Pa...
Ma, ek skryf vir jou 'n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
'n kaalvoet gedig -
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe
ek is so jammer mamma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.
Antjie Krog
Pa, ek skryf vir jou 'n gedig
sonder fênsie leestekens, al was jy nogal goed om te weet waar fênsie leestekens kort en astrand om dit ook nie te gebruik as jy rym nie.
sonder woorde wat rym, anders as Pa se rymelary...
sonder bywoorde
net sommer
'n kaalvoet gedig, want my kaalvoete laat my altyd dink aan Pa se kaalvoete en hoe Pa geniet het om kaalvoet te loop totdat die "ouderdom" Pa gedwing het om Crocs te dra. Ek onthou hoe Ma Pa se voetroom ingepak het in die badsakkie hospitaal toe en hoe bly Pa was dat sy het... daardie selfde badsakkie wat teruggekom het huis toe, sonder die een wat dit vir nog jaaaaare moes inpak op kampe en kuiers. Daardie badsakkie wat nou Ma se "pillesakkie" geword het, want sy kry swaar! Haar nek is seer en haar hart is gebreek...
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies, Pa sń was nie krom nie... maar hulle was werkershande. Tuinmaak hande, plan-maak hande. Wat amper alles kon doen van kar diens tot kombuis oordoen tot sleutels reg boor- al lyk dit nie so mooi, as dit werk dan werk dit!
jy beitel my met jou swart oë, Pa sń was blou - veral as Pa moeg of hartseer was. Ek sien dit steeds as ek my oë toemaak in Pa se donkerblou brilraam met die lagplooitjies langs die kant.
en spits woorde, ja Pa het net een keer gepraat... en soms ook nie.
jy draai jou leiklipkop (...die pan is an...)
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God. Élke aand, wanneer Pa saam Ma uit die Bybel lees, ook tussen-in wanneer Pa in Pa se joernaal skryf, wanneer Pa in die tuin werk of loop en voëls soek. Wanneer Pa in die Wildtuin rondry of op die gholfbaan stap. Altyd kon ek weet dat Pa vir my bid, vir my huwelik, my kinders en watookal die Here op Pa se hart druk. Pa was ń bidder, nie omdat Pa toe oë deur die lewe gegaan het nie maar juis omdat Pa met ń oop hart deur die lewe gegaan het en bewus was van Pa se eie sondigheid en swakheid.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe. Ja en nou voel ek met rukke of die lewensgolwe te vinnig oor my gaan breek met hierdie pandemie en die swaar wat almal daardeur kry. Met uitdagings van spastiese spiere wat ge-botox moet word en ń intilligente 9-jarige wat ons onafhaklikheid saam met respek en gehoorsaamheid wil leer. Vir ń seisoen in die huwelik waar mens saam bly maar nie altyd saam leef en praat nie, want daar gaan so baie aan...
ek is so jammer pappa
dat ek nie was
wat ek graag vir jou wou wees nie... dat óns nie was wat ek so graag sou wou hê nie. Maar geen verhouding is perfek nie en ten minste het ons albei dit geweet, daaraan gewerk en die belangrikste: gewéét die ander het my lief..
Pa, vandag is die eerste jaar wat die wingerd bot maar ons kan dit nie met Pa deel nie, fotos stuur of "voicenotes" maak of kommentaar terugkry nie. Janitz het die prieël gesnoei in Lawriestraat, hy het vir Ma gaan kamp opslaan en afslaan by Die Eiland... Pa sou so trots wees op hom. Dalk sou Pa dit nie sê, maar ek weet Pa sou wees.
Ons mis Pa!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking