Wat ons van ysbakkies geleer het...
(Vir Ruhan, op sy 43ste verjaarsdag)
Toe ons jonk was het jy nie ys gekoop nie, jy het ook nie 'n ysmasjien besit nie. As jy ys wou hê moes jy dit uit 'n ysbakkie uit jou vrieskas uit kry. Mens het soms sulke "stainless steel" ysbakke gekry (was dit "stainless steel"? Dit was so 'n dowwe metaal, wat blêdy koud geword het), met "deviders" in... soms het dit so hefboompie gehad, wat jy kon afdruk om die ys makliker uit te kry, baie middeleeus. Of dis hoe ek dit onthou...
Maar meeste van ons het sommer net gewone plastiek-ysbakkies gehad, wat jy so moes draai en kap om die ys uit te kry , en soms kap jy dit sommer stukkend!
*Ysbakkies het ons geleer planne maak (en versigtig wees met koue goed.)
En die grootste uitdaging was nie om die ys uit te kry nie, o nee! Die grootste uitdaging was om die ysbakkie vól te maak, en dan vol in die vrieskas te kry.
Want die pad van die kraan na die vrieskas was baie lank en vol hindernisse, wat maak dat jy moet koes of swenk of buk... veral buk. Afhangend van watter soort vrieskas jy het: een van daardie wat jy onder oopmaak en dan die laai moet uittrek, om die ysbakkie in te sit - dít verg besonderse vernuf, balans en koördinasie...
*Ysbakkies het ons vernuf, balans en koördinasie geleer!
...en selfs dán, indien jy die ysbakkie gedra het - sonder om te mors. En die laai oopgemaak het - sonder om te mors, moet jy daardie bakkie insit... sonder om te mors, want in die vrieskas is daar nóg uitdagings: so is byvoorbeeld gevriesde ertjies nie die ideale basis vir 'n ysbakkie vol water nie. Ook nie die gevriesde skaapchops, wat "reguit" gelyk het, totdat jy die ysbakkie daarop neersit.
*Ysbakkies het ons geleer dat skeef-wees nie reg is nie.
Ook kan jy nie sommer aanneem dat die een ysbakkie bo-op die ander ysbakkie sal pas nie, want mens het sulke reghoekige ysbakkies gekry en dan sulke ronderige-kleinerige-vierkanterige-ysbakkies ook en die proporsies was nie versoenbaar nie.
Ander vrieskaste is diep... soos 'n kis, en jy moet jou arms amper uit die pootjies rek om die ysbakkie in te kry, en probeer nou 'n ysbakkie stil hou terwyl jy so rek?!
*Ysbakkies het ons soepel gehou.
En dan... as jy uiteindelik die ysbakkie volgemaak het en suksesvol na die vrieskas toe gedra het en, sonder om te mors, dit ingesit het, dan moes jy wag...
*Ysbakkies het ons geduld geleer.
Daar was min dinge so bevredigend én frustrerend wanneer jy meen die water moes nou al ys geword het en jy draai daardie bakkie so in die middel en jy sien die waterdruppels opkom van onder die dun lagie ys, wat wel al gevorm het. Dan moet jy jou kans vat: sal jy dit ingooi in jou glas, of sal jy dit maar terugsit in die vrieskas, en verder wag?
*Ysbakkies het ons geleer skat en optimisties wees.
Nou se dae is daar ysmasjiene by Makro op "Black Friday specials" en die garage op die hoek is dag en nag oop met sakke vol relatief-bekostigbare ys in hul vrieskas. So... mens koop nie meer eintlik ysbakkies nie. Dalk het die ysbakkie-vervaardigers gedink die rede is die "ys-uithaal"-proses wat die verkope laat afneem het, en met die uitvindsel van silikoon het hulle die hele ysbakkie daarvan gemaak. Maar 'n silikoon ysbakkie is nie baie stewig nie en dís nou 'n gemors van die kraan na die vrieskas: as jy altwee hande móét gebruik en ook sommer net onprakties! Toe sit hulle die silikoon net onder: nou het jy 'n stewige ysbakkie met 'n silikoon bodem, wat makliker beweeg en dus die ys laat uithaal.
*Ysbakkies het ons geleer: ferm is beter...
En daarom...
Beveel ek aan julle skaf vir jul so ysbakkie aan, dis R24.99 by Pep home... want mens moet altyd 'n "back-up" plan hê...
*mens moet altyd aanhou planne maak (en versigtig wees met koue goed)
*jy moet bly skaaf aan jou vernuf, balans en koördinasie
*jy moet jouself herinner dat skeef-wees nie werk nie.
*jy moet soepel bly en ook geduldig wees
*jy moet aanhou skat en optimisties wees en bly
* en onthou: ferm ís beter?!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking