Niemandsland...

 "Good goes up, bad goes down"... dis die rympie wat jy leer wanneer jy 'n operasie kry en krukke jou beste maatjies word. Ek het dit wel as Biokinetikus geken, maar nooit gedink dit sal 'n persoonlike refrein raak nie. 


'n Groot operasie is soos 'n baba wat gebore word, in terme van dae en weke aftel, soms voor, maar veral ná die operasie. Mens se lewe word op "pause" gesit en dis al hoe mens kan uitsien na wanneer die lewe weer "terugkeer na normaal". 

Een week na die heupvervanging... 

Twee weke na die heupvervanging... 

Drie weke na die heupvervanging... 

Die bakens op jou pad is Fisioterapie sessies- en/of oefeninge en die verandering daarvan. En as jy ék is doen jy dit getrou, tot op die rep., set en beweging, want jy weet #movementismedicine en jy kan voel hoeveel dit help en jy "losser", gemakliker en sterker word.


Na 4 weke mag mens die een kruk los en begin bestuur as jy nie "onder die invloed van pynmedikasie is nie..." Wel, my sterkste pynmedikasie was 2 Panado's en dié het ek lankal ophou drink, so ek was baie opgewonde vir die mylpaal. Nou kyk: daardie krukke en jy het so liefdes/haat verhouding, want die goed help jou so baie maar dit val nóg meer! En as dit val is dit 'n stryd om dit op te tel, man! En verder is dit in die pad, nie net wanneer jy wel op jou eie besig is by die stoof of skottelgoedwasser nie, maar sommer net in jou kop, want dit koggel jou heeltyd van 'n hoekie af en herinner jou aan jou geremdheid.


Nou trek ons by 6 weke. Die afgelope paar dae moet ek hardop sê; "good goes up..." en dan dínk watter een is geopereer, want albei voel "good". Ek was gister vir my opvolg-afspraak en dokter is baie tevrede: die wond lyk mooi, die "kunsgewrig" sit soos en waar dit moet en alles is in plek. Die beweging is op standaard en pyn vry. Maar eintlik mag alles (wat dit ookal is), eers gebeur na 8 weke. En dit beteken dis nóg 2 weke?! En nou bevind ek myself in "niemandsland". Daar waar ek sonder die krukke kan loop, maar ek hoef nie, en moet ook nie as ek uit gaan of die terrein rof is nie. Ek kan bad maar dokter is bang vir val... ek kan op my sy lê maar met 'n kussing tussen my knieë en as dit uitval terwyl ek slaap is daar steeds 'n kans vir dislokasie... 


So eintlik het niks verander nie... nadat jy so getrou die weke afgetel het, die oefeninge gedoen het en uitgesien het na SES WEKE is dit hier en jy bevind jou in "niemandsland". Ek onthou dieselfde teleurgestelde gevoel met my laaste skooldag van Matriek... en nou is jy klaar... vir 12 jaar het jy skool gegaan en hard gewerk: toetse en eksamens geskryf, atletiek gedoen, landloop, netbal, sokkies, al die kultuur wat jy kon inprop... die hele jaar het jy geweet gaan eindig in dié dag: die laaste keer wat jy jou skooldrag aan het en by daardie skoolhek uitloop, vir jou maats as "hoërskool leerling" totsiens sê... en toe is dit daar... en so 'n anti-klimaks. 

Nou?

Wat?

Nou?

Niemandsland...


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...