Die skewe skildery...


Dis die beeld wat ń wyse Universiteits-vriendin die week vir my gegee het, as vergelyking van hoe sy voel haar Pa se dood haar lewe beïnvloed het...

"Dis soos ń skildery in een van jou kamers, wat skeef hang... en jy mag dit nie reguit skuif nie... dís hoe dit voel..."

Nou kyk ek is nie die O.C.D.-tipe nie, maar ń skewe skildery pla steeds en as jy my Pa se kind is dan maak jy hom self reguit. En dís die probleem: jy kan dit nie reguit maak nie... jy kan nie eers iemand bel of laat kom om die skildery reguit te maak nie, want daardie skildery hang agter ń onbereikbare muur. Die muur van ewigheid...

"Maar Abraham sê: ...buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’

Lukas 16:25‭-‬26 (Afrikaans 1983 vertaling)

Hierdie teks verwys nie na die skeiding van lewe en dood nie, maar dit is hoe dit vir my voel dit is... daardie groot kloof.

Soms is mens so besig met jou elke-dag, dat jy nie die skildery bewustelik oplet of dit ń impak op jou dag en gemoed maak nie, en tog soms sien en beleef die onderbewuste dit steeds wat uit plek is. Maar ander dae... noodwendige skildery-dae, soos verjaarsdag en Vadersdag, dan staan jy en kyk en kyk en kyk vir daardie skildery. En die wêreld se frustrasie en woede en hartseer kan nie daardie skildery ń sentimeter laat draai nie. 

En dan is daar die dae wat jy nie gedink het die skewe skildery sal opgelet word nie. Nie deur jouself of jou geliefdes nie, maar dit vang jou onkant en dit los ń hol kol op jou maag en ń bitter smaak in jou mond. 

Jy wag vir ń respons op ń sin in ń Whatsapp, jy weet presies wat dit gaan wees en dan onthou jy, die foon is af... "Pa Jan Oberholzer left"... die respons gaan nie kom nie!



Ek haat die skewe-skildery realiteit!


Opmerkings

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...