Die deurskynende-verdwyn-mens...
En ek was nie eintlik seker waarom nie.
Maar dit het gevoel of ek verdwyn,
So toe hardloop ek spieël toe om te gaan kyk.
Toe sê ek: "...hier is ek, hier is ek, hier is ek! Maar hoekom voel ek soos 'n deurskynende mens?"
Toe strompel ek terug na my kamer toe
En staar na die son wat opkom.
Toe hoor ek myself by die venster uitskree: "...hier is ek, hier is ek, hier is ek! Maar hoekom voel ek soos 'n deurskynende mens?"
Die ligte het begin aangaan, en mense het begin skree: "Sal die mal ou asb. weer gaan slaap?!"
En daar was ek: aan die lag by my venster, skielik het ek baie beter gevoel, want iemand het gehoor wat ek gesê het...
Wel, dis nie iets groots, geen openbaring nie. Geen antwoord oor ons lewens hier. Maar ek weet, en kan een ding verseker sê: soms het ons almal nodig om te sê,
"...hier is ek, hier is ek, hier is ek!" Wanneer die lewe ons laat voel asof ons deurskynend is..."
Hierdie is my vry vertaling van Joshua Kadison se uitstekende lied: "Invisible Man". En ek sien al meer mense wat heeldag en al dag besig is om seker te maak dat hulle nie regtig verdwyn nie, al voel dit so. Hulle skree nie uit by hul kamervensters nie, nee. Hul gebruik hul selfone... oorgebruik... misbruik hulle selfone, om seker te maak hul "klink" nog...
Stemboodskap op stemboodskap word opgeneem en oorgeluister... uitgevee en weer opgeneem. Selfs wanneer jy tevrede is met die boodskap en dit gestuur het, luister jy weer na jou stemintonasies en asemhalings om te hoor of jy verstaanbaar en aanvaarbaar is. So, het baie mense ophou stemboodskappe maak, want hulle hou nie van die manier wat hul klink nie, want ons hoor mos ons self van binne, nie van buite nie...
En wat maak jy dan, as jou stem verdwyn van jou foon, uit vrye keuse... Dan neem jy foto's van jouself, met daardie einste foon. Soms is dit net jy wat glimlag in die skermpie - 'n regte "selfie", maar soms is daar ander wat ook half-verdwene-deursigtig voel, dan is daar 'n klomp karakters in jou foto. En dan, soos 'n 2-jarige wat sien dat Mamma haar video, gryp elkeen die foon om te kyk en te sien: hier is ek! Hier is ek! Hier is ek!! Al voel ek soos iemand wat verdwyn. En dan stuur jy dit vir mekaar en die wat nie daar kon wees nie en sit musiek by vir 'n "Reel" of 'n filter vir minder plooie of 'n treffender effek en al wat jy eintlik probeer sê is: hier is ek, hier is ek, hier is ek! Maar waarom voel dit asof ék besig is om te verdwyn?!..."
Opmerkings
Plaas 'n opmerking