Die vrou se straf...


Hierdie is drie van die Ooms by Macadamia Frail Care, wat 2x/wk saam met my (sittende, mobilisasie) oefeninge doen. Die Oom links is die jongste - hy is nou 82 jaar oud en is ñ Doktor in Sosiologie. Hy kom op sy eie daar aangeloop en dink elke dag is Sondag...

Agter sit oom Willie. Hy was ñ Geoloog op sy tyd: "...in die veld, besig met die klippe", sê hy vir my. Hy is 88jr oud. Hy loop met twee krukke, maar ook maar stadig en vêr vooroor, so die verpleegsters sleep-dra hom maar uit ongeduld...

En heel voor sit ds. Haugh. Hy is 92jr oud... en "die eerste ds. wat die N.G. kerk oorsee gestuur het"... hy is effens hardhorend maar andersins sien ek geen "probleme" nie. Hy hardloop met sy loopraam na die oefening toe. Altyd netjies & ek glo daar sit nog ñ goeie preek of drie in hom!

Ek het hierdie foto geneem omdat dit vir my ñ nuwe "verskynsel" is: die ou Ooms wat saam oefen. Ek oefen al 11 jaar in die Ouetehuis & het ook vir ñ paar jaar in die "dorp" se Ouetehuis oefeninge gegee & dit was vir my altyd opmerklik hoe min mans daar is wat saam oefen (lees "geen"). Òf omdat die Tannie hom vér oorleef het, of omdat hulle te swak (lui?) is om saam te oefen.

Maar nou, ewe skielik, oorleef die mans hul vrouens of die vroue is te verswak om saam te oefen. Wat is die tendens? Wat het dan verander? Hier is mý teorie...

Ons vrouens kry swaar! Ons kry fisies swaar, want ons werk hard: met ons lywe en met ons hande. .. by die werk en ook by die huis. Ons doen goed wat "ñ man se werk" is, want ons kan nie wag nie... of ons man is self besig om hard te werk? Ons luister nie meer na ons lywe nie en het nie die luukse om ag te slaan en werk te maak van die waarskuwings tekens wat ons lywe vir ons gee nie. Want daar ìs nìe tyd vir siek word of af vat nie! Ek weet goed. Ek het laas jaar vir 5maande gesukkel met ñ inflamasie van die tendons in my voorarm, want eers het ek dit ignoreer... toe self probeer behandel... en toe uiteindelik maar Dr. toe gegaan. En toe volg ñ láng proses van stut dra - deur ñ briljante Arbeidsterapeut, wat spesialiseer in hande, vir my gemaak. Oefeninge én strekke. Ek dánk die Here ek kan weer pynvry my kinders hanteer en my dag deurgaan!

En dan is daar ons siele wat swaarkry...

Sterk vroue, wat ek goed ken en na opkyk vir leiding & raad en ñ voorbeeld, is op anti-depressante... stérk anti-depressante. ñ Ander was vir 3wk in Denmar kliniek, nadat die anti-depressante, wat sy vir jare al op was, haar bipolariteit heeltemal buite beheer laat raak het. Ek kla teenoor ñ sterk vrou van God hoe ek sukkel om Demar te dissiplineer & sy erken teenoor my dat sy ñ Sielkundige sien, om haar te help met haar 4jarige seun... en ñ ander gebedskryger-veteraan-ma sukkel met angsaanvalle, nadat ñ geliefde skielik oorlede is en sy nie haarself enige trane toegelaat het nie... en toe sy uiteindelik kon huil... toe kan sy nie meer nie! Dit maak my bang, want ek weet hoekom hulle sukkel... ek beleef dit daagliks aan my lyf & hart!

Hoekom kry ons vroue so swaar? Hier is mý teorie.. 

En dis my eie ene... geen openbaring of disrespek teenoor God of Sy Woord nie, dit maak net sin...
Nadat Adam & Eva gesondig het, het God hulle
1.  gehelp, deur vir hulle klere te gee om aan te trek
2. gestraf...    

GÉNESIS 3:16-19 (AFR 1953 vertaling)

"Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers.  En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.  Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer."

So die vrou se "straf" was kinders... hulle kry & hulle grootmaak... en die man se straf was werk... in die sweet van jou aangesig... Fisies wérk!

Nou kyk: kinders is harde werk, laat ons maar met mekaar eerlik wees. Dit het defnitiewe, tasbare, bevredigende aspekte maar dit bly werk. Dit maak moeg: fisies & emosioneel... dit skaaf & skuur aan jouself en jou huwelik - daardie man wat jy na hunker kan jy nie verdra met rukke, of jy is net pleinweg te moeg vir enige hunkeringe... 

En toe begin ons vrouens werk... in die sweet van ons aangesig... soos die mans! En ons is trots daarop: "anything you can do, I can do better..." en ons is dankbaar dat ons kan help met al die betalings & ons mans se finansiële las verlig. Dis nie meer ñ standpunt wat ons inneem of ñ passie wat ons uitleef dis druk!! Baie druk! Professioneel & finansieël & emosioneel. En tussen deur is ons Ma... in ons harte & in ons koppe kasty ons onsself oor snoepie geld i.p.v. ñ gepakte kosblik. Worry ons oor netbalklere wat vergeet is of ñ taak wat moet kla. Oor die toetse en die klere vir Lentedag, wat tog nie moet afsteek nie, en ñ Oorsese toer vir die Akademiese Top 10 of Eerste Span wat betaal moet word.

Geen wonder ons "cope" nie... geen wonder die mans oorleef ons nou...  want...

Verduidelik ñ Kliniese Sielkundige vriendin: mans skakel makliker af & aanvaar "op pensioen gaan" makliker. Hulle skaal af en pas aan, maar die vroue sukkel??!! Dit klink vreemd maar dis haar belewenis!

Wat gaan ons maak? Hoe gaan ons vroue maak om af te skakel? Waar gaan ons verkwik word en ons prioriteite ge-reset word? Hoe gaan ons in lyn kom met God se wil vir "ñ lewe in oorvloed" (Joh.10:10). Waar gaan ons tyd maak om Sy vrede te beleef "wat alle verstand te bowe gaan"? Hoe gaan ons mekaar ondersteun? Wat gaan die kodewoord wees wanneer jy by uitbranding is, dat jou man kan verstaan & kan ondersteun?? Hoe gaan ons maak met die dubbele straf wat ons op onsself geneem het?

JESAJA 40:28-31

"Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die Here , Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van Sy verstand nie.  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs;  maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie."
...

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...