Die ego en die sentiment...
"Ek gaan my regruk, en uitstyg bo wat my onderkry. ń Nuwe lewe inrig, die oue is als verby. En wat jy met jouself maak, kan my die minste skeel... maar miskien is jy nog lief vir my, ek's o... so.. sentimenteel".
Dis die lirieke van ń Laurika Rauch liedjie, wat ek van Universiteit sêrrie-dae onthou, en toe ek die titel skryf, toe voel dit gepas om daarmee te begin. (Ek het dit nie ge-"google", of die CD se stofblad, of dit sal seker ń inskuif-blad genoem word, gaan raadpleeg nie. Ek het dit net getik, soos wat ek dit in my kop sing en leestekens gebruik, soos dit vir my sin maak en ek lus het).
Wat is dit om sentimenteel te wees? Om spesiale betekenis en verknogdheid aan iets te koppel wat vir iemand anders onverstaanbaar en onverklaarbaar kan wees. Daardie trui... daardie stoel... daardie koppie... daardie kolletjie in die son. Soms kan ons ń spesiale gedagte of gebeure oproep en so onsself verklaar, maar soms is dit soos ń man se ego... wat ewe skielik soos ń halsstarrige perd vassteek en sonder verduideliking, met intense oorgawe weier om bes te gee.
Ek meen hoekom??? Hoekom sal jy te trots wees om aanwysings te vra? Want die ego laat dit nie toe nie, dís hoekom... en soos ń slegte geval van PMS moet jy "die ego" ook nie op die naam noem nie, want dan kry die hardkoppigheid nog ń hardnekkigheid ook by! En gewoonlik is dit die logiesste, praktiesste man wat se ego hom in die vreemdste situasies "uitdaag", en dan val hy elke keer daarvoor?!
Nét so is sentiment. Dis ń mooi naam vir ń enigma, wat niemand kan vasvat of verander. Maar dit kan nét so hardkoppig wees soos daardie ego. As iets vir jou sentimenteel is sal jy veg daarvoor en daaroor, al sien jy jouself in ń buite-die-liggaam-belewenis in die hoekie van die kamer vir jouself oopmond en staar... nooit as de nimmer sal jy bes gee nie. En sentiment is stérk, ek dink ń hele paar verhoudings het al skipbreuk gely as gevolg van ń sentiment wat nie gerespekteer was nie, of selfs nog erger: wanneer dit twee verskillende sentimente oor dieselfde aangeleentheid is!
Mag ons onthou dat ons almal maar ń bietjie sentimenteel is, en mag wees en al word net die mans daarmee ge-etiketeer het ons elkeen ook maar ń ego, wat soos ń klein hondjie gepaai en getroetel moet word. Wees daarom "nice" met jouself, jou ego en jou sentiment... veral as dit nie joune is nie... want die wiel draai...
Opmerkings
Plaas 'n opmerking