My musiekmurmererings...
Ek was laas jaar bevoorreg om genooi te word na 'n unieke vriendinne-kuier in 'n sirkel met kerse en liggies en wyn en 'n keurig-gepakde luukse boks van die heerlikste versnapperings: groentestokkies, neute, salami opgerol en olywe en hummus en mooie geknoopte pretzels. Maar wat die heel lekkerste van die kersfeeskuier was, was die musiek! Die gasvrou het vooruit gevra vir jou 5 gunsteling liedjies om 'n speellys te kan maak. Wat 'n wrede ding om te vra?! Net 5?! Wel, ek het gesukkel en gedink en gestuur en dan weer bygelas en nog gestuur. Sommiges het net kunstenaars se name gestuur, maar ek werk nie so nie... detail mense! Detail! En daarom het ek besluit om my eie speellys met my 48ste verjaarsdag saam te stel. Kom stap saam my deur my musiekmurmererings...
Ek dink mens se vroegste musiek-onthou is as kind: die musiek wat jou ouers geluister het. Daardie jare was dit plate en kasette. My eerste musiekherinnering wat by my opkom is "Born in the USA" van Bruce Springsteen, my Ma het van hom gehou. So rasperstem, en die prentjie in my kop was van 'n man met 'n wit t-hemp en stywe denim aan, bandana om die kop met slierte natgeswete hare. (Ek het iewers gelees hy sweet 3 liter uit in 'n konsert... hoe het hulle dit gemeet? Hoekom het hulle dit gemeet? Nevermind...)
https://youtu.be/EPhWR4d3FJQ?si=KAFKz6qJHG0GvTkm
My Pa het gehou van oom Chris Blignaut, Boeremusiek, Cowboy flieks en natuurlik Country musiek... "Deck of cards" deur Tex Ritter is een van die liedjies wat op 'n plaat was en het 'n groot indruk op my gemaak. So praterige vertel-trant met die mooiste storie, soos net Country dit kan doen, en dan nog 'n Christelike ondertoon ook...
https://youtu.be/LsCiaxPhtVY?si=GzupzWFRRK3pdpWb
As kind kan ek ook onthou dat ek en my Ma die "Jazzsinger" fliek, op video, van Neil Diamond gekyk het. Ek het sekerlik nie alles verstaan nie maar die musiek het so groot indruk op my gemaak en ek onthou daar was 'n onderliggende liefdesstorie ook. Ek sien in my geestesoë hom met sy bos hare en groot "sidies" op die strand stap en "Love on the rocks" speel in die agtergrond... dit laat jou verlang na iemand wat jy nog nie eers ken nie!
https://youtu.be/6Ic7IWO65zE?si=qJwa_mL7SptNpZIX
In St.3 het ek op my eerste netbaltoer gegaan... Messina toe. Dit was die tyd van landmyne en die ouer kinders het ons daaroor bly bang praat. Die busrit was lank, maar 'n ware avontuur en daar het ek die eerste keer "Brother Louie" deur Modern Talking gehoor.
https://youtu.be/Lp2qcCrdBLA?si=QA5u6dzwY9_ZEC9H
Waar hormone is, speel musiek altyd 'n groot rol en daar was 'n bus vol ontwakende hormone... die St.5 meisies het vir die seuns ge-sêrrie met "Jy is te dierbaar" van Laurika Rauch
https://youtu.be/cY7g1R9ESHA?si=MHdY1zzqL_Mc-ST0
In St.3 het ek ook begin kitaarlesse neem. Ek het 'n pragtige ¾ kitaar in 'n bruin boks by Ma en Pa gekry en met die het ek na die kitaarlesse toe gestap, of soms myself uitgedaag en probeer fiets ry. Mens begin maar met A; D & G en liedjies soos Vader Jakob en Koffie, Koffie... en dan sing jou 2 boeties saam en weet presies waar hul moet stilbly en wag, want jy moet drukke verander en aan die begin vat dit so 3-5 tellings. Maar die eerste regte-egte liedjie, wat ek baie trots was om te kon speel was Umfaan, ek sien nou dis Sonja Herholdt se liedjie (ek was nog nooit mal oor Sonja Herholdt se stem nie)...
https://youtu.be/qKlan4MDx4A?si=XlXju_doBRPjFa8-
Dan onthou ek ook ons skoolkermis in St.3. Ons het vir 'n hele week nie skool gehad nie, want ons moes help regmaak vir die kermis. En by een van die stalletjies kon 50c betaal en dan het jy 'n biblioteek bronnelys kaartjie gekry (daardie A6 grootte met blou lyntjies en 'n dikker, pienke bo-aan) en daarop het jy 'n liedjie versoek en jy kon ook 'n boodskappie byskryf - net soos op die radio. Dit is dan uitgesaai oor die interkom-stelsel, nét soos op die radio! Wat 'n opwindende vooruitsig! Ek het "Kids in America" van Kim Wilde gekies... en onthou vaagweg dat ek dit vir Bennie Strydom gespeel het, my heel eerste kys.
https://youtu.be/YXE9oBzST68?si=L7F_wWKXTPD1jejO
In St.4 & 5 het ek ook begin om die Sondagskool boekies, wat in die vorm van 'n dagstukkie boekie was, deur die week te lees. Ek het begin om op kerkkampe te gaan en in St. 5 was ek op 'n Skoolverwisselingskamp by Pienaarsrivier, waar ek "amptelik" my hart vir die Here gegee het. Hulle het in die oggende in die gange vir Jan de Wet & die Loflaaities gespeel, en wie ken nou nie die Borrel-liedjie nie...
https://youtu.be/qXDUv-9axbM?feature=shared
St.6 was ek in Hoërskool Pretoria-Noord en hulle skooldanse was 'n "Hop" genoem. Ek kon nie na die eerste een gaan nie, want ek het te lank gewag om my Pa te vra, en Pretoria-Noord was ver van Meyerspark af, waar ons toe gebly het, om met 'n st.6 vol hormone in die nag rond te ry. Maar ek het wel later dieselfde jaar na een toe gegaan en met my eerste liefde - Renier was sy naam, my eerste "close" dans gehad op "Groovy kind of love" deur Phil Collins... o jinne daardie verliefdgeid en vlinders in die maag is allerverskriklik!
https://youtu.be/HsC_SARyPzk?si=2_bu_acSC4VEorET
In St.6 het ek ook my eerste "mixed tape" gemaak en die eerste liedjie op Kant A was "Bad Medicine" deur Bon Jovi, ek dink ek het die een van versoekprogramme op die radio gemaak.
https://youtu.be/eOUtsybozjg?si=sshKNZPwXIDTZmWa
In St. 7 onthou ek nog 'n tape wat ek gemaak het, die keer van 'n plaat: Karin se Roxette plaat: "She's got the look". Roxette was gróót in die Atletiekseisoen van 1990 by Hoërskool Garsfontein. Ek onthou goed daardie "pause" aan die einde van die liedjie, wat ek nog nooit opgelet het nie, en toe dink ek dat ek die plaat gebreek het, ek was in twee geskeur toe ek die plaat teruggee of ek moet bieg of net stil bly. Ek het stil gebly... en hare later die hele liedjie op die radio gehoor met die "pause", ek was baie verlig dat dít is hoe die liedjie opgeneem is!
https://youtu.be/LlVI7ZNiFlI?si=lajMml2fQ24NrrU9
Ook in St.8 het almal 16 geword... almal behalwe ek, ek het 15 geword en my goeie vriendin, Michelle, het 'n Sestiende Verjaarsdagpartytjie met 'n "60's" tema gehou. Hulle hele garage was opgemaak en vol plaatcovers geplak, ons het paella en pavlova geëet. Wow, nou is ons groot! En ek het
"Michelle" van The Beatles op verlief geraak...
https://youtu.be/DvYhIotxgOA?si=j-X5TQIGq7tq093a
Ek & Michelle het ook lekker saam musiek geluister as dit nie partytjie tyd was en hoe sal ek vir Richard Marx met sy bos krulhare, soos MacGyver s'n en Magnum P.I. en Night Rider s'n ook daardie tyd was - lank in die nek, wat "Angelia" so vol gevoel sing, vergeet.
