26 November 2016 - &
Ek sit by jou afskeidsdiens, liewe Jaampies... met 'n pienk ballon, wat ek natuurlik opgeblaas en geknoop het. Ek is so spyt daaroor, want dis nou heeltyd in die pad...
Maar ek kan nie anders om die simboliek van jou en my eie dogtertjie daarin te sien nie. As ander mense daarna kyk sien hulle net hierdie mooi, pienk ballon. Hulle dink aan partytjie en pret... hulle sien nie hoe "gestremd" nee "gerem" ek nou is, want ek het net een hand wat werk. Ek kan nie hierdie fragiele ballon neersit op die gras nie, want dan bars dit... as ek dit op 'n stoel neersit waai dit weg en beland dit op die gras en dan bars dit ook. En dan word almal verontrief en ek wil tog so graag nie ander verontrief nie...
Nou skuif ek maar die ballon van die een hand na die ander. Ek glimlag en dink dis so feestelik maar verwens dit saggies in my hart, die onvermoë wat dit in my lewe uitlig en my ongeduld wat duidelik en vinnig sigbaar word vir almal om te sien, teenoor hierdie pragtige, onskuldige ballon, wat ek uit my eie keuse opgeblaas het.
Maar dalk was dit juis vir my gegee sodat ander die ballon kan sien en hier-en-daar my vir 'n oomblik daarvan kan verlos, omdat hul tog wel diep in hul hart besef dat die ballon nie net mooi is maar ook fragiel is en soms 'n ekstra hand benodig.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking