Ek slaap rond...

Ja, ek doen... ek slaap rond... in my eie huis... in verskillende beddens... omtrent élke aand!!!

Ek onthou, nét voor Demar & Zelé gebore is, was ons by vriende een Sondag-oggend. En hulle het gepraat oor hoe hul nou beurte moet maak om Sondag middag slapies te vang. Stefan het gesê: "...geniet maar jul Sondag middag slapies, terwyl jul kan. Want slaap gaan nooit weer dieselfde wees, wanneer julle kinders het nie. Selfs as jy nie opstaan vir die kinders nie, gaan jy nie meer slaap soos wat jy het voor jy kinders gehad het nie..." en dìt was wyse, waar woorde...

Vóór kinders het ek in my man se arms aan die slaap geraak en opgestaan die volgende oggend... nou 'pass' ons uit langs mekaar en staan ek 1-6x per nag op vir ñ dummy... nagmerrie... water... en soms om self te gaan piepie.  (Ag hemel tog!!!!!)

Ons slaapstorie-met-kinders het sò begin...

Nadat hulle vir 40 dae na geboorte in Neonatal ICU was, het hulle huis toe gekom om in hul eie,pragtige kotte te slaap...



Die eerste aand moes ons besluit of ons die asemhalings monitors aan hul doeke gaan sit (wanneer dit aan die doek vasgeknip was, het dit tot amper onder hul kenne gekom), of nie... want onthou ons was gewoond om die eerste 40 dae van hul lewens presies te weet wat hul bloeddruk was, hul harttempo, hul suurstof saturasie én hul liggaamstemperatuur (standaard monitors in Neonatal ICU). Ons het besluit ons wìl nie weet as hul ophou asem haal d.m.v. ñ alarm wat afgaan nie, maar wou eerder glo ons sal wakker word as hul langs ons bed slaap. So rol ons toe hul kotte by ons in die kamer in vir ons eerste aand: Demar langs Dewald & Zelé langs my. Dit het nét een aand gehou, toe rol ons hulle oulike kotte terug in hulle eie kamer (reglangs ons sñ) & koop ñ babamonitor. Want met so gesteun & gekreun & gedraai... en dan skielike stilte, wat jou nòg wakkerder maak (& uit die bed uit laat spring om seker te maak die baba haal nog asem), sal mens nie ñ énkele oog laat toemaak nie!

Onthou: ons moes hulle élke 3ure voed... 45ml elke 3ure, dis wat ons mee begin het. Tussendeur alles moes ek ook uitmelk (vir 20min), want ek wou graag so lank as moontlik vir hulle borsmelk gee. Dan was daar ook medisyne wat hul moes kry: saam met die melk... voor die melk... na die melk, o genugtig my kop het gedraai! En wanneer jy ñ (amper) 2kg baba wakker maak om bottel te gee en hulle doek ruil en hulle kans gee om winde op te breek, dan vat dit ongeveer ñ uur. Dus, wanneer jy, wawyd wakker, na die oefening in die bed terugklim bid jy...
1.  Dat jy dadelik weer aan die slaap raak
2.  Dat die babas dadelik weer aan die slaap raak EN
3.  Dat hulle slaap tot jy hulle oor 2ure weer moet wakker maak!!!!

Ai ek het vir Dewald jammer gekry, want al kon ek nie slaap deur die dag nie, moes hy gaan werk!! Ek het hom terselfdertyd ook só waardeer & respekteer, want hy was elke treë saam my.



Later het ons die Pediater gesméék of ons nie ASB. die aandvoedings kan rek na elke 4ure nie, maar hy was streng & duidelik: élke 3ure totdat hulle 3kg weeg (en dit vat lank voordat hulle 3kg weeg, as hulle nog nie eers gebore moes wees nie!)

Op 7mnd het hulle uiteindelik begin "deurslaap". (Ek dink Zelé sou al op 3maande, maar sy was die kleinste & Demar was die hongerste...) Dis ook maar ñ klug, die "deurslaap", soos elke Ma (en Pa) weet. Want mens slaap maar min "deur"... dis net wanneer jy begin wonder of daar ooit weer ñ aand sal kom wat jy nie wakker word en/of uit jou bed moet klim, wat jy een oggend wakker word en besef jy het régtig... létterlik... DEUR geslaap!!! (Wel, dis hoe dit by ons werk & gaan... sommige mense raak net gewoond aan, of maak vrede met die opstanery & dan pla dit nie meer dat hul nie deurslaap nie).

Vir my was dit nogal ñ paradigma skuif om te besef dat ek sal moet vrede maak met die feit dat ek in die aande X-aantal kere gaan opstaan. Aan die begin het ek so kwaad geraak dat ek later soos die "heks v Endor" gevoel het en besef het dis sekerlik ook dan wat my kinders sien en beleef. Ek het onthou hoe lank ek gebid het en gesmág het om kinders te hê en besef hierdie is deel van die "pakkie" en ek sal my houding moet verander. En met oorgee en afgee en met die Here se hulp en genade het ek dit kon regkry (wel meesal... daar was die keer wat ons besef het na die 3de dag en aand van nìks slaap dat Zelé en kortisoon nie maatjies is nie, maar dis ñ blog vir ñ ander dag...)

Ek & Dewald het ook altyd stilweg dié gekritiseer, wie se kinders saam met hulle in die bed slaap. Want wanneer het mens dan nou tyd vir mekaar & jul huwelik (as jy nou weet wat ek bedoel...) as daar heeltyd nog ñ kind/kinders in jou bed ook is??!! Maar ook dié "reël" het moeg my vinnig laat besef, moet mens soms breek. Want as ek na die soveelste keer se opstaan & boude-aan-die-slaap-slaan wéér moet opstaan, dan bring ek maar eerder daardie boudjies saam bed toe... so het ek ook toe ontdek hóé hard (oorverdowend) ñ dummy regtig gesuig kan word!!!!!

En toe kry hulle beddens... en nou slaan ek nie meer boude nie, ek slaap rond... sommige aande om die beurt in Demar se bed en dan in Zelé se bed en dan in my eie en dan begin die siklus weer voor... maar ek slaap!!! En dis al wat tel en my kinders slaap ook!;)

Maar soos Stefan gesê het: nooit meer soos ek geslaap het vòòr kinders nie en genadiglik vergeet mens mos. Jy vergeet hoe dit was voor kinders, jy vergeet selfs presies die moegheid (en vrees) met twee prem-babas by die huis, selfs al skryf jy daaroor in jou blog, is dit ñ herhinnering met vergete emosies daaraan geheg... en dìs hoekom mense dit weer... en weer doen. Want ons is skepsels wat die goeie onthou en die slegte vergeet (oor die algemeen). Skepsels wat hoop en glo, al is dit ook op eendag, wanneer ek weer sal deurslaap. En bo alles gee God ons die krag en visie om dankbaar te wees en ons seëninge te tel en dán lyk opstaan-in-die-nag na niks, vergeleke met wat ander Mammas moet doen of nie het nie...

Opmerkings

  1. Ag dis nes dit in almal se huise gaan, wat kinders het,... jy se dit weereens soo oulik

    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...