'n Kind se grootste vyand...

... is grootmense se irritasie. Ek bedoel om geirriteerd te wees en in die teenwoordigheid van jou kind (ñ kind) is ñ resep vir ñ (onregverdige) ontploffing! En ongelukkig, in vandag se wêreld, is ons konstant in ñ mindere of meerdere mate... geïrriteerd!

Mense irriteer ons... die saam wie ons moet werk... die met wie ons moet werk, die wat voor ons ry oppad werk toe of oppad terug van die werk af, huis toe... Die een by die winkel wat nie vinnig genoeg werk... nie duidelik genoeg praat of nie weet wat ek wil hê, wanneer ek alreeds geïrriteerd daarna gesoek is. Die ou op die radio, sy stem of wat hy sê... die negatiewe nuus... mense wat ons bel en goed wil verkoop, wat ek reeds het of nie geld voor het nie!

Dinge irriteer ons: my selfoon wat se internet sein kom en gaan... of my rekenaar wat skielik nie werk soos dit moet nie, en altyd mos wanneer jy op jou haastigste is, jou kar... jou televisie... jou yskas... wasmasjien... kamera... ligte wat blaas, kouse wat soek is of ñ maatband wat jy dringend (?!) iets mee wil meet, wanneer jy voor jou heilige siel (???!!!) weet jy het dit gister nét hier neergesit... en dit kom dan by die een wat ons die mééste irriteer...

Ekself!!! Want ek is mens en vergeet... laat val... kry seer... verlê... kry warm... kry koud... word siek en raak moeg en dis die ander vyand van ñ kind: moegheid... ñ moeë Pa of Ma is ñ geïrriteerde Pa of Ma en so word daar gedissiplineer vanuit ñ lae... medium... of hoë irritasievlak (nooit geen irritasievlak) - onregverdig en onakkuraat.

Soms is ons selfs ter wille van ander mense geïrriteerd: my man... my skoonouers... die oom skuins agter my in die kerk... omdat ons kinders iets kinderliks doen, wat ons bang is ander mense mag irriteer, dissiplineer ons. Daar word gesis... geknuip...groot oë gemaak... beloftes van ñ pak... ñ gunsteling speelding wat "nooit weer" mee gespeel gaan word nie of dalk ñ melkskommel... ñ lekker of ñ koekie, indien die (moontlike) irriterende gedrag "nou dadelik" gestop word...

Wat leer ons vir ons kinders???!!! Wat verwag ons van ons kinders? Om klein grootmensies te wees en die ingewikkelde, en onvoorspelbare buie van ons as grootmense te verstaan of aanvaar? Dink ons dat hulle verstaan of omgee wanneer ons ñ lang toespraak afsteek oor hoe baie hulle raas of hoe maklik hulle kan seerkry of hoe die "ander mense" vir hulle kyk?? Wel, my 3 jariges verstaan dit verseker nie, en ek as 39 jarige kan ook nie ñ onverklaarbare bui-verandering sien kom of verstaan, wanneer dit vanuit myself of in my rigting, vanuit iemand anders, kom nie!! En my kinders sal dit wéér doen, nie omdat hulle irriterend... aspris... of stout wil wees nie, maar omdat hulle kinders is!!!

En wat gee dit tog om dat hy klippies staan en gooi en die getik-tik pla (net vir jou wat ñ Facebook status probeer verander)... jy mis die kyk-en-geniet geleentheid van jou kind... jy mis dié keer wanneer hy uiteindelik opgewonde die klippie op... in... of oor gooi, om hom te prys en saam hom oor die eenvoudige te jubel! Jy mis die interaksie tussen jou kinders en die omgee omdat jy, geïrriteerd, gou die kans gebruik om ñ e-mail te stuur of ñ oproep te maak..

Ek dink ons voorouers was beter ouers, nie omdat hulle beter was nie, maar omdat hulle minder geïrriteerd was. Hulle het nie die irriterende tegnologie, sosiale & finansiële druk gehad of soveel ysters in die vuur soos ons het nie. Hulle was nie minder besig nie maar hul was rustiger... hulle pas was stadiger en hul ontladings-kanse meer. Hulle wêreld was kleiner en meer intiem, want daar was nie internet of Facebook nie. As jy afgespreek het om my iewers te ontmoet moes ek jou daar ontmoet... daar was nie 100 ander goed wat jy moes doen en dan stuur jy gou ñ Whatsapp, dat jy 10min laat gaan wees nie - hoe irriterend!! En jy moes luister & aandag gee: waar en hoelaat ons mekaar kry, want jy kon nie gou bel om seker te maak later nie. Jy het mense en situasies jou vòlle aandag kon gee en ook jou kinders!

En dis waar die verskil inkom... ons kinders kon ons volle aandag hê, nie ñ geïrriteerde, halfhartige dissiplinering tussendeur ñ klomp ander dinge nie. Ons sou kon afskakel en ontspan en inneem en geniet hoe ons kinders leer, terwyl hul speel... met geraasgoed en nie-geraasgoed... met relatief gevaarlike goed of glad-nie-gevaarlike goed. Want ons sou hul kon toelaat om te leer mét ons volle aandag, sonder irritasies en dinge wat ons aandag so steel en eis, dat die geraas te erg is en die gevaargoed dodelik raak...

"Here, neem my irritasies weg, nie die irritant mar my houding en persepsie daaroor. Sodat ek saam my kinders kan speel, sodat ek hul in liefde, sonder negatiewe emosies wat inmeng en my dissipline verwring of onnodig intens maak, kan opvoed. Help my om ñ irriterende situasie in perspektief & deur U oë te sien en dit dan deur die leiding van U Gees te hanteer. Help my om dinge wat onnodig irritasie veroorsaak uit my lewe te verban: fisies, geestelik & emosioneel. En om myself, my man & my kinders lief te hê deur U liefde! Amen"


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...