https://youtu.be/DsYK2JJNflg?si=iuW1btb32klx0w5y
Ek was nog nooit deel van die "cool kids" nie, dalk het ek te veel gepraat, dalk was ek te eerlik sonder voorgee en pretensies - dis wat ek myself wys gemaak het maar jinne ek wou graag deel van die "in"-groep wees. In Standerd 8, einde van die jaar, het ek geweet ons trek Carletonville toe en dis my laaste kuiertjies met my Garsfontein maats. En op 'n manier was ek wel uitgenooi na een van die "cool kids" se verjaarsdagpartytjies, laat in die jaar. Soos 'n fliek het ek saam met hulle gedans op "Sailing on the seven seas" deur OMD, en vir 'n oomblik was ek ook een van "hulle"...
https://youtu.be/lMST3H69-Os?si=Usqq83fMEE9mOhhe
In St.9 in Carletonville het ek my eerste CD gekoop. Ek het die hele ding by Musica met oorfone op my kop gestaan en deur luister voordat ek die kassie vir hul gevat het sodat hulle die CD, wat agter die toonbank gehou was daarin kon sit... dit was... Bad Boys Blue en hoe kan mens "I totally miss you" vergeet?!
https://youtu.be/CZfIaCXlKa0?si=8JdYmti5oAzHu7q0
In St. 9 het ek ook die buurseun ontmoet, en dit was liefde met die eerste oogopslag. Hy was 23 en ek 17... my Pa het dit nie goedgekeur nie, maar wat oor die muur gebeur weet Pa's nie altyd nie... Indecent Obsession se "Kiss me" het gevoel soos my tema-lied, alhoewel dit net in my kop was, want ek was mos 'n groot koek!!!
https://youtu.be/nnli7xw1lZY?si=wGftorTFaFqyIWtU
Die liefde het nie lank gehou nie, ek het uitgemaak... en die opbreek was traumaties vir buurman. Hy het so hard "Hysteria" van Def Leppard geluister dat ek hom amper terug gevat het...
https://youtu.be/DRjWU5BdO-g?si=D3HNoEtq7mEAcyKu
In St.9 het ek ook saam met my niggie, wat 'n groot "crush" op haar skoolmaat, 'n ene mnr. Bridges gehad het, na sy Pa se vertoning by Sun City gaan kyk. Hulle was almal 'n paar jaar ouer as ek, met bestuurslisensies, en sy pêl is gereël as my "blind date". Ek dink hy was 'n seekat... ek moes bontstaan, maar onthou ook my eerste proe aan Southern Comfort & Appletizer en die sal nie 'n volledige herhinnering skrywe wees as ek nie een van die liedjies, wat hom beroemd en berug gemaak het insluit nie: "I am the eagle, you're the wind"
https://youtu.be/bv4fCcpch30?si=dpxEPYzNHawGj-gI
Terloops, my Ouma was mál oor Bles... ál die tannies was mal oor Bles! Leon Schuster het hom selfs in een van sy wegsteek-kamera flieks uitgevang omdat hy nie vir hom 'n roos by sy vertoning wou gee nie - sy kenmerk by al sy vertonings: om 'n paar rose uit te deel terwyl hy sing.
Ek het ook 'n lekker alternatiewe streep gekry te danke aan 'n ouer vriend. Hy het my bekend gestel aan Tori Amos
https://youtu.be/9ipCKIxdHTs?si=VUO7-WgChO9wWvmR
en Parrish & Toppano. O genugtig alles was in oortreffende trap beleef in daardie jare! Sekerlik is dit wat hul meen met "storm-en-drang-jare"?! Alles word in intensiewe vorm beleef. Lekker is lekkerste... erg is ergste...
https://youtu.be/kod09_u8Bms?si=QyEPJT4QIxHfAFD6
In Matriek het ek 'n kêrel in die "army" gekry, oh wow... praat van soos in die flieks! Ons het vir mekaar briefies geskryf en hy het vir my kom kuier met teddiebeertjies as hy "pas" kry. Sy beste pêl het besluit om Matriek oor te doen, vir beter punte en Universiteitstoelating, daardie tyd het báie ouens dit gedoen om nog 'n jaar te kon rugby speel-dit het my verstand te bowe gegaan! Hy het sy vriend opkommandeer om met my te kuier en Potch toe aan te ry, sodat ons by Impala kon gaan dans. Beste vriend het 'n lekker karretjie met 'n tape deck gehad en hy het my bekend gestel aan Chris de Burgh,
https://youtu.be/vdnHiuRciaI?si=-6bGp7pM1_Cvujeq
asook Twenty4Seven en ons almal was 'n "Slave to the music"!
