Wanneer die son sak oor die Sondag...
My een Afrikaanse juffrou het altyd gesê: "...as ek vir jare in die ruimte was, en ek kom terug aarde toe op 'n Sondag, sal ek weet dis Sondag..."
En ek weet presies wat sy bedoel: verál hier teen 5uur, wanneer die son sak en die aarde tot ruste kom. Dis asof die Sondag begin afwen en die Maandag begin opwen. Aan die een kant voel jy die rustigheid van die Sondag in jou murg kom lê en nog so bietjie warmte gee, maar terselfdertyd voel jy hoe jou spiere begin opwarm en energie opbou vir die Maandag wat op die drumpel staan. Jy weet mos daardie gevoel...
Ons het 'n "tradisie" geskep om na Sondag middagslapies op ons voordeur trappies te sit en koffie drink en dis daar waar ek gister die opwen-afwen 'n naam gee. Ek onthou ander Sondae soos die...
Wanneer jy op skool is en 'n besige sportnaweek gehad het: hetsy atletiek, of netbal... en as jy gelukkig was kon jy dit afsluit met 'n lekker skoolsokkie die Saterdag aand. Sondag oggend kerk en Sondagskool en lekker Sondag middag ete, met huiswerk wat iewers tussen-in ingepas word, dalk wanneer Pa en Ma 'n middagslapie vang, want watter skoolkind doen nou dit? Dan, wanneer jy vreedsaam, met jou huiswerk klaar gedoen, voor die T.V. gaan sit-lê... dís wanneer jy, deur die program wat jy kyk, bewus word van daardie gevoel van afwen-opwen. Dalk is jy opgewonde om iemand spesiaal te sien by die skool - en meesal op skool is daardie iemand mos salig onbewus van jou bestaan, maar hulle bestaan maak jou héle dag. Ek het een keer 'n vriendin op Universiteit gehad wat hierdie ou in die eetsaal ge-"eye" het, sy het dit so geniet om hom net te "bewonder uit die verte", totdat iemand vir haar sy naam gesê het. Sy was onmiddellik kwaad, want dis té veel inligting, sy wou net met die fanstasie in haar kop aangaan oor wie hy is en wat hy "swot". Dis mos hoe dit baie maal op skool ook is. Of dalk is jy effens bekommerd oor 'n toets of 'n taak wat nog gedoen moet word of dalk nie die aandag gekry het wat dit moes nie. Dit is alles gedagtes en emosies wat deur jou vloei terwyl die Sondag afwen en die Maandag opwen.
Ek onthou Universiteits Sondae: Saterdag se bokjol is verby, jy het laat geslaap en was net betyds (of nie) om jou pastei in die eetsaal te kry - dit was Sondag ontbyt by TUKS in die '90s en dan is jy maar daar in jou kamer rond, met swottings of lui wees, want studente gaan nie oggenddiens toe nie (behalwe as jy verskriklik na jou ma'le en huis verlang...) Sondag middagete en wat-ookal-studente-aanvang na middagete is verby en dan begin jy reg maak vir die aanddiens en dís wanneer jy oor Universiteitsoord se parkeerterrein stap, met die jakarandas om jou, dat jy die opwen-afwen ritme inasem en besef jou naweek is amper verby, maar jy kan nog so effens rustig wees en die Here gaan loof saam jou maats en die laaste sluk uit die Sondag-houer vat, voor jy in jou koshuisbed klim en die alarm stel vir Maandag oggend se klasse. Dis ook presies wanneer jy sal weet of jy genoeg afgewen het die naweek en die veer styf genoeg gespan is vir dinamika maar ook 'n volhoubare pas vir die week.
Dis wat ek onthou, wanneer die son sak oor die Sondag...
Opmerkings
Plaas 'n opmerking