Dertig jaar Matriekreünie


Dertig jaar! 

Soms voel dit of dit in 'n oogwink verby gevlieg het. Ek onthou nog die anti-klimaks van die laaste keer by Hoërskool Carletonville (Callies) se hekke uitstap, na my laaste matriek vraestel. Sonder enige fanfare of ballonne... was dit nou dit? 


Driehonderd en sestig maande! 

Van leer en studeer van liefde soek, dit vind en in detail ervaar, verloor en weer vind. Van besig wees en vakansie hou van ongelukke en seer en vreugdes en lééf!


Eenduisend vyf honderd en sestig weke! Dit klink so lank soos 'n dubbel wiskunde periode by Mnr. Broodryk kon voel, of daardie drie Rek.klasse, na mekaar, by Juf. van Eeden óp 'n Vrydag nà tweede pouse!


Tien duisend nege honderd en vyftig dae! 

Dis hoe lank ons nou al uit Matriek is! Dit voel soos die treë wat ons in Langstraat afgehardloop het, vir tannie Brecthie, wanneer ons moet fiks word vir atletiekseisoen. Of die letter-vir-letter spoedtoets tik, by juffrou Wheeler. 


Negentien-drie-en-negentig...1993...

Die jaar voor ons geweet het wat 'n selfoon is; 11 jaar voor Facebook en 14 jaar voor Whatsapp, toe daar nog musiek winkels was, jy nog n video kon gaan uitneem en McDonalds onbekend was. Hêng, in Carletonville was dit daardie dae "Gold Bar Grill" of Wimpy toe!


Só glo ek het elke '93 Callie Matrikulant 'n magdom herinneringe wat losgekom het toe ons, via Facebook en Whatsapp, hierdie reünie begin beplan het. Mag hierdie reünie jou ver paaie laat loop met mooi gedagtes van spesiale mense, spesiale vriendskappe en spesiale tye. Mens is net een keer jonk, en ons was in die béste era jonk en ons kon... want ons wou!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...