Wanneer die wasgoedlyn sing...
Ek het die naweek wasgoed gewas, en die wind het lekker gewaai, sodat ek amper al my wasgoedpennetjies moes gebruik om die wasgoed op die lyn te hou. Toe ek in die huis sit, hoor ek hoe die wasgoedlyn sing van die wind wat dit draai (sommige mense sal meen die wasgoedlyn kort Q20... ek fokus eerder op die gesing). Dit het my laat terugdink...
Toe ek laas moes wasgoed vassteek in 'n wind wat waai: dit was toe ek by my liewe vriendin, Griselda gekuier het oor Kersfees 2017 (of dalk was 2016?). Na 'n hele paar stoppe het ons uiteindelik by Kareedouw gestop, om Kersfees te vier en die "vuil klere" sak was vol en die tasse leeg. Ons het wasgoed gewas tussendeur geselsies maak en lag en deel. Hulle wasgoedlyn is agter die huis, een van daardie regte laaaaaaang plaas wasgoedlyne met pale in die middel en rye drade waarop jy 'n hele huis se beddegoed gelyk kan hang, as jy wil. Ek het daar besef dat ek nie eintlik nodig het om die wasgoed vas te steek by my huis nie, want ons het nie 'n idee van wind wat wasgoed sal wegwaai, soos wat die Kapenaars het nie.
Toe dink ek aan koshuis wasgoed... Katjiepiering se waskamer was aan die "Mopanie-kant" en ek het aan die "Maroela-kant" gebly, eerste- en tweede jaar op die eerste vloer, maar derde jaar was ek op die vierde vloer... dit was veeeeeer loop waskamer toe: trappe af, die lang eetsaal gang deur, weer op by Ontvangs se trappe en dan kry jy die waskamer. Menigmale het ek vergeet dat ek wasgoed gewas het en dan onthou ek 'n dag of 2 later daarvan, hardloop waskamer toe en: as jy gelukkig was het iemand dit vir jou uit die wasmasjien gehaal en in die tuimeldroeër gegooi, dan kos dit jou die tuimeldroeër weer vir so 10minute aansit, om net die kreukels uit te kry. As jy baie gelukkig was, het iemand dit vir jou uit die tuimeldroeër gehaal en opgevou en dan kan jy, soos 'n wafferse "celeb", net jou opgevoude wasgoed vat en heupswaaiend na jou kamer terugkeur. Maar ás jy oor 'n naweek wasgoed gewas het, is die kans goed dat daardie bondel wasgoed steeds verkreukel en halfdroog in die wasmasjien lê en vrot! Dan moet jy óf dit weer uitspoel, óf dit weer was... en hoop dat jy nie weer daarvan vergeet nie! (Nooit in my 4 jaar in Katjiepiering het daar ooit enige van my wasgoed "weggeraak" nie, selfs al het ek dit vergeet).
En toe ek tik van die klere so op die wasgoedlyn en ek dink aan die "uitputtendste" wasgoed om op te hang - dis nou daardie klein onderkleertjies en kouse... toe onthou ek die wasgoeddraad wat ek gehang het saam my Ma: ek het 'n gróót maag gehad en ons het al die klere, wat ons so geseënd was om te kry op my 2 babatees, (1 in Pretoria, en 1 in Witrivier) uitgespoel en opgehang. Jinne dit was 'n vól draad: vol klere en vol klein kousies en "babygrows" en spoegdoeke, wat omgehekel was en op geborduur was, en borslappe... En jy dink jy is besig om voor te berei met al die takies en gedagtes en dinge... maar niks kan jou voorberei op tweeling-kry... Ma-wees en al die unieke uitdagings wat elke kind en omstandigheid bring nie.
Maar een ding het ek deur my lewe geleer, en weet ek nou nog beter as ooit: as jy regtig nie meer weet nie... maak soos die wasgoedlyn en sing...
"Luister, konings, gee aandag, regeerders! Ek sing tot eer van die Here, ek prys die Here die God van Israel met my lied: ...toe U uit die veld van Edom opgetrek het, het die aarde gebewe, het die hemel reën gegee: die wolke het strome water gegee. Die berge het weggesmelt voor die Here... Ek staan by die leiers... by die wat hulle vrywillig aangemeld het. Julle moet die Here prys..." (Rigters 5:3-5,9)
Ek love hoe jy aan die dink gaan en wat dan daaruit kom.
AntwoordVee uit