...rou

 


“...die ervaring van verdriet is hoogs geïndividualiseer en het nie ‘n vaste volgorde nie. Sommige van die vyf fases kan afwesig wees, sekere ervarings kan meer as een keer en/of meer prominent wees en die stadiumsverloop kan stadiger en/of vinniger wees. Die ouderdom van die person wat rou en die oorsaak van dood kan ook die rouproses vorm en verander...

Vandag is dit presies 1 maand vandat Pa hemel toe is. Ek weet hy is hemel toe, want hy het geweet dis waarheen hy gaan as hy dood gaan, so nou weet ek dit... En in hierdie maand het ek heelwat geleer van rou en hoe vreemd mense kan wees, teenoor die een wat die meeste rou – sy lewensmaat vir 45 jaar. Ek besef dat mense goed wil doen en bedoel en wil ondersteun, maar ek wil tog die volgende wat ek geleer het, en dalk nog oor vrae het stel:

·         Mens is nie lus vir “uitgaan” nie, jy is soms maar dan is dit vlietend en selfs as jy kans gekry het om ‘n kuier iewers of met iemand te reël, is daar ‘n groot moontlikheid dat wanneer die tyd kom wat jy na die kuier moet gaan, jy nie meer kans sien daarvoor nie. Hê begrip daarvoor!

·        Mens is nie lus vir mense by jou huis kry nie. Veral nie as jou maat, wat nie meer daar is nie, die siel van die partytjie was en gewoonliik die “onthaal” werk gedoen het nie. Dit maak dat jy hom meer mis en dus het jou poging tot “troos” die teenoorgestelde effek.

·        Mens huil... baie... onbeskryflik baie... en onophoudelik... later raak jy kwaad vir jouself wat onbeheersd en onbepland en onverwags huil, maar dis soos hoendervleis: dit oorval jou wanneer jy aan niks spesifiek gedink het of nie iets spesifieks onthou het nie, maar dit is intens.

·        Om die persoon wat rou te bel wanneer jyself huil of om stemboodskappe te stuur terwyl jou emosies hoog loop of om Whatsapps te stuur wat vertel hoe die ander persoon gemis word deur hulle en hul geliefdes voel dalk vir jou op daardie stadium soos “empatie”, maar dit bied nie troos nie. Eintlik maak dit die las meesal swaarder, want nou voel dit of iemand anders van jou verwag om hulle te troos, wanneer jy self moedeloos en sonder troos of hoop is.

·        Om murmererings en hartseer versugtinge te deel en tik soos: “... ek kan nie glo dat julle nie weer dit of dat saam ons sal doen  of beleef nie...” is pleinweg wreed... die lewensmaat is dood, nie ék nie... waarom sal jy maak of ek ook nie meer kan beleef nie? Kom herhinner my aan iets wat ek nog nie aan gedink het of oor gerou het nie toe, vriendin...???!!!

Vir die blog het ek selfs bietjie navorsing gedoen oor die “Stadias van Rou”, daar is vyf of sewe... afhangend waar en wat jy lees:

Die eerste is van gevoelloosheid en skok, wanneer die verlies nie aanvaar of gesien word as nie werklik nie. Die tweede fase van verlang en soek word gemerk deur 'n gevoel van leegheid. Die rouklaer is besig met die verlore persoon, soek herinnerings en herleef herinneringe.

In die derde fase: wanhoop en disorganisasie is daar 'n gevoel van hopeloosheid en soms woede waar die beroofde persoon in depressie kan onttrek. Ten slotte, in die herorganisasie en herstel stadium, verskyn die gevoel van hoop weer en daar is 'n geleidelike terugkeer na die ritmes van die daaglikse lewe.

(https://af.innerself.com/content/personal/spirituality-mindfulness/death-a-dying/18174-the-5-stages-of-grief-don-t-come-in-fixed-steps.html)

 

Vandag het Ma meer oor Pa gehuil as op die dag wat hy hemel toe is, haar gevoelloosheid is defnitief vervang met daardie verskriklike verlange en gevoel van leegheid...

·        Daardie verlange en leegheid vergestalt in ‘n haat vir ander “ou getroudes”, vir vriendinne mét mans. Die besef dat dit is hoe jy voel en jy kan absoluut niks daaraan doen nie is oorweldigend en dan moet jy of probeer om dit te onderdruk of ignoreer of later probeer vlug uit die geselskap uit... dis sekerlik nie ‘n waardige vergelyking nie, maar ek het dieselfde onverwagse haat en jaloesie beleef na ons vroeë miskraam, toe ons probeer het om swanger te raak en dit voel vir jou die hele wêreld en almal in jou vriendekring raak swanger behalwe jy. So was dít die gevoel wat my hart en gemoed vol geskiet het met elke swangerskap aankondiging en veral wanneer jy moet geskenkies koop en nóg ‘n babatee bywoon.

·        Woede is daar ook, tussendeur die trane die gevoel dat jyself beroof is, dat jou geliefde beroof is van nog soveel vreugdes en ervaringe en dan moet jy alles wat jy nog altyd in die Woord, waaraan jy nog altyd vashou, probeer glo en van toepassing maak op jou en jou situasie: “hy is nou in ‘n beter plek” maak net glad nie sin nie!

·        Ek het eerstehands beleef hoe dit “erger is na die begrafnis”. Maar ek het ook gesien hoe iemand hulleself in sak-en-as kan optel en begin leer, begin vrae vra en haarself toelaat om vrae te vra... om dit uit te spreek en te ego en antwoorde te soek. En ek het geleer dat “die eerste jaar die ergste is”, nie omdat dit ‘n jaar vat nie maar omdat jy deur elke liewe herhinnering moet rou. Die saam dans, die saam kamp, die saam slaap, die saam lag, die saam huil, selfs die bakleiery en verskille...

Hierdie is die allervreeslikste groeiproses, die moeilikste ding wat ek nog iemand sien doen het, maar ek sien my Ma dit doen en ek weet dat sy ander kant gaan uitkom, maar dit gaan ek nie nou vir haar sê nie, want dis nie wat sy nou kan of wil hoor nie en waar is anderkant en hoe ver is anderkant en wanneer is anderkant?

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...