Dood gaan werk in kleure...

 ...ek bedoel... mens sien kleure wanneer een van jou geliefdes dood gaan, jy soek dit, asof die swart kleed van die dood, wat alle kleure absorbeer, die een in jou gedagtes meer beklemtoon. Toe my Pa dood gegaan het, was dit blou. Ek hou nie regtig van blou nie, maar dis asof die kern van my bestaan, wat diktee dat seuntjies "blou" is en dogtertjies "pienk", wakker word en die belangrikste "blou" in jou lewe uitlig en laat onthou.


Ek onthou hoe ek die agtergrond van my Whatsapp opdaterings spésifiek blou gekies het, asof daardie dwing van die agtergrond kleur ook die lewe kon dwing om te verander en die nuus om goed te wees...  om met die regte blou die kleur van sy oë te kon ego en dit so oop te hou en lewendig te hou. Ek het dieselfde beleef toe my vriendin se Pa hierdie week hemel toe is: selfs die rooi hartjie, wat 'n terug antwoord was op boodskappe, het sy blou gemaak: die groottes en die kleintjies, asof ook sy wou eer bring aan haar eerste liefde en die belangrikste "blou" voor sy getrou het.


Dis vreemd, want as ek nou aan my Pa dink sou ek dink sy kleur is groen: groen soos die natuur wat hy so van gehou het om in te werskaf, rond te loop en voëls soek en golf speel... groen soos die skakerings van bottelgroen, lemmetjiegroen en grasgroen wat hy een dag saam aangetrek het en toe ek vir hom sê dat die kleure nie so lekker pas nie, toe sê hy - baie verontwaardig - vir my: dat dit dan alles groen is?!

Met Pa se begrafnis het ons gekies om nié swart aan te trek nie. Ek, my Ma, my skoonsussie en my dogtertjie het helderkleurige streep-sonrokkies aangetrek: al die kleure van die reënboog, die spektrum wat alles saamgegooi... swart maak. Hoe ironies dat ons daarmee die swart verlang in ons harte probeer weglieg het.

Die wyn, wat ons nagmaal mee wou vier was rooi... dis simbolies die kleur van lewe, of is dit ook dood? Want as jou bloed vloei, en gesien kan word kan jou lewe uit jou vloei in daardie stroom rooi. 

Maar die mooiste beeld van kleure is die beeld wat in "The Shack" gebruik word, wanneer Mac se oë oopgemaak word om die vergadering van dié wat hom voorgegaan het te kan sien. Die beeld was vir my so mooi en het vir my geklink na 'n plek waar my Pa gelukkiger sal wees as met 'n seergekryde hart op aarde...

Ek het daardie hoofstuk vry vertaal en daaroor geblog in "Lewe kleure", en ek deel dit graag weer...

(Mack) was buite, bo-op 'n klein heuwel onder 'n pragtige, maanlose nag. Hy kon sien dat die sterre in beweging was, nie gejaagd nie, maar stadig en met 'n spesifieke patroon: asof daar 'n groot, hemelse dirigente hul beweging koördineer het.

Met rukke, asof daar 'n sekere teken was, het komete en meteoriet reën deur die sterregeledere getuimel en variasie tot die vloeiende dans gegee. Toe sien Mack van die sterre groter word en van kleur verander, asof dit gaan verskiet of uitbrand. Dit was asof tyd self dinamies en wisselvallig geword het, en dit het bygedra tot die ooglopende chaos, maar ook presiese-beheerde hemelse vertoon.

"Dit is alles so verskriklik mooi", het hy gefluister, omring deur so heilige en majestieuse gesig. "Inderdaad", het die stem van Sarayu uit die lig geantwoord. "Nou, Mackenzie, kyk om jou."

Hy het, en hy het na sy asem gesnak. Selfs in die donker nag was alles duidelik en het dit geskyn met ligkringe in verskillende skakerings van kleure. Die bos self was helder met lig en kleure, maar tog was elke boom onderskydelik sigbaar, elke tak en elke blaar. Voëls en vlermuise het 'n helderkleurige baan gemaak soos dit gevlieg en mekaar gejaag het. Hy kon selfs sien dat daar in die verte 'n linie van skepsels teenwoordig was: bokke, bere, bergbokke en groot takbokke naby die rand van die bos, en otters en bewers in die meer, elk het geskyn in sy eie helder kleure. Honderde klein wesens het orals heen geskarrel, elk lewendig in sy eie glorie.

In 'n streep van perske- en pruimkleure, het 'n visarend na die oppervlak van die meer geduik, maar opgeruk in die laaste oomblikke om net aan die wateroppervlak te raak. Vonke het van sy vlerke afgeval, soos sneeu in die water, met die verbyvlieg. Agter dit, het 'n groot reënboog forel deur die wateroppervlak gebreek, asof dit 'n verbygaande jagter terg en weer teruggeval in 'n spatsel van kleure.

Mack het groter as lewensgroot gevoel, asof hy teenwoordig was orals waar hy gekyk het. Twee beer welpies, wat by die voete van hul ma gespeel het, het sy oog gevang: bruine en mintgroen wat tuimel en rol en speel in hul eie taal. Van waar hy gestaan het, het Mack gevoel asof hy kan uitreik en aan hul raak en sonder om daaraan te dink, het hy sy hand uitgestrek na hulle toe. Hy het dit verskrik teruggetrek, toe hy besef dat hyself ook gloei. Hy het na sy hande gekyk, wonderlik aanmekaar geweef, en duidelik sigbaar in die kleure van lig, wat lyk asof dit dit omvou het. Hy het die res van sy liggaam ondersoek, net om te ontdek dat die lig en kleur hom omring het, 'n kleed van reinheid wat hom vryheid, sowel as volkomenheid gegee het.

Mack het ook besef dat hy geen pyn het nie, nie eers in die gewrigte wat gewoonlik gepyn het nie. Eintlik het hy nog nooit so goed gevoel nie, so heel gevoel nie. Sy kop was helder en hy het diep die reuke ingeasem van die nag en die slapende blomme in die tuin, baie wat nou begin wakker word het met die feesvieringe.

'n Heerlike, uitbundige vreugde het in hom opgewel en toe spring hy, drywend in die lug in op en keer toe weer stadig na die aarde terug. "Dis net soos die droom om te kan vlieg", het hy gedink..."




Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...