Buite my visie...

Ek staan op die strand.  

ń Skip op die oewer, sprei sy wit seile vir die oggendbries en vaar uit op die blou oseaan.

Dis ń pragtige skip, en ń sterk skip.

Ek staan en kyk daarna, vir ń wyle, hy hang soos ń spikkel, of wit wolk presies daar waar die see en lug met mekaar meng.


Dan sê iemand langs my, "Daarsy, hy is weg..."

Weg waarheen?

Weg uit my visie. Dis al. Hy het steeds die massiewe mas, romp en boeg as wat dit gehad het toe dit van langs my weggevaar het.

 

En sy vermoëns is steeds net so uitmuntend: om sy vrag te dra na sy bepaalde hawe. Sy verdwene grootte is binne my, nie binne hom.


En op daardie selfde oomblik, wanneer iemand aankondig. "Daarsy, hy is weg," is daar ander Oë wat hom sien aankom en ander Stemme wat gereed staan om in blydskap te juig, "Hier kom hy!"


En dit is wat gebeur as mens sterf...

 

(Henry van Dyke se "Out of my sight" vry vertaal)


Vanoggend... 8:11 is my Pa hemel toe. Van AL die dinge wat 2020 ons mee kon verras was dít die grootste... my Pa was so sterk soos ń bees en so besig soos ń klein hondjie. Konstant aan die werskaf in sy tuin: die reënwater uit die Jojo tenk het hy pligsgetrou, soos nodig, met 20liter emmers aangedra. Sodat ons soos konings daaruit kon eet. Vir Ma was dit skoon vreemd wanneer sy groente moes koop. Net 5 weke gelede was ek hier om ń wonderwerk van lewe te vier en nog op ń "eetplan". Toe Pa die fillet begin voorberei vir aandete - hy was ook meesal die kok, vra ek vir groente. Hy gaan krap in sy tuin en ek neem die foto om te spog met ons "organiese ete uit die tuin"...


In volkome geloof en omdat ek meer optimis as realis is, het ek ook vir Pa ń geskenk saamgebring vir Kersfees... na sy 2de hartaanval, wat sy hartspier so vreeslik seer gemaak het, het ek begin peins oor hoe sy lewensstyl sal moet verander: een van die groot beperkings na ń hartaanval is sout inname wat báie beperk moet word. My Pa was nog ALTYD baie lief vir sout, hy het gesê "die Bybel sê mos ons is die sout van die aarde ... en dit gee geur aan als". Pa het selfs bietjie sout in vars uitgedrukte lemoensap gegooi - dan smaak dit lekkerder! En hy was mal oor karamel: as hy by die see was het hy élke dag vir hom ń karamel dip roomys gekoop, sonder enige skuldgevoel oor sy gewig, wánt hy is mos op vakansie. So het ek dus vir hom die nuwe "Salted Caramel" Lindt sjokolade gekies, vir bederf saam "vervelige" kouse - Vadersdag was in grendeltyd, so hy het uitgemis😉. Vanmiddag besluit ek om die boksie oop te maak en onder die kersboom, wat ons vir vanaand beplan het, uit te pak. Ek dink hoe dit steeds mooi lyk maar dat dit nie beplan was om deur ons geëet te word nie en aangesien ons almal se aptyt maar sleg is, los ek die leë boksie om die oorblywendes in terug te pak. Daardie leë boks is so vreeslik simbolies vir my, en hartverskeurend!


Daardie oproep, wat mens vrees vandat elke "update" was: "...jou Pa is stabiel, maar kritiek... het vanoggend gekom, op mý foon. Dit was 30min. nadat ek, soos die afgelope 3weke om 6uur die hospitaal gebel het om te hoor hoe was Pa Jan se nag. Vanoggend was ek laat en die dagpersoneel het reeds oorgeneem. Suster Brink het my verseker hy is rustig... Om daardie oproep te kry en dit met almal in die huis, wat nog aan't wakker word was, te deel en gejaagd aan te trek, het my in ń surrealistiese oomblik laat dink aan Pa wat met ons resies jaag om aan te trek vir skool. Wat ń voorreg dat ons almal saam met Ma kon gaan, dat Roux kon bestuur en ek saam hom, Janitz en Ma in gebed kon stil word, terwyl ons harte hoorbaar in ons kele klop. Dit was ń lang rit... en ń stil rit. Amper by die hospitaal het Ma se foon gelui: die dokter het verduidelik dat hy wéér ń hartaanval gehad het en alhoewel hulle weer 40min.+ KPR gedoen het, het hy nie weer "teruggekom" nie. Hy was gesedeer, omdat hy gister weer op die ventilator gesit is, en met maksimum pynmedikasie en is reguit hemel toe sonder énige vrees of pyn. Dankbaar... maar HART GEBROKE!



Gister het Ma hom gaan besoek voor hulle die ventilator ingesit het. Ek het haar hoor praat en lag deur die sekuriteitsdeur. Sy het saam hom gebid, soos elke aand in hulle bed, en hy het gesê hy wil ook bid... sy kon nie alles deur die BiPAP masker hoor, maar dit was goed. 



..soos hulle hele lewe was. 45 jaar getroud, beste maats en ware vriende in die sin van die Woord: "yster slyp yster, vriende vorm mekaar" (Spr. 27:17)

Ons kan nie Ma se gebroke hart en gemis verstaan nie maar ons sien dit en eer dit en is hier vir Ma en lief vir Ma!


 
Totsiens liewe Oupa! Jy was die béste Pa en Oupa wat ons en ons kinders voor kon vra. Ons eer jou en mis jou áltyd, maar sal aanhou en vasbyt, soos jy ons geleer het en jyself tót op die einde het!


Liefde... jou "Oudste en enigste"...


 

Opmerkings

  1. My liefste Marne. Die mooiste woorde vir duidelik, ń merkwaardige man. Die sêding, a picture is worth a thousand words, is hier net anders om. Your words are worth a thousand pictures, en dit skilder ń pragtstuk.

    Ons innige simpatie. Daar is nie woorde wat die seer sal wegvat nie. Baie baie sterkte. Jou sterk geloof sal julle dra deur die swaar.....

    AntwoordVee uit
  2. Ai my Tjommie, hoe sê mens dan nou koebaai vir die mas, die romp en die wit seile wat saam met sy MartHie matroos aan jou gevorm en gebou het in die vrou wat jy vandag is. Ek weet jou hart is stukkend. Ek sit jou, jou Moeksie, jou boeties en Jan se kleinkinders by God se voete neer. Mag Hy vir julle troos gee. 😘

    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...