Les 2 van 2023


Eintlik is hierdie nie soseer 'n les, as 'n (ontstellende-hartseer) bevestiging, wat ek weer vandag in Ilanga Mall gekry het: mense voel 'n veer vir rolstoel gebruikers.

Eerstens is albei die rolstoel parkeerareas naby die ingang gebruik, ek sien nie enige rolstoel plakkers op die voertuie nie, maar ons het ook nie een op ons s'n nie, so ek gee hul die voordeel van die twyfel. Gelukkig is ons almal  daar met Dewald se "trok", so die rolstoel hoef nie eers opgevou te word nie, dit word net in-en uitgelaai deur die Pa, vir wie nie die rolstoel of die insittende (tans) te swaar is nie.

Nét in die Mall besef mêdem sy wil toilet toe gaan, en as die besef kom is dit altyd nogal dringend, soos seker met meeste rolstoelgebruikers die geval. Hier gaan ons: op met die hysbak en by die toilette gekom is daar geen indikasie waar die rolstoel toilet is nie... ek besluit toe maar op die "Family toilet". Die deur is toe, maar nie gesluit nie, en met die Mall-geraas meen ek dis waardeloos om te klop, so ek maak die deur oop: tot my verbasing is daar iemand binne, besig om aan te trek...

Intussen het die skoonmaker uitgekom en sy sê die rolstoel toilet is binne-in die gewone badkamer, nou hardloop ons daar in, maar die toilet is gesluit. Binne-in die badkamer is 'n vredesvegter vol tatoërmerke met 'n kort, swart hempie, wat reg is vir ons stryd: sy klop en toe niemand antwoord nie, vra sy of ek nie 'n sleutel het, dan sluit sy dit vir ons oop nie. Ek verstaan eers verkeerd en sê ek het nie die toilet se sleutel nie, maar sy verduidelik geduldig dat enige karsleutel dit sal oopsluit... intussen klop sy weer en die keer is daar antwoord. Sy werp dié woorde in die stryd: "...I hope you come out of there in a wheelchair or crutches??!!"

Maar nou druk die nood en ek help Zelé maar in die "gewone" toilet, oorkant die rolstoel een, en gevegstryder tree ook toe uit en gaan in 'n ander een in... en toe die deur oopgaan... kan jy glo: geen rolstoel oof krukke nie, maar een van die Mall winkels se personeel. Ai tog??!!

Uiteindelik is ons klaar en nou wag ons vir die hysbak, om terug te gaan van waar ons vandaan kom. (Daar is 2 hysbakke). Ons staan so tussen die twee, 'n entjie weg, sodat die mense wat binne-in is, watter een ookal eerste opdaag, darem plek het om uit te kom. Hier kom 'n vrou met 'n trollie aan. Sy het een klein sakkie op die "kindersitplek" van die trollie, niks anders. Sy is jonk, met geen ooglopende beserings of swakhede nie. Nou wonder die biokinetikus in my: 
1. Waarvoor is die trollie?
2. Waarom gebruik sy die hysbak en nie die roltrappe nie?
Toe die hysbak opdaag loop sy voor ons in en binne-in staan 'n Mall skoonmaker met 'n mop en emmer, dus is daar nie plek vir ons al drie in die hysbak nie. Dit lyk ook inelkgeval nie of sy enigsins wil plek maak óf ons eers opgelet het nie.
Verstommend??!!
Ek laat toe maar daardie hysbak gaan en ons wag vir die volgende...

In die hele storie is daar wel 'n goue randjie: die Mall se Bestuurskantore is by die toilette, oppad terug het ek daar gestop en hul aandag daarop gevestig dat daar geen indikasie is waar die rolstoel toilet is nie en die vriendelike man daar het was baie dankbaar daarvoor.  Ons sal gaan kyk volgende keer of daar nou duideliker aanwysings is...

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...