https://youtu.be/6M3Kg1_5xFw?si=NfjqpSB0GLQlJQFc
Ek en die troep het toe ook na 'n maand of 3 die verhouding verbreek en raai wie was my kêrel vir die res van die jaar, asook my Matriekafskeid "date"... my eerste, sy tweede... die liedjie waarop ons hele groep lekker gedans het in Carletonville se Burgersentrum was 500 miles, deur The Proclaimers
https://youtu.be/tbNlMtqrYS0?si=WHguF3wTh4ZcrdlK
In 1994 was ek 'n Eerstejaar TUKKIE. Een van die JOOLplaas speletjies waarin Katjiepiering, 'n nuwe koshuis toe, 'n punt wou bewys was "Drastoel". Hulle het 'n paar Sonop ingenious gekry om 'n drastoel uit te dink en hulle het met die konsep vorendag gekom dat die meerderheid van die voorgeskrewe gewig in 'n metaalhouer aan vier rekke moet hang onder die drastoel se raam. Dit het op papier, en selfs in die regte lewe baie slim gelyk, totdat jy met daardie drastoel moet hardloop: as julle presies in pas was, het die rekke die gewig gevat en dit baie ligter laat voel, maar sodra die rekke nie meer saam op en af gegaan het nie, was dit 'n groot gemors en was daar die risiko dat die draers, of die gewig val. Natuurlik het dit ook meer sin gemaak dat die drastoel draers min-of-meer dieselfde lengte was. Om in pas te bly moet jy oefen: om saam te hardloop, om in pas te bly, om saam oor te gee sodat die volgende aflosgroep die pas kan hou. Dit het in die oggende 6uur, voor klas, gebeur en omdat ek 'n langafstand atleet op skool was ek 'n natuurlike keuse... verder moes iemand, met 'n harde stem, die pas al 600m-800m hou deur te skree watter voet jy mee hardloop: "Binne! Binne! Binne, Buite, Binne!!!! Raai wie was dit... ek verkies om te sê ek weet hoe om my stem te projekteer, nie dat ek hard praat. Ons het die tweede, en langste skof, van 800m gehad. En terwyl ons staan en wag het vir drastoel om te begin voor Universiteitsoord se hek, het ons net na Brooklyn polisiestasie gestaan en wag vir ons oorgee. En soos die pad stiller geword het, omdat die verkeersmanne op hul motor fiets die pad geblok het, het een van die seniors, die ware woorde ge-uiter: "...please forgive me, I don't know what I do..." natuurlik een van Bryan Adams se liedjies, maar geen liedjie het meer die hartsnare toe geroer as die liedjie uit die fliek "The three musketeers", gesing deur Bryan Adams, Sting en Rod Stewart
https://youtu.be/ofA3URC1wyk?si=36IETnAoBvw85TWc
In my tweede jaar B.MedSci het ek Mediese Kampus toe gegaan. Ons was 3 Katjiepieringmeisies wat ook toe saam in dieselfde disseksiegroep was. Brenda, Stacia en ek. Hulle het MBChB geswot, en ek B.MedSci maar ons vakke was alles dieselfde: Fisiologie en Anatomie en as deel van Anatomie het jy 5ure per week op jou kadawer gedissekteer. Brenda & Stasia het my bekend gestel aan Annie Lennox
https://youtu.be/HG7I4oniOyA?si=iksZUuzmczWolpAr
en natuurlik Eurythmics en The Cranberries.
https://youtu.be/JAab9gufGW0?si=SgI99oJ-WOSjxNlr
Ek was nog altyd mal oor dans en Bokjolle was my droom bewaarheid. Elke Woensdagaand en Saterdagaand was daar 'n bokjol. Ek het aan die "Maroela-kant" van Katjiepiering gebly en hulle het elke bokjol met dieselfde liedjie begin, as on St. Elmos Fire van Man in motion gehoor het, het ons geweet ons kan maar die laaste maskara aansit en ons harte uit gaan dans
https://youtu.be/dx7vNdAb5e4?si=lt-DKHQoRoUX6S9b
Natuurlik het die Maroela bokjol ook 'n liedjie gehad om die einde aan te kondig. Dan het die seniors die bokjol vloer oorgeneem en in die rondte gevlieg. Dit was op Villa Rides deur Mantovani. Ek het jare later toevallig daarop afgrkom op 'n klassieke speellys op Spotify en dit met van my Maroela-maats gedeel, hulle het dit weer met hulle Maroela-maats gedeel en can die manne moes hard sluk aan die trane van die "goeie ou dae"...
https://youtu.be/_nR44mMpS2k?si=k-9T7GvcRH0kFo3V
Ook ek het my eerste groot liefde op TUKS ontmoet. Ons het altyd mekaar se siel uitgetrek op die bus op pad kampus toe, hy was so blonde, krulkop windsurfer, wat uit Secunda gekom het maar sy hele matriekvakansie tussen die golwe spandeer het. Die hare het gegroei en die son het gebrand. Groot was my verbasing toe die "Jarre" ontgroen word en as deel daarvan word hul hare afgeskeet, om te sien hy is eintlik 'n brunet!?! Ons eerste fliek saam was "Forrest Gump", by Brooklyn. Jak de Priester sing van die "Brooklyn movies" in sy Sally Williams Nougat-liedjie en dit het altyd vir my soveel herhinneringe ingehou. Daardie fliek het 'n uitmuntende klankbaan met uitstekende liedjies deur die jare, maar niks skep meer nostalgie as wanneer daardie veertjie so af dwarrel nie...
https://youtu.be/7IIBp1HQlWQ?si=bqsVpS8gRyQA_xlQ
Ek het ook onbepland 'n studentekar gekry in my tweede jaar na 'n geveg oor mediese kampus toe ry en petrol geld, ek kan nie meer die detail onthou... maar my Ma het besluit ek kan haar geel Renault5 gebruik. Ek het nog net 'n leerlinglisensie gehad maar hoe was dít nou vir vryheid! In my 4de jaar het my Ma kom kuier uit Carolina, met die Camry. Ons het die oggend by Menlyn gaan rondloop en toe ons uitkom het 'n vrou gesukkel om uit die parkering te kom. Ek het aangebied om haar te help en moes die Camry se sleutel op haar passasiersitplek neergesit het. Sy was so dankbaar dat ek haar kar uit die parkering reverse het, sy het ingespring en weggery... met die sleutel vergete op haar passasiet sitplek. Toe ek en my Ma besef wat gebeur het, het ons vir 2 ure daar gestaan en wag dat sy terugkom, maar helaas... sy het nie, later het ons my Pa gebel, wat op die gholf baan was, want die enigste plan was dat hy die spaarsleutel uit Carolina moes bring. Carolina is 3 ure se ry uit Pretoria. My Pa het besluit hy gaan eets klaar speel want die sleutel is mos nou nie dringend nie. Ek het op 'n manier my Renault gaan haal en so het ek en my Ma die héle dag in Menlyn se parkeer-area gesit, hoopvol dat die vrou die sleutel sal terugbring. Sy het nie! Teen die aand het ons Radio Tuks geluister, daar was 'n versoek program op en ek het gevra vir Blue deur Eiffel 65
https://youtu.be/zA52uNzx7Y4?si=GRO1a0y_Pm2f1KiY
My Katjiepiering-vriendinne het altyd gespot dat ek 'n liedjie het vir elke okkasie, maar die liedjie wat my sal bybly is wat 'n Maroela-man een laatmiddag kliphard, op herhaal, in sy kamer geluister het, nadat sy meisie met hom uitgemaak het. Hy het gesê: "...soms moet mens net Celine Dion opsit sodat jy kan huil... en watter beter loedjie van haar om die krane vol oop te draai is daar nie as "Think twice"?!
