Negatief of Positief...
“Jy moet potitief wees...” dis wat ek onthou my “bababoetie” altyd gesê het, omdat my Ma dit altyd gesê het: dat jy moet positief wees. Hoe ironies dat almal deesdae ‘n "positiewe toets" vrees. Dat dit jou gesondheidsstatus beskryf en dat almal wil negatief wees en nie meer positief nie.
Ekself is defnitief ‘n positiewe mens, ‘n optimis... die teenoorgestelde daarvan sal dus seker negatief of 'n pessimis wees, alhoewel die pessimiste mos eerste is om te argumenteer dat hulle net realisties is, en nie pessimisties nie...
Hierdie blog gaan oor my teorie van Positiwiteit vs. Negatiwiteit.
Kyk, soveel mense wat daar op die aarde is soveel profiele en persoonlikheidstipes en evangelisasiestyle en dinge is daar. Die een het boompies – 4 van hulle en die ander het liefdestale – 5 van hulle en die ander het kwadrante en spirale... nie rêrig, maar miskien wel, want jy is mos nie net een nie, jy is gewoonlik 'n kombinasie van 2 of so en jy is meer dominant of gemaklik met die een of die ander...
Ek het net twee in my teorie: Positief en Negatief en dit word gebasseer op persoonlike opinie en ondervinding van myself maar ook vanuit my werk met mense.
Dis steeds vir my ń raaisel of jy Positief of Negatief gebore word en vandaar jou lewensuitkyk ontwikkel en groei en of jy soos die grappie sê “so semoer” word, m.a.w. so grootgemaak en geleer word deur jou ouers en hul lewensuitkyk op jou afgevryf word nie. Ek kan nie anders as om die aap uit die mou te laat en te bely dat my teorie gevorm word deur my en my man se verskillende lewensuitkyke en -houdings nie.
Ek dink ek en sy grootword en grootmaak was báie dieselfde gewees, om eerlik te wees was dit my eerste rede wat ek gegee het, toe ds. Gerrie ons net voor ons troue vra hoekom ons met mekaar trou: "want ons is dieselfde groot gemaak en het dieselfde waarde sisteem". En dit was vir hom nie ‘n goed- genoeg-rede nie, maar ek was toe al 30 jaar oud en nie meer ‘n kind nie en dalk het hy die antwoord net nie verstaan of al bedink soos ek het nie, want ek dink steeds dit bepaal alles... Ek het toe maar ‘n “teksboek” antwoord ook uitgedink, om die gesprek aan die gang te hou, maar het lekker in my mou gelag toe ons al ons troukaartjies bymekaar bêre en daar is net 2 wat dieselfde is en die twee kom van sy ouers en van my ouers af. Daar is nou vir jou ‘n bewys as jy een gesoek het.
Nou ja die verskillende generasies het mos allerhande "cool name" gekry en dus is ons albei se ouers “baby boomers”, ek dink die “baby boomers” se grootste karaktereienskap is dat hul "go-getters" is en harde werkers en taakgedrewe ens. Ek dink dis die era waar “cowboys don’t cry” regtig saak gemaak het en beklemtoon is en so het daar vele "baby boomer" kinders groot geword met baie suksesvolle ouers, wat nie as gevolg van hul eie toedoen, maar net die generasie waarin hul was en hoe húl groot gemaak is, tyd gehad het om aandag te gee aan komplimente gee of hulle selfbeeld op te bou nie. Daar is nie altyd tyd gemaak om goedkeuring uit te spreek nie, maar wel kritiek, want ń "go getter" is oppad iewers heen en jy moet by bly! Ek het iewers gelees dat vir elke 1 kritiek wat gegee moet word, die persoon 5x weer opgebou en gekomplimenteer moet word om die kritiek uit te kanselleer. Ek glo dit absoluut! Dus in die 80’s en 90’s was daar (verkeerdelik) hierdie boodskap oorgedra (of verstaan) dat “niks wat jy doen goed genoeg” is nie. Nou wat maak ‘n kind met hierdie boodskap?
Die eerste tipe persoon, dink ek, kry ‘n “jou moer man”-houding. Wanneer die kritiek te veel word en die komplimente agterweë bly ontwikkel hy hierdie houding sodat die kritiek en komplimente nie meer ‘n impak op hom gaan hê nie. "Ek" besluit wie ek is en wat belangrik is en "figure" uit wat en hoe ń ding gedoen moet word en basta met die res. "Ek" kan myself motiveer en komplimenteer en "ek" glo in myself, so jou positiewe of negatiewe aandag en kommentaar gaan my nie meer affekteer of definieer nie. Wat wonderlik is vir die persoon, maar geen ruimte laat vir groei en ontwikkeling nie. Want die persoon dink hy is altyd reg en ander se insette word nie hoog genoeg geag om deel van sy lewe en raamwerk te maak nie. Hulle meen dat hulle manier die enigste is en en as iets reg gedoen moet word dan moet jy dit self doen. Dus is hul werkslading oorweldigend en hulle stressvlakke hemelhoog.
