Les 1 van 2023


Laas jaar (gisteraand) vra skoonma of ons Nuwejaarsvoornemens het... as ek het, noem ek dit nie so nie, dus sê ek "nee"... Skoonsus sê mens moet jou voorneem om nuwe goed te leer in die nuwe jaar. Ek sê ek weet ek gaan nuwe goed leer, maar ek weet nie nou wat nie, sy moet my aan die einde van die jaar weer vra. So, hier is die eerste ding wat ek op die eerste dag van 2023 geleer het - terwyl ek skottelgoed was... 

Nou ja, skottelgoed was is níe my gunsteling tydverdryf in die wêreld nie en ek is dankbaar vir my skottelgoedwasser, vakansietye veral, maar sommige goed kan mens nie in 'n skottelgoedwasser pak nie. So pak ek dit maar in mooi hopies in die opwas -dankie tog dit het ń deur, wat kan toe maak. Maar vanoggend, op die heilige Sondag en daarby die eerste dag van die nuwe jaar, moes ek skottelgoed was. 

Daar was twee toe bakke, wat iemand met ń swakker "konstitusie" (soos Oubaas sou sê) seker sou laat vomeer het. Die een het so vleissousie in gehad: daardie tipe wat agterbly wanneer die Rump steak "medium" gaar gemaak was, en die ander so bietjie oorskiet slaai. Nou, alhoewel dit nie baie warm was die afgelope 2 dae nie, eintlik relatief koud vir die tyd van die jaar in die Laeveld, het die toe bakke lélik gevrot. En dís wat ek geleer het... 

Alhoewel die deksels nie aan enige van die oorskiet geraak het nie, het dit nét soveel soos die bak, waarin die oorskiet was, gestink. En dis 'n goeie ding om te leer so aan die begin van 'n nuwe jaar: dat selfs wanneer ons weet iets is "vrot" en ons niks daarmee te doen het nie, maar ons hou dit "toe", dan gaan ons nét so stink soos daardie vrot! 

Laat dít nou vir jou ń les wees!!! 

 "...he who does the truth comes to the light, that his deeds may be clearly seen that they have been done in God" (Joh.3:21)

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...