Lewe-kleure...

 "Toe Mack opstaan en omdraai om Jesus te volg na die agterdeur, voel hy 'n hand op sy skouer en draai weer terug. Sarayu het naby hom gestaan, en ingedagte na hom gekyk. "Mackenzie, as jy my sal toelaat, sal ek graag vir jou 'n geskenk wil gee vir vanaand. Mag ek jou oë aanraak en dit genees, net vir vanaand?" Mack was verras. "Ek sien goed, of sien ek nie?" "Eintlik", antwoord Sarayu verskonend, "sien jy baie min, selfs al sien jy as mens nogal goed. Maar net vir vanaand, sal ek graag wil hê jy moet 'n bietjie sien van wat ons sien." "Raak dan asb. my oë aan", stem Mack saam, "en selfs meer, as dit nodig is." Soos sy haar hande uitstrek na hom, maak Mack sy oë toe en leun vorentoe. Haar aanraking was soos ys, onverwags en verfrissend. 'n Heerlike bewing het deur hom gegaan en hy het sy hand uitgereik om haar hand teen sy gesig vas te druk. Daar was niks daar nie, toe maak hy maar stadig sy oë weer oop.


'n Fees van vriende (Hfst. 15)

"Some of us live and some of us die

Someday God's going to tell us why

Open your heart and grow with what life sends

We'll meet again at the festival of friends"

- Bruce Cockburn

Toe Mack sy oë oopmaak, moes hy dit dadelik weer beskerm van 'n verblindende, oorweldigende lig. Toe hoor hy iets. "Dit sal vir jou baie moeilik wees om direk na my te kyk", hoor hy die stem van Sarayu," of na Papa. Maar soos jou gedagtes meer gewoond raak aan die veranderings, sal dit gemakliker word." Hy het steeds daar gestaan waar hy sy oë toegemaak het, maar die hut was weg asook die loopplank en winkel. Hy was buite, bo-op 'n klein heuwel onder 'n pragtige, maanlose nag. Hy kon sien dat die sterre in beweging was, nie gejaagd nie maar stadig en met 'n spesifieke patroon, asof daar 'n groot, hemelse dirigente hul beweging koördineer het.

Met rukke, asof daar 'n sekere teken was, het komete en meteoriet reën deur die sterregeledere getuimel en variasie tot die vloeiende dans gegee. Toe sien Mack van die sterre groter word en van kleur verander, asof dit gaan verskiet of uitbrand. Dit was asof tyd self dinamies en wisselvallig geword het, en dit het bygedra tot die ooglopende chaos, maar ook presies-beheerde hemelse vertoon.

Toe draai hy terug na Sarayu, wat steeds langs hom gestaan het. Alhoewel dit steeds moeilik was om direk na haar te kyk, kon hy nou simmetrie uitmaak en kleure, wat in patrone neergelê was, asof klein diamante, robyne en saffiere van verskillende kleure aanmekaar geweef was in 'n kledingstuk van lig, wat eers in golwe beweeg het en dan uitmekaarspat.

"Dit is alles so verskriklik mooi", het hy gefluister, omring deur so heilige en majestieuse gesig. "Inderdaad", het die stem van Sarayu uit die lig geantwoord. "Nou, Mackenzie, kyk om jou."

Hy het, en hy het na sy asem gesnak. Selfs in die donker nag was alles duidelik en het dit geskyn met ligkringe in verskillende skakerings van kleure. Die bos self was helder met lig en kleure, maar tog was elke boom onderskydelik sigbaar, elke tak en elke blaar. Voëls en vlermuise het 'n helderkleurige baan gemaak soos dit gevlieg en mekaar gejaag het. Hy kon selfs sien dat daar in die verte 'n linie van skepsels teenwoordig was: bokke, bere, bergbokke en groot takbokke naby die rand van die bos, en otters en bewers in die meer, elk het geskyn in sy eie helder kleure. Honderde klein wesens het orals heen geskarrel, elk lewendig in sy eie glorie.


In 'n streep van perske- en pruimkleure, het 'n visarend na die oppervlak van die meer geduik, maar opgeruk in die laaste oomblikke om net aan die wateroppervlak te raak. Vonke het van sy vlerke afgeval, soos sneeu in die water, met die verbyvlieg. Agter dit, het 'n groot reënboog forel deur die wateroppervlak gebreek, asof dit 'n verbygaande jagter terg en weer teruggeval in 'n spatsel van kleure.

Mack het groter as lewensgroot gevoel, asof hy teenwoordig was orals waar hy gekyk het. Twee beer welpies, wat by die voete van hul ma gespeel het, het sy oog gevang: bruine en mintgroen wat tuimel en rol en speel in hul eie taal. Van waar hy gestaan het, het Mack gevoel asof hy kan uitreik en aan hul raak en sonder om daaraan te dink, het hy sy hand uitgestrek na hulle toe. Hy het dit verskrik teruggetrek, toe hy besef dat hyself ook gloei. Hy het na sy hande gekyk, wonderlik aanmekaar geweef, en duidelik sigbaar in die kleure van lig, wat lyk asof dit dit omvou het. Hy het die res van sy liggaam ondersoek, net om te ontdek dat die lig en kleur hom omring het, 'n kleed van reinheid wat hom vryheid, sowel as volkomenheid gegee het.

Mack het ook besef dat hy geen pyn het nie, nie eers in die gewrigte wat gewoonlik gepyn het nie. Eintlik het hy nog nooit so goed gevoel nie, so heel gevoel nie. Sy kop was helder en hy het diep die reuke ingeasem van die nag en die slapende blomme in die tuin, baie wat nou begin wakker word het met die feesvieringe.

'n Heerlike, uitbundige vreugde het in hom opgewel en toe spring hy, drywend in die lug in op en keer toe weer stadig na die aarde terug. "Dis net soos die droom om te kan vlieg", het hy gedink.

En toe sien Mack die ligte. Enkele, bewegende punte wat uit die bos uitkom, en saamkom in die oopte onder, waar hy en Sarayu gestaan het. Hy kon hul nou sien, hoog in die omringende berge, verskyn en verdwyn, soos hulle hul weg nader aan hul gevind het, met onsigbare paadjies en roetes.

Hulle het skielik in die oopte verskyn, 'n groep kinders. Daar was geen kerse nie - hulleself was die ligte. En binne hulle eie gloed, was elkeen aangetrek in kenmerkende klere, wat Mack aangeneem het elke volk en taal verteenwoordig het. Alhoewel hy slegs 'n paar kon identifiseer, het dit nie omgegee nie. Hierdie was die kinders van die aarde, Papa se kinders. Hulle het saggies met waardigheid ingekom, gesiggies vol tevredenheid en vrede, jonges wat die hand van nog jongeres vasgehou het.

Vir 'n oomblik het Mack gewonder of Missy dalk daar was, en alhoewel hy haar vir 'n oomblik gesoek het, het hy weer gou opgegee. Hy het in homself rustigheid gekry dat as sy daar was, en as sy na hom toe wou hardloop, dan sou sy. Die kinders het nou 'n groot sirkel gevorm in die oopte, met 'n pad wat gelei het van waar Mack gestaan het tot in die middel van die sirkel. Klein uitbarstings van vuur en lig, soos 'n stadion van kameraflitse wat stadig afgaan, het lig gemaak wanneer die kinders lag of fluister. Alhoewel Mack geen idee gehad het van wat aangaan nie, het hulle gelyk of hul weet, en die afwagting was amper te veel vir hul.

Agter hulle in die oopte het nog 'n sirkel gevorm van groter ligte, en Mack het aangeneem dit was volwassenes, soos  hyself, briljant kleurvol en tog gedemp.

Skielik is Mack se aandag getrek deur 'n ongewone beweging. Dit het gelyk asof een van die ligmense in die buitenste sirkel gesukkel het met iets. Flitse van violet en ivoor het met rukke in die nag ingeskiet, in hulle rigting. Soos dit teruggetrek het, is die ligkleure vervang met ligpienk, goud en helder oranje, brandende sproeie van lig wat kort-kort na hulle kant geskiet het, soos vlamme in die donker net om weer terug te keer na die bron.

Sarayu het gegiggel.

"Wat gaan aan?" het Mack gefluister.

"Daar is 'n man hier wat baie sukkel om sy gevoelens weg te steek."

Wie ookal dit was wat gesukkel het, kon homself glad nie beheer nie en dit het gelyk of hy van die naby hom onrustig gemaak het. Die rippel-effek was duidelik sigbaar, soos die flitsende lig uitgesprei het en geraak het aan die sirkel van kinders. Die naaste aan die een wat gesukkel het, het op hom reageer met kleure en lig wat uit hulle gevloei het, na hom toe. Die kombinasies van kleure wat gemeng het was elk uniek en dit het vir Mack voorgekom asof dit 'n spesifieke reaksie was op die een wat onrustig was.

"Ek verstaan steeds nie", het Mack weer gefluister.

"Mackenzie, die patroon van kleur en lig is uniek tot elke persoon; nie een is dieselfde en nie 'n enkele patroon is ooit meer as een maal dieselfde nie. Hier, is dit moontlik om mekaar werklik te sien, en deel daarvan om iemand werklik te sien beteken die persoon se unieke persoonlikheid en emosies is sigbaar in kleur en lig."

"Dis ongelooflik!" het Mack uitgeroep. "Maar waarom is die kinders se ligkleure dan meesal wit?"

"Soos jy nader kom aan hulle sal jy sien dat daar baie individuele kleure is wat saamsmelt in wit, wat alle kleur bevat. Soos hulle ouer word en groei om te wees wie hulle werklik is, sal die kleure wat hul wys meer onderskeibaar word en unieke skakerings sal uitkom."

"Ongelooflik!" was al wat Mack aan kon dink om te sê, en toe kyk hy mooier. Toe let hy skielik op dat daar agter die sirkel van volwassenes ander verskyn het, mooi gespasieër reg rondom die area. Dit was groter vlamme, wat gelyk het of dit saam met die wind beweeg het, met soortgelyke saffier en helderblou, en ander unieke kleure binne elkeen vasgevang.

"Engele", verduidelik Sarayu voordat Mack kon vra. "Diensknegte en Oppassers".

"Ongelooflik!" het Mack vir 'n derde keer gesê.

"Daar is nog, Mackenzie, en dit sal jou beter laat verstaan waarom hierdie een so vreeslik sukkel." Sy wys in die rigting van die voortgaande onrustigheid.

Selfs vir Mack, was dit duidelik dat die man, wie ookal dit was, steeds baie gesukkel het. Skielike en sterk ligflitse van kleur het steeds sterker na hulle kant toe uitgeskiet. "Ons kan nie net die uniekheid van mekaar in lig en kleure sien nie, maar ons kan ook op dieselfde manier reageer. Maar hierdie reaksie is baie moeilik om te beheer, en gewoonlik is dit nie bedoel om beheer te word nie, soos wat die een probeer doen. Dis meer natuurlik om dit net toe te laat om uitgedruk te word.

"Ek verstaan nie", se Mack vertwyfelend. "Sê jy dat ons op mekaar kan reageer in kleure?"

"Ja," se Saraya terwyl sy haar kop knik, of dis wat Mack dink sy doen. "Elke verhouding tussen twee mense is absoluut uniek. Dit is hoekom jy nie vir twee mense op dieselfde manier kan lief wees nie. Dit is net nie moontlik nie. Jy is vir elke persoon op 'n unieke manier lief, as gevolg van wie hulle is en die uniekheid wat hulle in jou wakker maak. En hoe beter jy iemand ken, hoe ryker is die kleure van daardie verhouding."

Mack was besig om te luister, maar ook om te kyk na die ligte en kleure en flitse voor hulle. Sarayu het voortgegaan, "Miskien is die beste manier vir jou om te verstaan, as ek gou vir jou dit illustreer. Verbeel jou, Mack, dat jy saam 'n vriend kuier by 'n koffiewinkel. Jy is gefokus op jou vriend en as jy kon sien soos nou, sou die twee van jul omring wees in 'n klomp kleure en lig, wat wys op jul uniekheid as individue maar ook die uniekheid van jul verhouding, en die emosies wat jul ervaar in daardie oomblik.

"Maar," begin Mack te vra, net om deur Sarayu in die rede geval te word.

"Maar veronderstel dat 'n ander persoon, vir wie jy ook lief is, in die koffiewinkel inkom. Alhoewel jy gefokus is in die gesprek met jou eerste vriend, let jy op dat die ander ingekom het. Weereens, as jy kon sien soos nou, sou jy dít gesien het: soos wat jy aangaan met jou huidige gesprek, sal 'n unieke kombinasie van kleure en lig uit jou uitgaan en die ander een omring, wat nou net ingekom het. Dit verteenwoordig jou in 'n ander vorm van liefde en 'n groet. En nog een ding, Mackenzie, dit is nie net visueel nie, maar ook sensueel: jy kan die uniekheid voel, ruik en selfs proe."

"Ek is mal daaroor!" roep Mack uit...

(The Shack, deur William P. Young bl.207-214 vry vertaal)


Hierdie beeld van mense en verhoudings en hoe uniek en intens dit is en verteenwoordig kan word deur ligkleure en reuke en smake, was vir my so aantreklik toe ek hierdie boek die eerste keer gelees het. 

Regdeur my lewe is ek telkemale aan hierdie beeld herhinner, wanneer 'n verhouding my intense plesier of pyn bring, wanneer dit ingewikkeld is en daar haakplekke kom wat mens glad nie kan verstaan of antisipeer nie. En soms wanneer daar geantisipeerde argumente was, wat dan nooit manifesteer het nie.

Dit is waaraan ek dink terwyl ek staan en skottelgoed was in die Wildtuin en 'n groenvlekduifie hoor roep. Wat 'n verskriklike hartseer roep. Mens kan nie glo dat daardie kleine duifie met die pragtigste, reflekterende gloen vlek op sy vlerk so vreeslik aanhoudend en hartseer kan klink nie. Die Afrikaners hou mos van verse en ryme om iets te onthou of na te maak en hulle sê die duif roep: "ma is dood... pa is dood... almal is dood... dood... dood".


https://youtu.be/c0z_NVhBHjs


Wel dit is presies wat ek hoor en sien en ruik en proe daar by die Wildtuin opwasbak: "my pa is dood... my pa is dood... my pa Jan is dood aan 'n hartaanval..." En ek mis hom, ek mis sy unieke kleur wat hy aan my gegee het, wat hy in my ingemeng het. Die unieke kleur en smaak van ons verhouding, van sy verhouding met my kinders en my man. Dis die grootste gat wat ooit gelos kan word, wanneer daardie kleur uit jou pallet verdwyn, wanneer daardie samesmelting van 'n verhouding se verfkwas weggebêre word, vir altyd (op aarde) buite bereik. En daarom voel ek grys, ek voel asof elke een van my kleurpallete verdoof en verdof word deur hierdie vreeslike gemis.

Maar dan dink ek aan die eerste deel van hierdie vertaling: hoe Pa nou "sien"... hoe hy nou die natuur, waarvoor hy so lief was, kan belééf in die ewigheid, want ek glo dat die dimensie van ewigheid ook deel is van die hier en nou. Dis dan wat die Woord ons leer. En as Pa alles wat hy so geniet het in 'n meer intensie kleur- en ligdimensie kan sien, sal dit mos vir hom vreeslik lekker daar wees en sal hy bly daarna uitsien wanneer hyself weer sy unieke kleurpallet na my kan uitskiet... Wanneer dit ons elkeen se beurt is om deel te word van die ewigheid.

Dan maak die gedig tog ook sin wat Ma in haar grys-tyd deel:

Ewigheid, deur Braam Oberholzer:

Iewers is dit als verby

en staan jy wat agterbly

vir lank verslae, verstom, verpletter...

Verblind!

Want sien jy my dan nie dwaal 

deur die melkweg nie?

En voel jy nie hoe waai 

my asem in die winde nie?

Hoor jy nie my fluisterstem

oor veld en vleiland nie?

Jy bly soek my

tussen klip en steen

en jy mis my -

jy mis my

waar ek oor jou reën...

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...