https://youtu.be/vGwIaL0jOUg?si=8BFAbL04Q8UelLIp
As student was my "clock radio" ook my redder om my dag te begin met die spreekwoordelike "lied in die hart", ek het dit gestel as ek moet opstaan vir klas, of ontbyt... as ek moet studeer vir semestertoetse of eksamens en moeg geleer is en 'n "powernap" wil vang, het ek dit gestel. Soms het 'n sekere Maroelaman my wakker gemaak met 'n klippie teen die venster, of hy het opgespring en my skrik gemaak deur die gordyn, waar ek sit en diep ingedagte leer, weg te ruk. Maar 1x het my "clock radio" my wakker gemaak en toe sit die kêrel van my drome (op daardie stadium) en wag geduldig dat die slapende skoonheid wakker word... weer was dit, vir my, met my ooraktiewe verbeelding 'n greep uit 'n fliek. Die liedjie wat op my "clock radio" gespeel het was "We belong" deur Pat Bennetar. Sê saam my: "Aaaaaaahhhhh!"
https://youtu.be/qxZInIyOBXk?si=grDxyygnW5ltONHx
Maar soos alle "eerste liefdes", was ons s'n ook nie sonder verskille en frustrasies nie. Sommige dinge sien mens oor maar sommige dinge besluit mens net later is onvergeefbaar en in een van daardie uitmaak,pak-al-sy-fotos-weg stadiums, was daar 'n ander Maroelaman op 'n teenoorgestelde gang, met 'n teenoorgestelde persoonlikheid... 'n kunssinigheid, wat diep briewe skryf en aanhoudend komplimente gee en hangertjies kerf uit hout, wat hy met 'n leer bandjie vasmaak en my op 'n ander manier lief het... hy het my geleer van Sting en Seal se "Kiss from a rose" was so melancholies-mooi, dalk omdat hy van die begin geweet het dat die "andersgeid" ook nie gaan hou en die kompetisie sy sokkies gaan optrek en baklei vir sy nooi.
https://youtu.be/5som4EYefio?si=BtaILJ_3QsfyEU7r
https://youtu.be/yivLt9cTaio?si=5ZBrKeJLIcLVqX4a
Na my 4de jaar in die koshuis bly - meeste dames bly net tot hul 3de jaar in die koshuis, het ek getrek na 'n kommune in Queenswood. Dit was ek, een ander vrou en 5 mans... en net na ek ingetrek het, toe raak sy verloof en trek uit. Hier is ek... vrou alleen in 'n komune met 6 ander mans. Ek het darem my eie kamer gehad maar jinne man's is slordig! En onnetjies! Wel, daardie klomp was. Elkeen het net sy eie ding gedoen, daar was geen rooster of plan. As jy wou eet moes jy jou bord en 'n mes en 'n vurk was?! Dieselfde met 'n koppie, vir koffie, en meeste van die tyd was daar nie melk of suiker nie, al was daar 'n "kitty" daarvoor. Ag nee wat, ek het gou ander blyplek begin soek en na 3mnde by my vriendin in haar woonstel in Eruditi, by die kampus ingetrek. Daar onthou ek hoe ons Ally McBeal op so klein haasoor T.V. kyk en na die Corrs luister.
https://youtu.be/vzerbXFwGCE?si=0BkT8ATlUNhoMPZI
In 1999 het my Maroelaman-kêrel, soos soveel ander van ons ouderdom Londen toe vertrek as 'n "2 year working holiday maker". Toe was Londen baie ver. As ons met mekaar wou kommunikeer het jy briewe geskryf en sulke klein fototjies ingesit wat hulle "Doubleprint" of "Tripleprint" genoem het. Jy het jou film met jou trek in die koevert gesit, dit in die Royal Mail posbus gegooi en 1 week later het jy jou foto's gehad en het jy die groot een in jou foto-album gesit en die kleintjies met detail opgeskryf agter-op na S.A. gepos. Verder het jy gespaar vir 'n "Internasionale telefoon kaart", aan die Londen-kant het jy die silwer strip met 'n munt afgekrap en die kode ingetik as jy die nommer gebel het, aan die S.A. kant het jy 'n kaart vir R100 gekoop - dit was baie geld vir 'n student, en dan by 1 van die groen telefoon hokkies jou kaart ingedruk en 3minute se praat-tydgekry vir jou R100. Dan hoop jy die ander 1 is by die huis en kom vinnig foon toe! Ek onthou my verbasing toe ek my eerste (internasionale) SMS kry, van 'n huismaat se foon. Dit was absoluut 'n groot bederf!
