Stertswaai lekker
Wat as mense ń stert gehad het... dis ń vreemde gedagte, né, maar hoor my uit...
Ons het twee worshond babas gekry die 31ste Mei.
Ek weet nie of ander honde so opgewonde kan raak nie, maar hierdie twee kan en hulle sterte is waarmee hulle dit wys. Selfs as hulle lankal bedaar het en ophou krap en spring en knibbel (en piepie) het, dan waai daardie stert so, dat hulle steeds sukkel om reguit te loop.
Nou wat as ons ń stert gehad het: iets wat so duidelik en eerlik vir ander sê wat in ons gemoed aangaan. Wat soms so op sy eie waai, om ons te herinner dat ons vir die persoon wat by ons is lief is. Dat ons opgewonde is oor eenvoudige dinge soos ń bord kos of ń bietjie ekstra aandag.
Dit moet vreemd wees om so met jou hart op jou mou te loop, of jou stert op jou boud maar ook so bevrydend! Veral ons reuntjie, Tjommie kan glad nie sy stert beheer nie, dit ruk sy hele agterstewe heen-en-weer, dis vir my so oulik!
Kan jy jou indink as jy so kop-onderstebo deur die Mall loop en jy word bewus dat jy jouself van balans af gooi met ń stert wat opgewonde waai, omdat daar tog soveel is waaroor jy dankbaar en bly kan wees: selfs net die feit dat jy kan loop! Of wanneer jy iemand lanklaas gesien het dan sukkel julle om bymekaar uit te kom, vir ń stywe druk, omdat julle sterte ongesinchroniseerd jul regoor die vertrek rondruk. Dan sou jy weet hoe persone werklik voel by ń geleentheid of funksie. Dít kan nogal ń ongemaklikheid afgee as jy een ding sê maar jou stert vertel ń ander storie!
Dalk is dit hoekom mense so hul honde geniet en hul ń defnitiewe persoonlikheid in ons gedagtes het-dis 50% die stert en 50% die oë! Mag jou dag sterswaai lekker wees en jou mense nie suinig wees om jou toe te laat om hul stert-reaksies te sien nie!
Woof! Woof!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking