die brawe vrou
Ek wil jul vertel van ń brawe vrou: ń vrou wie se geliefde dood is. Daardie vrou staan elke oggend op met ń bewustheid van die grootste verlies denkbaar. Soms het die bewustheid haar in die nag wakker gemaak met ń wrede droom, of soms met ń bittersoet een. Die bewustheid is soos ń swaar jas wat sy om haar dra: sommige dae is dit amper ondraaglik en swik sy onder die swaar en druk, maar ander dae: winter dae... is die jas meer draaglik en amper gemaklik, maar die drukking is steeds swaar en tap haar energie en daag haar elke dag geestelik, emosioneel en fisies uit. Die vrou se dae word aanmekaar geweef met verlang en heimwee op "gewone dae" en intense gemis op verjaarsdae, ń huweliksherdenking (dit was 45 jare, wat hul voor sy dood saam gevier het) en vakansiedae soos Kersfees. Hierdie is reeds die tweede Kersfees sonder hom, maar die eerste was so kort na sy heen gaan dat dit in ń waas van onwerklikheid verby gegaan het.
Daardie vrou het Saterdag saam met haar jongste: die laatlammetjie en sy wens vir "nog enetjie", ń kanaal wal aangedurf om haar geliefde se as te strooi. Ek sien hoe daardie dapper vrou voetjie-vir-voetjie nader stap aan die yskoue water, toegewikkel in twee jasse (haar rou-jas en haar warm-hou-jas). En ek weet hoewel sy hunker om saam hom te wees trap sy versigtig omdat haar geloofsoortuiging "lewe" is en dalk omdat daar ander geliefdes by is. Dis ń grys, mistige, mistroostige dag so intens simbolies van die ritueel en haar gemoed. In die braafste gebaar steek sy haar hand uit, keer die houtboksie om en strooi sy as... en in ń stofwolk verdwyn dit wat van hom oor was ook...
Die brawe vrou vind haar stem deur die seer en stuur ń "dankie" hardop in die hemelruim in en dan lees sy die bemoedigende kaartjie, wat die krematorium bygesit het. Sy voel nie bemoedig nie, eintlik voel sy net gebroke en in nog ń daad van braafheid draai sy haar rug op die kanaal en stap weer voetjie-vir-voetjie terug. Om verslae, maar steeds in dié lewe aan te gaan...
Daardie brawe vrou is my Ma!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking