die intonasie van jou stem kon hoor en proe en meet nie, kan ek nie werklik oordeel of deel of ondersteun nie. Ek koop sommer ń R100 Pep foon en begin net bel weer...




Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...