In die derde persoon...

Jou Pa is dood...

Dit is wat ek myself hoor dink, wanneer ek toelaat dat die stilte van die oggend my begroet. Wanneer ek die blindings van my kombuis oopmaak en daarmee saam die blindings van 'n nag se slaap toelaat om my wakker te skud. Wanneer ek die prieël sien en die slim plan wat my man uitvoer, wat my Pa uitgedink het - om die voëls weg te hou van die glippertjies, wat hy élke keer bekyk het en hulle élke keer bespreek het wanneer hy kom kuier. 


Saam het hulle die eerste jaar, nadat dit gedra het, die prieël gesnoei tot dit gelyk het of daar net 'n paar leë stokke oor is. En dis presies hoe ek voel wanneer ek myself so in die derde persoon aanspreek en die herhinnering my omvergooi: soos 'n wreed-gesnoeide wingerd, wat lyk of dit nooit weer gaan blare kry of vrugte dra nie.

Wanneer dit buite begin reën en Dewald spreek sy vroeëre intensie uit, om kunsmis te gooi, wat hy toe nie gedoen het nie, dan besef ek dit is presies die gedagtes wat my Pa elke keer gehad het wanneer hy buite rondhardloop in sy reënjas en kunsmis strooi. Ek onthou soveel keer as kind vir hom wat kunsmis strooi in die reën.... wat ń eenvoudige, kragtige beeld... Ek roep dit op en marineer myself in die herhinnering en wanneer ek dit met die familie deel, dan besef ek dat dit die doel van die reënjas was, wat my oog gevang het toe ek tranerig uit die tuin, invlug na die huis in Pretoria.

Daardie tuin was Pa se plaas, of ten minste sy plot... ek staan daar en verstom my hoe die patatblare rank en 'n stoel, waar hy nog 'n paar weke terug op gesit het, tóè groei. Hoe is dit moontlik dat die natuur so wild en sorgvry kan aangaan en toe maak, wanneer die gat wat daar in ons harte geruk is groter voel as enigiets wat ooit weer sorgvry toegemaak kan word? 


Ek kyk na die hande van my "boer" wat groen-vingers-bekend deur die blare roer en soek na 'n oes, wat Pa nooit sal pluk of kook of eet nie. Ek hoor hoe hy weet hoeveel patats daar nog onder die grond is, wat uitgespit sal kan word. Ek hoor die geelvinke wat kwetter in die buurman se boom en besef dit neem my terug na kinderdae langs die spruitjie by Brits, waar Pa grootgeword het. In die groot ou wilgerbome was die gekwetter met rukke amper oorverdowend. Dan besef ek dat hy ook menigmale moes opkyk en terugdink aan gelukkige kinderdae, beste herhinneringe van 'n plaasseun wat heeldag besig wou wees. Die tuin is nie groot nie, maar ek besef hoe dit sy gedagtes en hande 'n hele dag lank kon besig hou en omdat dit groei en daar plek gemaak moet word vir nuwe saad en voorbereiding getref moet word vir die volgende seisoen kon daar planne gemaak word vir nuwe vakansies, nuwe projekte - soos die briljante braaier, wat hy hierdie jaar aanmekaar gesit het. Sorgvuldig uitgedink en in detail vervolmaak, dat dit prakties is en presies werk soos dit moet.


Dan het hy die Jan-Frederik opgelet, wat rondom hom bly, omdat hy weet dat die gedolwe klomp goggas sal opjaag. Hy het hom geniet en wardeer en afgeneem en met ons gedeel. 


Foto's en stemboodskappe was daar baie, al was dit net om ons 'n "heeeeeerlike dag" toe te wens. Ek mis my Ma wat hom soek met 'n "Jan... Jan!  Jan!!!!" en dan antwoord hy haar met 'n "Jo!!!!!" Sy mis hom in hulle kamer, sy huil oor die "leë huis", maar meesal was hy buite of bo by sy laptop besig met voëlfoto's of gholfdinge, of watookal... en dis daardie watookal wat my die hartseerste maak, want dit maak die dink in my los en vra die ontstellende vraag: ken ons ooit werklik ons geliefdes se gedagtes en vrese en hunkerings. As ek myself vang teen 1000km/h gedagtes dink, wat ek met niemand deel: nie omdat ek nie wil nie maar omdat daar of op daardie stadium niemand is nie óf omdat die gedagtes so vlietend is en soms so onverklaarbaar en onkarakteristies negatief of morbied of vreemd is, dat ek ook liewer nie sal wou nie. Ken ons ooit werklik... ons geliefdes... onsself?

Ek is dankbaar dat Pa eenvoudige rymgedigte op sy laptop geskryf het, wat ons in verlange en amper soos drenkelinge na gryp en weet dat hy verseker weet Wie sy koning is en waarheen hy sou gaan wanneer hy sterf. 


En ons rou... ons rou omdat ons meen dat sy "tyd" nog nie reg was nie, maar terselfdertyd... hoe kan ons glo in 'n soewereine God as ons nie kan belei dat Hy in Sy almag en alwetenheid en alomteenwoordigheid ook hier regeer (het) nie? Ek rou vir sy planne wat hy nog gemaak het - oom Pieter sê dis juis die teken dat hy voluit geleef het: dat hy klomp dinge nog nie klaar gemaak het nie... ek rou oor die houtboks wat net daar bly staan het: wat hy vol feëliggies en plante wou maak, soos hy gesien het op die Steve Hofmeyr konsert, wat die laaste kuier by ons was. Ek rou oor die reënjas: wat iemand een of ander tyd sal moet aantrek en volmaak, omdat hy nie meer daar is om dit aan te trek en vol te maak nie... of dalk sal iemand dit moet wegbêre, omdat hulle nie die nut kan sien van kunsmis in die reën strooi nie. Ek rou omdat Ma soos 'n Ma met ń koliek-baba, begin huil wanneer dit skemer word en sy weet slaaptyd nader kom en sy daardie kamer alleen moet ingaan, daardie bed alleen moet inklim en more oggend wakker word sonder daardie lyf en asem, wat 45 jaar deel was van haar elke dag se bestaan.

En ek rou oor ons laaste Whatsapp gesprek, nadat die gejaag van 'n roetine Maandag oggend veroorsaak het dat die kinders vir Oupa en Ouma totsiens gesê het, maar dat ek nooit daarby uitgekom het nie... 

[2020/12/02, 05:56] Marne Nel: More Pa! Die tuin lyk mooi, is die gras ook nou weer kort? 

Dit was so gejaag Maandag oggend, ek het laat d kinders "bye" sê maar ekself het nie. Dankie vir die kuier en die kinders oppas en bederf die naweek. Ek wardeer dit en weet hulle het dit baie geniet 🤗

[2020/12/02, 06:17] P a Jan Oberholzer: Plesier, ja die gras is weer kort maar met die baie reën bly dit nie lank kort 😄. Ek het daar n tamatiesous bottel vergeet met my eie mengsel van sous as jy onthou bring dit saam asb. Die pampoen moet jy en die kinders eet. Mooi dag lekker werk sien oor twee weke dan groet ons weer 😃

Ek rou omdat daardie "twee weke later" ek betyds moes wees vir 'n besoektyd, wat ook spesiaal gereël moes word en die groet in ń hospitaalbed, sonder die gewone "soen en druk" was... dat ek my groot, sterk Pa 'n kleine-kleine bakkie jellie en vla moes voer. Hy het my gevra om asb. die plastiek hospitaal lepel om te draai, want anders sny dit sy droeë, sensitiewe lippe. Ek rou omdat hy net 'n halwe botteltjie ensure-melkskommel kon uitdrink, voordat hy so uitasem was, dat hy eers moes terugsit en asem skep. Ek is dankbaar vir die "normale gesprek" wat ek met hom kon voer, dat ek hom kon vertel dat die kinders partytjie gehou het en dat ek 'n skelm foto saam hom kon neem. Vir die humoristiese video, wat ons saam  vir die "OberNelle" kon maak en dat ons kon maak asof dit 'n "gewone dag" is en ons sorgvry mekaar geniet en vir flou grappies glimlag of giggel. 




Ek rou oor my kinders wat na hom verlang: Zelé, wat hartseer verlang na Oupa wat haar swaai, 


Demar wat met my deel dat hy so graag vir Oupa sy sonneblom sou wou wys, wat hy as 'n "Checkers Little Garden" geplant en vertroetel en later uitgeplant het en nou is dit amper langer as hy en begin dit 'n blom te maak...


...ek rou vir Dewald, wat hom mis in soveel detail, wat ek weet hy nie eers met my deel nie. Ek was soms jaloers wanneer ek sien die gesprekke wat hulle op Whatsapp gevoer het en ekself het lanklaas 'n Whatsapp gekry...

Dan draai ek die blinders se tou om-en-om, om dit daar bo te hou vir die dag en ek druk die verlang terug-en-terug totdat ek weer na die meisie kan kyk wat deur die venster na die prieël kyk, wie se Pa dood is... 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...