En toe is dit my beurt om Nov. 1999 Londen toe te vlieg met Virgin Atlantic - my eerste internasionale vlug, nét na ek my finale skripsie ingehandig het. Die liedjie wat orals te hoor en sien was, ook op my klein TV skermpie, was Kylie Minogue se "I can't get you out of my head"
https://youtu.be/c18441Eh_WE?si=_ZibXrZrmikNp47E
Net voor my gradeplegtigheid, in 2000, het die TUKS-liefde toe finaal gesneuwel, 6 jaar was 'n lang tyd en my hart was goed gebreek, vetal omdat ek uitgemaak het, omdat ek besef het die "groot vraag", is nie op sy agenda vir my nie...
Ek het hartgebroke S.A. toe gekom en my Honneurs graad gekry, intussen het hy uit die kommune van Suid-Afrikaners, waar ons gebly, en waarvan hy die hoof-huurder was, getrek. Ek het, soos elke keer in my lewe, wanneer dit swaar gaan my weer vasgemaak aan die Here, om my identiteit by Hom te kry. Ek het begin om Hillsongs Londen toe te gaan i.p.v. S.A. gemeente, en dit was so spesiale tyd. Ek het veral hulle lofsang geniet en "Shout to the Lord" was een van die wonderlike, Geesvervullende liedere.
https://youtu.be/5_aIauL2xKA?si=MCEC-tltR5gRFHyC
Verder het ek in Londen besef hoe lief ek my taal, kultuur en land het. Ek was trots om die eerste UKkasie by te woon. Daar was 'n ou, wat my vriendin uit die Kaap via e-mail laat weet het: "gaan kyk hom, hy sing mooi!" Ek het hom nie geken, maar haar oordeel vertrou, en so het ek in so klein kamerkonsert-tipe opstelling die eerste keer vir Theuns Jordaan hoor sing...
https://youtu.be/OyC7Ak5bxzA?si=06rr-duBtynkvZL-
En ek het vir Lucas Maree en Coenie de Villiers geluister en so na my mense verlang tot my hart gepyn het.
https://youtu.be/dt-ien2rQuc?si=GPa5ypTXEh4NCiYc
...en dan was daar so simpel liedjie wat elke keer gespeel het wanneer ek gym toe gegaan het, want ek het darem onthou ek is 'n Biokinetikus en ek sal moet in oefening of aan die oefen bly terwyl ek as 'n B.T. Client Updating Officer en toe later as Medical Secretary gewerk het. Daardie liedjie was: "Who let the dogs out"...
https://youtu.be/ojULkWEUsPs?si=VBbsvRvii5HRwJ5b
En toe is dit 2002. En ek moet terug kom S.A. toe, en my Biokinetika Internskap doen. Ek het sowaar plek gekry by die Universiteit van Zululand, wat toe die hoogs betaalde Interns gehad het, en so goeie leerskool vir my was, want ek kon vir die Derdejaars Biomeganika gee, ek kon in 'n opleidingsinstansie werk maar ons het nie die nuutste tegnologie gehad nie, so dit was so goeie voorbereiding vir die regte lewe. Die liedjie wat ek daar baie gehoor het en my defnitief aan UniZul laat dink was Mandosa se Nkalakatha
https://youtu.be/wh6-DgED9DM?si=339wtNQ-YjHrmJji
Maar ook het ek die voorreg gehad om nie net die Jeug lofsangleier in 'n splinternuwe jeugdiens by N.G. Kerk Empangeni te wees, ek was ook deel van 'n wonderlike selgroep by die Metodiste kerk, waar ek kursusse kon doen om my Evangelisasiestyl en Gawes te ontdek en hulle het 'n "band" gehad en my gevra om saam hul te sing, ek het selfs my eie "mic" gehad, ons het baie pragtige liedjies gesing maar 1 bly my by: "Above all"...
https://youtu.be/zbvvVwQcbus?si=M3Ifm6vMFsbF6Sy6
En toe is ek 'n Biokinetikus... en moet werk kry as 'n Biokinetikus, want daar was nie 'n opening by UniZul nie... en ek hoor van 'n pos in 'n klein plekkie wat ek net van weet omdat ons altyd daardeur gery het as ons op Wildtuinvakansies gegaan het... Witrivier! Ek het niemand geken, en het die eerste 2 weke by Petra Kollege gebly, omdat een van die lidmate in Empangeni daarvan geweet het. Toe het ek 'n plek in die skoolkoshuis gekry, wat lekker was, want dit was loopafstand van die gym af, en ek het koshuiskos kon eet, maar dit was báie alleen. Ek weet nou nog nie hoekom ek nie in my geel Uno geklim het en Wildtuin toe gery het nie?! En toe kry ek 'n kamer in een van die onderwyseresse se huis. Dit was minder-alleen en ons het die etes en "kitty" mooi laat uitwerk. Dis ook waar 'n ene gymlid my kom oplaai het vir ons eerste fliek, toe hy besef hy kan nie in die aand gras sny nie - dis 'n storie vir 'n ander blog. Die fliek was "The last Samurrai", met Tom Cruise in, maar dit het nie vreeslik indruk gemaak. Die troue-date wat gemaak is op pad terug van die fliek het wel, en al die kuiers daarna... totdat ons ons eie trou-date gemaak het, met 'n lekker musiek CD almal uitgenooi het na ons troue toe
(Ek het 'n Spotify Playlist gemaak van die liedjies wat stukkies van ons storie tot daar vertel:
https://open.spotify.com/playlist/7DluJxvecdbi1VkU97Dw4q?si=17-P-ghaSImk0NB3onzpOw&pi=e-U_Mgh7EpSF-A )
en toe met hierdie liedjie aangekondig en verwelkom is as Mnr & Mev Nel... "Love somebody"
https://youtu.be/eiBinM-f-Pk?si=I8bcs9fXqupDfVsr
Natuurlik moes die bruid op die troue ook iets sê, maar ek het gekroek en grepe uit liedjies gespeel as deel van my toespraak:
"Because you loved me", was my ode aan my Pa Jan en Ma Martie: "...I'm everything I am, because you loved me..."
https://youtu.be/O3XGynvy_V4?si=uPMfq09IBdRJmYc2
"Arms wide open" was hoe welkom ek gevoel het in Kiaatstraat 5, die huis waarin Dewald groot geword, en waaruit hy met my getrou het...
https://youtu.be/99j0zLuNhi8?si=jEQA-jznHCXIsIIB
En dan het ons die dansbaan geopen op 'n lekker liedjie (Vakansieliefde) van 'n Laeveldse Kunstenaar: Hardu Tomlinson, verhoognaam M.G. Uys, wat geen "link" voor beskikbaar is nie en daarna het ons saam ons ouers - die beste voorbeeld van "gelukkig getroudes", albei was in 2006 reeds 31 jaar getroud - gedans op Donna Lewis se "I love you, always forever".
https://youtu.be/SqdWTeXWvOg?si=5mrXIcaJjDyzaJll
JBK het altyd lekker kuiers en jaareindfunksies gehou en daar was 'n tyd waar karaoke groot was, my en Dewald se karoake-liedjie is...
"Islands in the stream", van Dolly en Kenny!!!
https://youtu.be/K2RBS_U0GoQ?si=5IKLN9zuMT8wFHeN
In 2010 was dit Wêreldbeker sokker in S.A... orals is gebou en mooi gemaak en reg gemaak en sokkerballe opgesit. By ons Mbombela stadion het klomp sokkerwedstryde gebeur, en ons het ook een mét ons vuvuzela gaan kyk. Ek dink die een span was dalk Nederland/Holland. Shakira het die wêreldbeker-lied gesing, maar die een wat ek die meeste van gehou het was "Waving flag" van K'naan.
https://youtu.be/WTJSt4wP2ME?si=RMlwtX7ymrNAhoO0
Opmerkings
Plaas 'n opmerking