Ek rou...
...elke dag...
rou ek...
Ons gaan Wildtuin toe en 'n pragtige langbeen dogter met lang, blonde hare kom in die badkamer ingestap... "hallo tannie"... en ek dink: dís hoe my meisiekind moes lyk... lang bene wat loop en hardloop en ballet dans en netbal speel. Maar nou is ons besig om te sukkel om die rolstoel in-en-uit 'n badkamer te kry, wat op die oog af rolstoel vriendelik is, totdat jy 'n rolstoel het en dit wil gebruik en besef dis glad nie prakties of vriendelik nie, veral nie as die rolstoelgebruiker 'n kind is nie.
Ons loop in die winkels en 'n kleine, fyne babatjie waggel verby met 'n groot doek aan. Sy loop, sy hardloop selfs! Dís wat 11 jaar gelede moes begin gebeur het met ons dogtertjie-baba, maar dit het nogsteeds nie, en ek kry 'n jaloers-pyn in my binneste wat my verlam en verleë laat wegkyk. Dan sien ek die rolstoel voor my raak en dink hoe onregverdig dit is dat ek nie eers haar hand kan vashou nie, maar agter haar moet aanloop, om haar rolstoel te stoot... as sy met my wil gesels moet sy haar kop omdraai of ek moet stop en om die rolstoel loop om 'n gesprek te voer. As sy self wil ry, dan is albei haar hande op die wiele en kan ons ook nie hande vashou nie. En ek kyk met haat in my oë na die Ma wat met haar dogter hand-aan-hand in en uit elke winkel stap en saam rokke en skoene aanpas. Met 'n rolstoel pas jy nie sommer net aan nie, dis moeite. Jy pas ook nie aan en kom uit die aanpaskamer met 'n draai en swaai en wys jou Ma hoe mooi jy lyk nie. Nee, jou Ma moet jou help aan-en-uittrek en dis geen verrassing vir haar hoe jy lyk nie. En dan rou ek oor daardie draai en swaai wat jy ook nie kan doen nie, maar so mooi sou kon doen, en so graag wil kan doen.
Dit is dinge wat ek van gedroom het, dit klink dalk so oppervlakkig, vir die wat dit het, maar glo vir my dis baie diep en maak diép seer as jy daaroor rou...
Ek het hiervoor geveg, kursusse gedoen, terapeute gereël en kilometers ver gekruip, sodat my kind ook eendag saam my in die winkels kan rondloop. Het ek ophou veg? Het ek moed verloor? Ek weet nie, ek hoop nie so nie... is rou dieselfde as moedeloos wees? Moed opgee? As jy rou, gee jy op of aanvaar jy die situasie vir wat dit is en probeer fokus op wat jy wel het, soos Emily Perl Kingsley gedoen het toe sy "Welkom in Holland" in 1987 geskryf het... Ek het dit al voorgelees by 'n fondsinsameling en dit bly vir my so akkuraat en treffend, so het die vrymoedigheid geneem om dit vry in Afrikaans te vertaal, maar gaan google dit gerus in Engels, as jy verkies.
"Ek word soms gevra om die ervaring te beskryf om 'n kind groot te maak met 'n gestremdheid - om mense te help verstaan, wat nie die unieke ervaring al beleef het nie, sodat hulle hulself beter in my skoene kan indink. Dit is so...
Wanneer mens beplan om swanger te raak, is dit soos wanneer jy 'n heerlike vakansie beplan - na Italië. Jy koop 'n klomp toergidse en maak wonderlike planne: die Kolosseum, die Dawids-beeld, die gondels in Venisië. Jy leer dalk selfs 'n paar frases in Italiaans. Dis baie opwindend!
En na maande se afwagting, breek die dag uiteindelik aan. Jy pak jou tasse en daar gaan jy. Ure later, land die vliegtuig. Die lugwaardin kom in en sê: "Welkom in Holland."
"Holland?!?" sê jy. "Wat bedoel jy Holland??" Ek het Italië toe gevlieg! Ek is veronderstel om in Italië te wees! My hele lewe lank droom ek nog om Italië toe te gaan."
Maar daar was 'n verandering in die vlugplan. Jy het in Holland geland en dis waar jy moet bly.
Die belangrikste ding om te onthou is dat hulle jou nie na 'n aaklige, grillerige, vuil plek, vol siektes en hongersnood geneem het nie. Dis net 'n ander plek.
Dus moet jy nou uitgaan en nuwe toergidse koop en jy moet 'n hele nuwe taal leer praat. En jy gaan 'n hele nuwe groep mense ontmoet, wat jy nog nooit ontmoet het nie.
Dis net 'n ander plek. Die pas is stadiger as Italië, minder glansryk as Italië. Maar nadat jy daar is vir 'n rukkie, en jy kon asem skep, kyk jy om jou... en begin Holland se windmeulens oplet... en Holland het tulpe. Holland het selfs Rembrandt skilderye.
Maar almal wat jy ken is besig om na en van Italië te gaan... en hulle almal spog oor watter wonderlike tyd hulle daar gehad het. En vir die res van jou lewe sal jy sê: "Ja, dis waarheen ek moes gaan. Dis wat my beplanning was."
En die pyn daarvan sal nooit, nooit, ooit, ooit weg gaan nie... want daardie droom, wat jy verloor het, is 'n baie groot verlies.
Maar... as jy jou hele lewe lank rou oor die feit dat jy nooit Italië toe gegaan het nie, sal jy nooit vry wees om die ontsettend-spesiale en vreeslike lieflike dinge... in Holland... te geniet nie."
...dan sit ons in die kar en sing F.A.K. liedjies en jy sing woord-vir-woord saam met handgebare, honderde gesigsuitdrukkings en snaakse sê-goed. Jou sin vir humor laat ons lag en jou glimlag inspireer mense, dan kan ek vir 'n oomblik voorgee dat ons ook in Italië is... kan ek dankbaar wees vir Holland se windmeulens en tulpe in ons lewens, maar soos 'n Malmokkie bekruip dit my tussendeur die lag en dit ontplof in my kop: Jy is in Holland... julle is in Holland en hiér is waar jy gaan bly!
Liewe Marne, jou eerlike en opregte hart is wat ons so lief vir jou maak. Jy is n ystervrou!!!
AntwoordVee uit