Veels geluk, liewe maatjie...


More verjaar ek... ek is nege-en-dertig jaar oud! Kyk hierdie cool masjien-foto v my & my Ma & Pa, wat ek in my baba foto-album kry. Nadat my Ma oor die skok gekom het van haar "honeymoon"-baba het sy, tipiese 1ste kind, báie moeite gedoen met foto's & foto-albums & ek is so dankbaar daarvoor.

Ek dink aan ander verjaarsdae, spesifiekes wat ek kan onthou, maar ook oor die algemeen. Ons het altyd partytjies gehad, mét ñ koek... vandat ek kan onthou was dit ñ roomyskoek, wat die dag voor die tyd in Gezina gaan haal is & in die coolste-in-die-wêreld droeë ys verpak was. Ek onthou ook dat baie van die partytjies swembad-partytjies was.

Hier is ek by een van my ballerina-roomyskoeke. Kyk die oulike boksies met eetgoed vir al die maatjies!

Ek onthou ook my 16de verjaarsdag was ñ "chinese braai" gewees, by ons swembad. Ek onthou dit was ñ verlief & verlore stadium. My beste vriendin, Yolande Louw was natuurlik daar & ons ander vriendin Anneke van Wyk de Vries... ook die "cool skateboard" Engelse buurseuns: Marcus & Matthew was daar.

My 21ste het ek gevier op ñ Eerstejaarskamp, as Raadgewer & ek onthou ek was baie verontwaardig toe ds. Tienie my op my boud wou skiet met die sjampanje kurkprop... dit was "die Republiek van Akasia... dit is die plek waar ons raas, ja..."

Ook onthou ek ñ spesiale 35ste by ñ vriend se ouma se pragtige gastehuis. Ons het elkeen ons 3gunsteling liedjies gekies & dan moes jy dit vir die res speel... daar was heeltyd GOEIE musiek & ons het Kgalagadi foto's gewys... of dalk was dit dan my 34ste?!

Met my 35ste, onthou ek, het ek gehoop ek is swanger... en toe ek nie was, het ek besluit dat ons na ñ Fertiliteitskenner moet gaan... en dit het gelei tot die wonderwerkies, wat my my 36ste verjaarsdag in Neonatal ICU laat spandeer het. Hulle moes eintlik eers ñ dag na my verjaarsdag kom, maar toe is hul al 1dag van ñ maand oud! Dit was ñ emosionele dag van heen-en-weer ry: huis toe vir Tommee Tippee bottels, om te kyk of hul nie beter daaruit drink... en toe ons daar aankom, het die verpleegster nét klaar vir hulle met die hospitaal bottels melk gegee. O ek het ñ vreeslike tantrum gegooi. Dewald het my vir koek & koffie by Mugg & Bean gevat.

En nou is my 39ste hier... vandag het ons Kaapsehoop toe gegaan saam ñ dierbare vriendin, haar man & hul tweeling. Ek hét bietjie oud gevoel met my regterhand wat steeds nie 100% herstel het van die tenosinovitis... my linker-skouer, wat ek maar altyd bang is haak uit... en boonop het ek myself ñ groot sny op my linker handpalm gegee, uit haastigheid om roosterkoeke gesny te kry, vir pad kos... maar eintlik weet ek, ek is nie oud nie & ek is baie geseënd: liggaamlik en emosioneel en geestelik. Ek sien uit om 40-se-kant toe te gaan... want hoe sê hulle: "age... is just a number"!!






Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...