Die vreugde van (terug)gee!
Ironies genoeg is die spreekwoord mos: "Dis beter om te gee as om te ontvang", wel saam met die aanlyn bestellings wat deesdae al meer en gemakliker raak, het ek ook nou die vreugde ontdek om 'n item of items te kan terug gee. So in die internet-era kan ons nou daardie spreekwoord uitbrei na: "Dis beter om te gee as om te ontvang, maar dis nog beter om te kan teruggee as jy verkeerd ontvang het!" Haha!
Dit het alles begin met 'n verkeerde Temu-bestelling. Ek was so opgewonde om die regte selfoonkassie vir Dewald se ou, maar steeds baie goeie, Samsung te kry, nadat dit 2x in Desember lelik geval het. Dat ek die kleur gekies het en nie opgelet het dat ek moet kies of dit 'n N10 of 'n N10plus is nie - die "default" is op die N10 (al het ek vir die N10plus gesoek), en toe kom die regte kleur maaer die verkeerde grootte hier by ons aan. Wat 'n teleurstelling! Verder het ek ook vir ons 'n gazebo bestel, ek het nogal gewonder waar steek hulle die pale van die gazebo weg, toe ek die koevert kry, maar enigiets is mos deesdae moontlik en ek is mos 'n terminal optimis - soos tannie Marinda my geleer het, mens kry...
Maar helaas... dis toe nie 'n gazebo nie, met geen pale nie. Net 'n laaaaang seil met klomp toutjies aan wat jy rondom jou gazebo kan vasmaak om dit meer privaat te maak of die wind af te keer. Nou ja, dis glad nie wat ek wou gehad het nie en aangesien ek ook nie die verkeerde selfoonkassie wil hê nie, het ek maar die "return" knoppie beproef. Dit was heel vinnig, eenvoudig en pynvry, en ek het selfs ontdek daar was 'n ekstra koevert binne-in my koeverte waarin alles te pragtig gepas het en geseël was, sodat ek net die nuwe "tracking" nommer kon opskryf. Temu het gesê hulle sal in kontak wees om die oplaai-proses te reël, maar die volgende oggend toe bel die Temu-afleweraar en sê hy is daar by die Gym, waar is my pakkie! Jinne, dit het een groot gejaag gekos om uit my slaapklere te kom en daardie pakkie te kry waar hy moet wees! Maar dit het ook toe goed afgeloop en ek het nogal vinnig my "refund" ook gekry, en toe kon ek die regte grootte kassie koop, natuurlik saam klómp ander goed, wat mens nie eintlik nodig het nie, want dit is mos hoe Temu werk.
En toe doen ek dieselfde met twee USB waaiertjies, wat ek op takealot bestel het en gedink het my gaan red van gewisse Laeveld-hitte dood, maar toe dit hier kom toe is dit die verkeerde kleur en regtig baie "effens". En dit was net so maklik om terug te stuur, net weer terug in die boks gesit en toe gemaak met kleefband en weer af gelaai by die optelpunt. Ek wag nog vir my "refund", maar ek moet julle sê: wat 'n vreugde om te kan terug gee! As ander dinge nou net so maklik en in totaliteit terug gegee kan word in die lewe...
woorde...
dade...
'n diagnose...
Mag die Here ons help om hierdie jaar vir Hom te gee, met al die regte bestellings en verkeerde bestellings, mar ons weet dat Hy die een is wat ons laste wil en kan lig maak en dat Sy juk werklik sag is - teruggee sag!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking