ń Permanente indruk...
Een oggend, dieselfde oggend wat Ma vir ons vir die eerste keer "alleen" kom kuier het, het ek wakker geword met ń simbool in my kop. Dit was my Pa se handtekening. My Pa het altyd vir my ń baie netjiese handskrif gehad, en sy handtekening was vir my nét so netjies én mooi: Die "J" het ń skerp punt stert gehad en die kop het hy so halfmaan, los van die rug gemaak. Te danke aan sy kort naam "Jan", kon hy dit heeltemal binne-in die "O" van Oberholzer (die lang deel) laat inpas. Die res van sy van is in vinnige, maar netjiese "lopende skrif" voltooi.
In daardie selfde lopende skrif het hy vir ons gediggies geskryf wanneer ons verjaar, of wanneer ons ń boek kry en so nou-en-dan ń briefie by jou kamerdeur. Ek onthou nog goed die een in Meyerspark, by my deur, wat met my raas oor my deurmekaar kamer: "Marne, hierdie is nou nie hoe ń dogter, ń toekomstige Ma se kamer moet lyk nie. Ruim asb. op. Ek en jou Ma wil nie weer hieroor praat nie..." O jinne! Dit was erg! Ek kry nou nog skaam. Ek kan nie onthou hoe my kamer gelyk het nie, net die briefie.
My Pa se handtekening was dwarsdeur my lewe ń simbool van sy outoriteit: nie net was hy een van die onderwysers by van die skole waarin ek was, en later ook die onderhoof (senior-adjunkhoof) nie. Hy was ook die "meneer" wat die dissipline moes handhaaf, dus was daar BAIE papierwerk, waarop hy alles moes teken.
Met elke klastoets en toetsreeks het ons ons toetse een-vir-een teruggekry en dan moes een van ons ouers dit teken. Soms was dit Ma, maar dan onthou ek die kere wat dit Pa was. Ek het hard gewerk op skool. Ek was die "koek" wat die hoofstuk deurgelees het, wat niemand anders gedoen het en ek was mal oor opstelle skryf, in afrikaans of engels. Ek was nie goed in Wiskunde nie en moes ook hard werk in Wetenskap en gelukkig het ek ń "goeie Rek. onnie" by die huis gehad - my Ma! Ek was goed in tik, ja-ja dit was ń SG vak maar ek het soos 90% en meer gekry. So die punte was gewoonlik in die hoë 80's of 70's en dan kom Wiskunde wat net-net 70% of onder was. Dit het gewoonlik ń ontevrede kyk of gebrom uitgelok saam die handtekening. Maar veel meer is daar nie gesê nie...
Ek dink dis veilig om te sê my Pa se handtekening het ń permanente indruk op my en my lewe gemaak. Dis ń simbool van ons verhouding: die unieke Pa-dogter verhouding van ń honeymoon-baba, wat groot word in ń woonstel in Queenswood en hul basies dwing om huis te koop wanneer sy na sonsak nog nie uit die parkie gehaal wil word nie. My album is vol badfoto's saam Pa.
Kuiertjies by Oupa en Ouma en winkel toe gaan en briewe pos (foto's van "ouma Nubes" se klere is geneem en dan agterop geskryf wat in die agtergrond aangaan en dan Suid-Wes toe gepos).
Piekniek by die Uniegeboue... My hande het hy in my slaap afgeteken met potlood op papier.
Later was ek (nogal ń kranige) langafstand atleet, saam wie hy élke oggend in Carletonville 3km voor skool gaan draf het. Hy was altyd, in atletiek seisoen, langs die atletiekveld... soms ook die een waar ek deelgeneem het. Altyd as beampte en soms kon hy my item kyk ook. 3000m vat maar lank (sewe en ń half keer om die baan) en dis óf heel aan die begin van die dag óf in die middel, wanneer die beamptes gou kan gaan eet en almal net ń ruskansie soek.
Hy was my held, soos ń Pa sy dogter sń moet wees... toe hy begin 10km en 21km wedrenne doen het ek gedink ek gaan defnitief eendag saam hom die Comrades doen, ek het selfs een 10km in st.7, saam hom gedoen. Maar toe begin die "Oberholzer-krampe" te erg raak en ons hou op ver hardloop en Pa begin met Meesters Atletiek: driesprong, verspring en sommer vir die lekker... hoogspring, wat snaaks is want Pa is nie die langste ou nie, maar hy het veerkrag! Die ander omies doen die Fawsbury Flop (sp?) en my Pa spring skêr!!!!! Hahahahaha! Maar die driesprong... wow! Dít was sy item! Hy het selfs S.A. verteenwoordig in die Afrika-spele in albei. En dalk is dit maar hoe ek hom opgehemel het of dalk was dit regtig so maar ek is steeds séker hy was 1ste in sy ouderdomsgroep in Driesprong en 3de in Verspring IN AFRIKA!!!!! Iewers was daar ń klein motorfietsongeluk - iemand het voor hom ingery op ń plaaspad in Carolina en die student (ek) het aangeneem sy Meesters Atletiek dae is verby, maar nie vir Pa nie, nee wat hy "verander net sy vastrapvoet, dan is die knie nie seer nie"... maar in driesprong is daar steeds ń "skip" voor die "jump" op die "seer knie"??!! Hy het nog ń paar keer deelgeneem, want hy kon..wou..
Pa was ń man van min woorde, of dis hoe ek hom beleef het as kind in die huis. Hy was die Pa en ek was die kind. Sekere goed was net soos dit was en dis nie verduidelik nie as jy vir een vra, was die antwoord "want ek sê so", en dit was nie verder oop vir bespreking nie. So moes élke seun wat my wou uitvat vir hóm toestemming kom vra en vir meeste was ek "Mnr. Oberholzer se dogter" en dus was hy "Mnr. Oberholzer". Daar was ń paar "brawes", maar nie veel nie. Ek weet nie of dit vir my goed of sleg was nie... toe het ek net geweet "arme ek" kon nie na die st.6 "hop" toe gaan nie, want Pa het so gesê, maar ek was wel by baie sokkies... so ek was nie te lank jammer vir myself nie. Ek het defnitief my liefde vir dans by hom gekry. Hy het áltyd op troues met my ge-two-step, dit was lekker om saam my Pa te kon dans. Hy en my Ma het goed en lekker gedans. Hy was mal oor boeremusiek en daarom sal ek ook altyd "soortvan" wees. Net so drie liedjies, nie ń hele boereorkes program nie...
My Christenskap het ek defnitief van hom afgevryf, nie dat Ma nie haar Christenskap uitgeleef het nie, op ń manier het ek net altyd geweet Pa het ń intieme verhouding met die Here, en hy beleef Hom meeste in die natuur. Daarom dat hy, tot Ma se ontsteltenis, heelparty naweke op die plot, buite Brits, geslaap het. Soms het hy en oom Herman potjie gemaak of watookal die boeties doen. Na oom Herman se moord het dit seker ook gestop en moes hy nuwe drome droom...
Pa het nie baie komplimente gegee nie. Ek onthou toe ek in Londen gebly het en graag vir hom/hulle wou sê ek is lief vir hulle. Dit was vreemd en is min terug gesê. Ook het ek toevallig, na ons troue, gehoor hoe hy vir iemand anders sê dat hy nie geweet het hy het só mooi dogter nie, of so iets. Amper of hy sy handtekenig as goedkeuring geplaas het... soos die permanente indruk wat hy oor my lewe gelos het...
Jy skryf so mooi! Dis is baie spesiaal!! ♥️
AntwoordVee uit