Hoe naby is jy?
"As ek stil word, om by U te wees
Bedaar my hart se donker vrees.
As ek U hartklop, teen my wang kan voel
Dan weet ek wat U Woord bedoel.
U is Wonderbare Raadsman
U is Magtige God
U is Ewige Vader
U is Vredevors"
Hierdie lied het my nog altyd diep geraak, en spesifiek die deel van die hartklop wat jy teen jou wang kan voel... hoeveel keer was jy al so naby aan iemand en so stil, dat jy nie hulle hartklop net hoor teen jou oor nie, maar vóél teen jou wang?! Hoe hard en ritmies-reëlmatig moet daardie hart nie klop om dit te kan voel nie. Hoe intens en vol liefde moet die Persoon, aan wie die hart behoort nie voel, vir die een wat met hul wang op Sy bors rus, sodat Sy hartklop gevoel kan word nie...
Dis hoe ons ons lewens begin het: bewus van 'n konstante klop...klop...klop-ritme van die oomblik wat die wonderwerk van ons nuwe lewe in die baarmoeder begin het. Later het ons ons eie hartklop gekry, om en by 28 dae na bevrugting, en het twee, of selfs meer-afhangend met hoeveel jy die baarmoeder gedeel het-hartritmes bygekom. En dwarsdeur die weef-proses was jy bewus van jou Ma se hartklop... en jou hartklop. Ek kan my verbeel dat ons, soos ons groei, al nader aan daardie hartklop ontwikkel. Dat jou beweging in pas met daardie hartklop gebeur en dat jy dit al duideliker hoor, hoe minder spasie daar is. En dan... die eerste wegbeweeg van die familiêre geklop-klop... wanneer dit tyd is om gebore te word en jy jou oor en kop in 'n ander rigting moet draai: ondertoe... in die geboortekanaal in, want dis hoe die Skepper dit bestem het.
Sommiges kom rustig, in water uit, ander in 'n koue teater met behulp van 'n skalpel... dalk is dit die mees traumatiesste van gebore-word: die een oomblik was die konstante ritme van jou Ma se hartklop nog daar, en die volgende was dit net jy en jou hartklop en al die nuwe ervarings in oorvloed. Miskien het baie meer van ons vrese en frustrasies met die wêreld en sy mense te doen met ons geboorte en minder met groepsdruk, huislike omstandighede en opvoeding? Want niemand van ons kan iets verander aan ons geboorte nie, maar almal van ons moes 'n mindere of meerdere mate van trauma ervaar het. En trauma is geraas... in jou kop, jou siel en jou gedagtes.
Om dan stil te word... regtig af te skakel van die gejaag van elke dag se frustrasies maar ook weggesteekte trauma en stres, totdat jy so stil is dat jy weer bewus raak van 'n hartklop by jou, iemand anders het dit neergepen as "...die ander ry voetspore in die sand"... My hartswens vir my mense, met hul verjaarsdae is altyd: seën in oorvloed, asook oorvloedige skoot-tyd met die Een wat hul onvoorwaardelik liefhet. Want dis eers wanneer ons op Sy skoot klim, in Sy oë kyk en met ons wang teen Sy bors sit, dat ons ons waarde en identiteit by Hom kry... onsself deur Sy oë kan sien en dan werklik stil word, dat ons hart se donker vrees kan bedaar, want oorverdowend dan en allesomvattend is Sy liefdeshart se geklop in ons ore. Wanneer jy so sit, kan mens nie anders as om jou oë toe te maak om nog meer intens bewus te word van daardie hartklop in jou ore totdat jy dit teen jou wang kan voel! Dan besef ons dat álles wat ons nodig het, ons daar sal kry:
Het jy wonderwerke nodig? Of dalk wyse raad? Hy is... Wonderbare Raadsman.
Voel jy klein en swak en gebroke? Hy is... Magtige God
Voel jy nutteloos, eenkant, alleen of ongeliefd? Hy is... Ewige Vader
Is jy ontsteld, hartseer, omgekrap of voel jy verontreg? Hy is... Vredevors
Dan weet jy nie net wat Sy Woord bedoel... jy hoor dit, jy voel dit en jy leef dit!
As jy stil word...
Opmerkings
Plaas 'n opmerking