'n (Effens stoute) analogie oor visvang...
Girls! Met die Rugby Wêreldbeker het die manne mos BAIE gesels... Radio Raps met sy "chat ñ bietjie ball" (of is dit bol-lie) kom in my gedagtes op. En so met die manne-dinge aan die gang, het ek iets geleer wat ek nou maar met jul kan deel... oor visvang...
Nou kyk, girls, ek wil vir julle sê: as jou man visvang... dan is die stryd reeds half gewen. Nou moet hy net die analogie leer tussen visvang en... wel... die slaapkamer en sy dingetjies...
Want die naweek, toe ek saam gaan visvang, toe let ek ñ paar dingetjies op. Want sien: jy kan nie sommer net begin visvang nie, jy moet beplan... verkieslik reeds die aand vooruit. En jy moet voorberei... jy moet die stokke uithaal en regkry... seker maak alles is in die viskas: vislyn, sinkers, dobbertjies, hoeke ens., dat die visnet reg is en... en... en...
En dan is daar natuurlik die aas... nou kyk party visse geniet dié een tipe (so glo die manne) en ander visse ander, maar dis altyd goed as jy darem so paar opsies het: erdwurms, mielies, pap, brood, hoenderlewertjies... en dan is daar natuurlik die vals-aas. Sommige ruik lekker en ander stink nogal... maar dis als vir ñ goeie doel. Sommige ouens gooi sommer mielie-bomme voor die tyd om die vis te lok, dat hul kan begin antisipeer: hier kom ñ ding!!
Dan is daar ook natuurlik die versnapperinge (wie kan nou vis vang sonder snacks & ietsie te drinke... sommige ouens "hengel" mos & dan is die coolbox baie belangriker & groter as die viskas). As jy nou regtig goed beplan het kan jy ñ vleisie braai langs die viswaters, terwyl jy wag vir die byte. Want sien dís eintlik waaroor visvang gaan: wag... antisipeer en "timing"!!! As jy te vroeg kap, dan kom die vis los... maar as jy te haastig is, het die vis dalk nog net die aas geproe en nog nie behoorlik gebyt nie! En dan verloor jy die vis, voor jy dit nog gevang het!!!
En soms so deur die visvang kruis die lyne... of jou lyn breek af of die katrol, katrol nie en dan sit jy met een vreeslike kraaines en dán moet jy éérs geduldig wees! Of jy moet maar besluit om die hele ding af te sny & van voor af te begin... Of nòg erger: jou lyn sit vas!! Nou kyk dan, as die hoek die laaste is, of die sinker is spesiaal, dan moet jy in daardie dam inklim & die koek ("pardon the pun") gaan soek!!! Soms het jy daai grênd waterbootse & broek aan om dit meer draaglik te maak, maar soms moet jy maar uittrek tot by jou onnie & die koue soos ñ man vat!!! Darem is daar die belofte van nog ñ keer se visvang ná al die moeite!
So, as die stokke nou in die water is... en die mikke in die grond gedruk, die dobbertjies is op en die polisiemanne is aan... dan wag jy... geduldig... gedienstig... gedweë (ek weet dis eintlik osse, maar dit het goed geklink!) En dan moet jy nou besluit: hoe lank jy gaan wag voor jy die stok uittrek en ñ ander tipe aas probeer. Dalk het jy ñ vlieghengel stok en kan jy intussen so bietjie vlieghengel... of sommer ñ spinnertjie aansit en die visse so bietjie terg en kyk of dit nie vandag daai tipe vis is wat byt nie. Jy weet sommige visse hou sommige kere van so ou blink dingetjie wat voor hul neuse gewaai word!
En dan soms... net soms... is jy gelukkig & dan byt die vis. So een na die ander of sommer twee op ñ slag! Jy weet nie watter stok om te gryp en watter om te los nie en kan nie vinnig genoeg in katrol nie. Soms is jy so opgewonde oor die byt, jy vergeet hoe om te katrol! Soos bokkoors, maar viskoors!!!
Nou kyk, dan as jy nou álles reg gedoen het en jy het nou die vis uitgetrek, dan kan jy nou sien watse vis dit is en hoe groot die vis is en dís mos nou altyd waaroor die gespot gaan. Dis nou waar ek glad nie weet of die grootte van die vis nou enigsins ñ rol speel in die genot van die visvang nie?! En hiermee bedoel ek nou die grootte van die genot & nie die vrou nie! Ek meen: maak dit nou regtig jou minder van ñ visserman as jy nou klomp kleintjies vang as die ou wat ñ grootte vang? Kan 5 kleintjies nie maar tel vir een grootte? "Or does size really matter?" Is dit hoekom die vis altyd groter is in die storie as in die "regte lewe". Maar dan... as jy die storie genoeg oorvertel sal jy dit later glo en aangesien jy nou nie uit die slaapkamer kan praat sal jy dit met jouself bespreek en dan is jy ook later tevrede.
En dan... sien jy uit na die volgende visvang al was die laaste nou nie so suksesvol nie. En kan daar met net soveel entoesiasme beplan en voorberei word! Die wonder van "weer probeer"... en so van die weer gepraat: as dit nou die dag reën of vrek koud is as jy gaan visvang... moenie negatief wees! Vat dit ook soos ñ man en maak die beste van ñ slegte saak, want sommige visse byt selfs in die reën en as dit koud is... met ñ bietjie geduld en báie deursettingsvermoë!
Lekker visvang, manne! En onthou wat julle daar geleer het as julle by die huis kom!;-)
Opmerkings
Plaas 'n opmerking