Moedersdag...


Moedersdag 2009... 'n Bittersoet dag vir my, wat ek altyd sal onthou, al probeer ek ook hoe vergeet...

Want sien, toe was ek, na 'n jaar se "probeer", reeds 3 dae in die wolke, omdat ek met so 'n "home pregnancy test" uitgevind het dat ek 'n Ma gaan word! En natuurlik het ons, in geloof, almal laat weet. Gebel... geSMS... Ek onthou die arrogante-cute gediggie, wat ek gemaak het oor sekere dinge wat dalk in 2010 kan gebeur: die Bulls kan Super 14 wen... Bafana-Bafana kan dalk die Sokkerbeker wen, maar verseker gaan daar 'n nuwe babatjie in ons huis wees... Dewald het vir my (ons) blomme gekoop, asook van ons ander vriende en ons het selfs besluit om dit reeds te gaan "vier": met 'n Moedersdag-ete by Jatinga.

En daardie aand het ek begin bloei... Ek het die grootste paniekerigheid óóit oor my voel kom, en sou énigiets doen dat dit inplantasie bloeding moet wees... maar diep in my hart het ek geweet dit is nie... Ek het my dierbare, deeglike huisdokter gebel en sy het my verseker dat mens niks kan doen nie, behalwe om "rustig te wees": in jou kop en met jou lyf... Dit het ek gedoen, maar soos die dae verbygegaan het, het die bloeding nie gestop nie... die "rustigheid" het met my kop gesmokkel en my gees versmoor. Ek het geweet... dis 'n miskraam... Donderdag kon ek 'n afspraak kry vir 'n sonar... teen die tyd sal die hartjie al klop?!

Terwyl ek daar gelê het is die een lugkasteel na die ander gebou en dan weer getuimel... tot die dokter gesê het wat ek gevrees het: dis 'n miskraam... daar is niks meer in "die sakkie" nie en "dit" kan moontlik vanself uitbloei, maar 'n evakuasie (skraap) is aan te bevole... ek was platgeslaan... Dewald ook, maar hy het probeer sterk bly. Ek het huilende die dokter gesméék om seker te maak en hom laat belowe dat hy weer sal kyk more, voor hy die skraap doen, maar in my hart het ek geweet...

Ons het huis toe gery in stilte en by die huis op die bed, in mekaar se arms gesit en huil. Die bosse blomme het "begrafnis blomme" geword. Die goeie nuus moes "teruggetrek" word en brawe vriende het gesms en nóg meer brawes het kom kuier. Philip se woorde was verslae: "...ons is so jammer, Marne. Ons weet nie wat om te sê nie, want ons ken niemand met wie dit nog gebeur het nie..."

En so het ons pad begin na gesond word... na heel word... na vergeet, na weer probeer... liefde maak kry 'n bitter smaak in die mond, vir 'n ruk, en jy wonder hoe lank voor jou hart en lyf weer reg is... maar die feit dat jy 'n miskraam gehad het gaan nie weg nie. Nee, dit dra jy saam jou... en wanneer die vriendin, wat 7wk gelede vir my die tuistoets fototjie geWhatsapp het, laat weet: "Marne, ek het ñ miskraam gehad"... dan onthou jy...

Dat niemand se hart gemaak is om te breek nie... dat geen swangerskap reg voel wanneer dit aan jou lyf gevoel word maar nooit uit jou lyf kom as 'n pragtige babatjie, wat jy kan vashou en vertroetel en verder lugkastele voor bou nie... dat ons mense gerat is vir 'n begin en 'n gelukkige einde - weer 'n begin. Dan Whatsapp jy maar moedig dìt terug, wat jy dink jy toe dalk sou wou hoor...

"Ag nee C!!! Ek is so SO jammer om dit te hoor. Mag jy God se vrede ervaar wat ALLE verstand te bowe gaan in hierdie hartseer tyd. Hy is by jou en hou jou vas. Jy moet rou, jy mag kwaad wees en vrae vra en gee jouself asb. tyd!"

Maar ai... dis so oppervlakkig vir iets wat so diep seermaak... ek glo daar is miskrame wat steeds erger is: die waar die hartjie al gehoor klop het... die lyfie al gesien beweeg het... en die geslag al bekend was... die wat 'n geboorte moes wees maar nooit was nie... of selfs die wat 'n paar ure geleef het... ek weet dis "algemeen" en sommige vroue het 2 miskrame vir elke kind wat sy het... maar onthou net: dis 'n routyd vir elke vrou... hoe ver en hoeveel sy ookal geweet het! En mag die Here ons krag en wysheid gee om te ondersteun en troos bring in Sy soewereiniteit... en uiteindelik GENESING...



Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...