Die tweede tipe persoon kry ‘n “arme ek”-houding. Hulle probeer die heel tyd kompeteer vir goedkeuring, wanneer hulle kritiek kry stort hulle wêreld in duie en moet hulle harder werk en beter doen vir die goedkeuring wat hulle na smag. Hulle leer nie om hulself te motiveer of te komplimenteer nie en is alewig op soek daarna by hul ouers en/of (later) hul lewensmaat. Hulle is oorsensitief wanneer dinge wat hul reeds aan werk (en hulle werk aan baie dinge want hulle wil baie mense se goedkeuring hê) en van deel is gekritiseer word. Meesal is hul ook ooremosioneel en impulsief, omdat die swak selfbeeld net-net weggesteek word agter harde werk en prestasies. Hierdie is die “people pleasers”, wat hulleself moeg maak, maar veral die “jou moer man”-mense moeg maak. Hulle is “high maintenance” en meesal trots daarop want die voordeel van hierdie persoon is dat hulle alles sal opgee om jou gelukkig te maak en jou... en jou... en jou... Dus is hul werkslading oorweldigend en hulle stressvlakke hemelhoog.
Dit is dan seker duidelik watter persoonlikheid as "negatief" en watter as "positief" sal ontwikkel en beleef sal word. En steeds is my vraag: is dit hoe jy ontwikkel of is dit hoe jy gebore word. Kan ‘n “jou moer man”-mens kies om positief te raak, kan hulle ander se opinies begin na luister en ander in ag neem? Kan ‘n “arme ek”-mens begin om haarself te motiveer en daarin te glo en ‘n besluit maak en hou wanneer sy besef dat sy nie almal tevrede kan stel nie? En my antwoord op albei is “Ja!!!”, want sien ek is mos ‘n Christen... ek glo in Romeine se “renewing of the mind”. ("Don’t be conformed to the patterns of this world, but be transformed by the renewing of your minds so that you can figure out what God’s will is—what is good and pleasing and mature." Romans 12:2)
En dís waar die eintlike geheim vir my lê: dat elke positiewe of negatiewe ou sy eie identiteit moet vind en dat daar net een Persoon is waarby jy jou ware identiteit kan vind en dit is by die Drie-enige God. "...Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is." Nou kyk as jy dan nou dink jy is die heel beste en almal is verkeerd en net jy is reg en goed genoeg sal dit jou sekerlik tot ander insigte bring as jy lees dat almal gesondig het en is ver van God af (Rom. 3:23) en daarom het jy ‘n Redder nodig in die vorm van Jesus Christus, wat vir jou aan die kruis gesterf het en wat vir jou uit die dood opgestaan het en wat met jou ‘n verhouding wil hê. En as jy dink jy sal nooit goed genoeg wees nie en dat niemand tevrede is met wat jy doen en gee nie en jy hoor dat Jesus vir jou sondes aan die kruis gesterf het omdat jy so belangrik was vir Hom en vir jou die duiwel en sy leuens oorwin het sodat jy ook meer as ‘n oorwinnaar kan wees, dan sal jy ook sekerlik anders oor jouself begin dink en doen. Dus bly my antwoord maar Jesus... in Wie ek my identiteit kry en elke dag moet herbevestig, want dis mos wat ‘n verhouding is: tyd spandeer en tyd maak en luister en leer...
Daarom wil ek eers sê ek voel baie jammer vir die ouens wat nou hier lees wat nie glo nie of nie tyd het nie of nie ‘n verhouding met Jesus het nie, want dan kan ek jou nie help nie. Ek kan vir jou raad gee, maar ek het nie regtig ‘n antwoord vir jou nie. En as jy die eerste tipe is gaan jy nie regtig omgee nie want jy meen dat jy nie raad nodig het nie... maar my raad aan jou is dat jy sal moet uit jou boksie klim en rondom jou kyk. Jy sal moet raaksien dat daar baie mense is wat dinge anders as jy doen en dat dit steeds uitstekend gedoen word. Jy sal moet herken dat daar meer as net jou opinie is en dat ander s’n nie net waardig is om aangehoor te word nie, maar selfs beter as joune kan wees. Jy sal moet aanvaar dat jy kan foute maak en nie altyd reg is nie en dat ander mense saak maak en jou goedkeuring en komplimente nodig het. Soek die silwer randjie om die wolkie en besef dat dit nie deur jou daar gesit is nie. Wees positief oor mense en die lewe! Hulle mag jou dalk net verras!
My raad aan die tweede tipe persoon is: jy gaan nooit almal tevrede kan stel nie! So hou op probeer. Mense gaan jou seer maak, mense gaan jou teleurstel. Kom oor dit! Anders gaan jy hou hele lewe lank seer hê en treur oor die kompliment wat jy nie gekry het nie of die kompliment wat jy nie gekry het soos wat jy dit wou gehad het nie of die kritiek wat juis dit aanspreek wat jy ook nie van jouself hou nie en jy so hard probeer verander. Glo jou vriendin wanneer sy vir jou sê jy is ‘n goeie Ma. Hoor jou Ma wanneer sy vir jou sê dat jy mooi lyk. Aanvaar jou man se goedkeurende glimlag, al is dit nie die oorvloed woorde wat jy eintlik wil hoor nie. Maak die lewe vir jouself maklik en moenie so swaar op jouself wees nie! Aanvaar as jy negatief raak en weet dat jy weer sal positief raak. “Ride the wave!”
Uitstekend gestel Marne. Ons kan verseker groei in ons karakter en dra dan heerlike sappige vrugte. Albei hierdie uiterstes ( + en -) kan met groei uitkom by die volwasse middeweg. As jy daar is leer jy om te luister na ander, hulle woorde te evalueer en dan aanpassings te maak sonder om emosioneel of omgekrap te raak daaroor. Dit is waarheen ons strewe! Ook om met deernis na die mense om ons te kyk en ons woorde versigtig te weeg en heroorweeg voordat ons hulle kritiseer of inlig oor ons opinies.
AntwoordVee uitEk beleef jou as 'n baie positiewe, maar tog ook baie sagte mens.