Ek het vergeet...


Ek het hierdie op Whatsapp by iemand gekry en dit was vir my oulik... nie omdat ek onsimpatiek is teenoor die aaklige siekte nie, maar juis omdat 'n wyse, dapper vrou wat ek ken dieselfde grap kon maak toe haar Ma eers by haar moes bly en toe later Ouetehuis toe is a.g.v. die "duitser"...

Maar eintlik is dit sommer net om die blog op 'n "ligte noot" te begin want eintlik voel my gemoed tans maar swaar.

Ek het vandag 'n nerf-af besering gekry... toe maak ek dit skoon met 'n watte en water en besef: ek het vergeet...
Ek het vergeet hoeveel dit brand! En verstaan nou beter hoekom Demar kerm wanneer ek dit vir hom doen, ek sal volgende keer beter verstaan en meer simpatiek wees.

Ander dinge wat ek kort-kort vergeet is hoe moeilik dit is om 'n balans te kry en dan daardie balans te hou. Dis soos om water te probeer vang? Dit glip so vinnig deur mens se vingers! Vandag het ek met die manne by Shell "balans" gedoen. Ons het op ons een been gestaan vir 30 sekondes... daarna ons koppe stadig heen-en-weer gedraai, terwyl ons op een been staan en daarna het ons ons oë toegemaak. Dit was besonders moeilik, wat ek aangeneem het dit sal wees - dit was die doel van die oefening, maar ek het vergeet...
Ek het vergeet presies hóé moeilik dit is om op jou een been te staan mét toe oë!

Dit is vir my 'n akkurate beeld van hoe moeilik balans is, wanneer jy in die donker is... of laat ek eerder sê: op die donker fokus. Want ons is mos Jesus se kinders en Hy is die Lig en die Lewe, maar so maklik word ons vlammetjie gedoof deur die uitdagings van die lewe. Ons verloor ons fokus van ons Lig en Lewe en fokus op al die donker vrae, twyfels en vrese en dan kan daar net een ding gebeur: jy gaan val!!!!! As jy gou genoeg jou oë oopmaak kan jy nog jouself "vang", maar struikel gaan jy struikel.

Die kop-draai-terwyl-jy-op-een-been-staan is vir my soos om die opinie van ander op ag te slaan. Soos 'n tenniswedstryd wissel jou emosies ook dan, afhangend van hoeveel gewig die een se opinie dra op wie jy op daardie stadium fokus: en soms is dit regtig uitdagend, want dié wie se opinies gewig dra is só uiteenlopend en steeds is dit mense wat Sy kinders is en vanuit hul persoonlike oortuigings en verhouding met Hom jou vrae beantwoord en hul opinies gee. Maar... op die ou einde is dit jou eie been waarop jy moet staan en jouself wat jy moet balanseer. Jy moet vrede kry... jy moet 'n openbaring kry en die vaste wete en plan om iets te doen... of niks te doen... net te wag...

Dit is dalk die moeilikste: die gewag om te wéét wat vir jou en jou geliefdes reg is, wat julle unieke balanseer punt is. Om aan te hou vir 30 sekondes... vir een maal op elke been... nog 'n keer op elke been... weer 'n keer op elke been. In die proses gebeur twee goed: jy kom agter hoeveel spiere werk om op een been te staan, jy voel hoe daardie spiere moeg raak en later verloor jy jou balans, nie omdat jy nie meer kan balanseer nie, maar omdat jou spiere nie meer wil nie. Jy het vergeet...
Vergeet dat balans nie net oor balans gaan, maar oor klomp klein dinge wat saam werk en moet saam stem.

Maar dan, die wonder van die menslike liggaam: as jy aanhou om te probeer, aanhou balanseer, dan word jy al hoe beter daarmee. Jy kan langer staan, jy kan meer kere staan en dis waar ek nou is: in die oefening om aan te hou. Om sterker te word... ek word op die toevalligste manier herhinner aan my woord vir 2017: "wag"..


Ek moet onthou...
Dat God aan my kant is
Dat Hy reeds vir my die oorwinning behaal het.
Dat ek die ewige lewe het en reeds nou dit kan leef.
Dat my kinders Syne is en my man ook, so praat so met hulle... dink so oor hulle en bid so vir hulle...
Dat ek die lewe moet geniet...

Soos ons by Charlie Chaplin leer:
"Charlie Chaplin told the audience a wonderful joke and all the people started laughing... Charlie repeated the same joke and only few people laughed..???? He again repeated the same joke but this time no one laughed...?????? Then he said these beautiful lines...
"when you cannot laugh on the same joke again and again...then why do you cry  again and again on the same worry."


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...