Hoekom is jou "hazards" aan?

hazard
/ˈhazəd/
noun
plural noun: hazards
  1. 1.
    a danger or risk.

Dit is die definisie wat "google" gee as ek intik wat is 'n "hazard", die vertaling daarvan is "gevaar"... Ek benader dit só, omdat ek nie weet wat mens daardie liggies wat albei jou flikkerligte aansit in afrikaans noem nie. In my kop is dit "waarskuwingsligte", wat steeds sin maak, want mens "waarsku" ander mos as daar "gevaar" is?  Ek wonder of die motorvervaardigers présies weet waarvoor hulle die "hazards" gemaak en ingesit het, en of daar al navorsing gedoen is waarvoor die "hazards" alles gebruik word deur die wêreld? Hiér in Suid-Afrika word dit gebruik wanneer jy 'n minibus ry en wil doen wat jy wil, dan kan jy jou "hazards" aansit en dan is dit aanvaarbaar om sommer-net te stop, op gevaarlike en vreemde plekke. Ook word dit gebruik wanneer iemand vir jou pad gemaak het en jy wil "dankie" sê... dan ook natuurlik as dit vreeslik baie reën, of mistig is, en jy is bang die karre van agter kan jou nie so goed sien soos die karre van voor af, dan ry mens later in so mistige konfooi met rooi liggies wat flikker. "Hazards" word ook aangesit wanneer jy deel is van 'n begrafnisstoet, en verkéérdelik sit albei karre hul "hazards" aan, wanneer een die ander sleep. Dit maak my kwaad: want natuurlik moet die voorste een se "hazards" aan wees, om vir die karre wat van voor af kom te wys dat hy stadig ry vir 'n rede, maar die agterste een se "hazards" kan nie ook aan wees nie, want die karre agter hom moet kan sien as hy wil links of regs draai en natuurlik is jou flikkerligte ook jou waarskuwingsligte, so niemand kan sien dat jy wil draai nie?! Miskien moet die voorste een dan ook liewer maar nie sy waarskuwingsligte aansit nie, want hoe weet die agterste een, wat gesleep word, dan wat die voorste wil doen as sy flikkers altwee flikker??!! Dit laat 'n mens dink, né... En dan is daar die inspirasie vir hierdie blog: daardie persoon wat normale spoed ry, niemand sleep nie en nêrens wil stop nie, wie se "hazards" aan is en dan doen jy soos ek Vrydag, wonder hardop: "...hoekom is jou hazards aan?"

En dan kan mens nie anders as om "hazards" as ń metafoor te gebruik nie... Want sommige mense is heeldag en aldag aan die waarsku, maar geen mens weet regtig waaroor en waarom nie? Selfs as die persoon die waarskuwing kan verbaliseer bly hulle "hazards" steeds aan, as jy op die uitkyk is daarvoor. Dalk sal dit help as ons mense ook "hazards" gehad het, né? Dan kan ons weet as ons moet lig loop vir iemand, voordat ons nog 'n woord met hulle gepraat het, of met hulle interaksie gehad het en dan... as jou eie "hazards" ook aan is sal jy weet dat julle dalk liewers die interaksie vir daardie geleentheid of dag heeltemal moet vermy.

"Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is." (2 Kor. 12:7 & 8).

Hoeveel keer wonder en tob en bespiegel ons nie oor Paulus en sy doring in die vlees nie. Dalk was ou Paulus ook maar 'n "moody"-ou. Miskien het hy maklik kwaad geraak, of dalk was hy depressief met rukke dat dit vir hom voel dat die duiwel self besig is om hom met die vuis te slaan. En dit is hoe ek na die naweek voel... ek voel dat ek my "hazards" wil aansit, sodat die mense moet weet ek is effens fragiel - is dit al 'n aanvaarbare afrikaanse woord? Want sien, die naweek het Dewald en Zelé op 'n pragtige boormryke plot op 'n bankie gesit en voëls kyk, en maats het heen-en-weer gehardloop en Dewald het opgelet dat sy met verlangende (en tranerige) oë na hulle kyk. Verontreg oor haar onvermoë... en ek weet dat hy nie verkeerd gesien het nie, want vroeër die dag, toe ek haar badkamer toe gevat het, het sy opstandig haar lot teenoor my beklae oor hoe "unfair" dit is dat sy nie kan loop nie... 

Nou het ek as Ma geweet dat hierdie dae gaan kom en hierdie gesprekke gepraat moet word, maar steeds vang dit jou onkant. Want jyself word onkant gevang wanneer jy in die middel van die nag wakker lê en dink oor wat jou droom is en wat die realiteit is, jyself raak kwaad en opstandig en moet daarmee iets maak en nou kyk jou kind jou in jou oë en jy wil vir haar bemoedig en geloof in haar spreek, maar jy wil nie hê dat sy vir een oomblik moet begin dink dat die Een in Wie julle glo vir wonderwerke, kan ook dalk die Een wees wat haar ontneem het van dit wat sy begeer nie, want hoe bid jy dan verder in geloof? So... sê jy dan iets oor ons Wonder Skepper God of swyg jy? Dan stuur jy die vinnigste skietgebed ooit op en berus daarby dat die boodskap van Sy genade, wat in detail genoeg is, sal deurkom en dat Sy krag in volle werking sal kom en verstaan sal word deur 'n opstandige 8 jarige, want jy is op jou swakste op daardie oomblik.

Wat die slegste is vir my is dat haar opstandigheid na mý toe gekanaliseer word, asof 'n Ma se skuldgevoel en vrae nie reeds genoeg is nie. En dan, wanneer ek terug staan en biddend daaroor dink besef ek dat ek haar vangnet wil wees, en in hierdie opstandigheid gewys word dat ek wél is, al vat die vangnet houe. En vanoggend trek my keel toe en voel ek asof ek in 'n donker gangetjie van twyfel vasgedruk word en nooit weer daaruit gaan kom nie. Die uitdagings en kanse wat ons nooit sal kry laat my snak na asem en in 'n hopie met opgetrekte knieë gaan sit. Maar dan, wanneer ek die gevoel 'n naam gegee het en hom uit my arms gelaat het sodat dit in die lig kan kom, dan begin ek dink oor myself... en hoe baie maal ek verontwaardig voel oor my eie lyf en my eie omstandighede. Hoe my vriendinne hulle lot bekla oor die gewig wat hulle opgetel het, hoe menslik dit is om nie tevrede te wees met jouself en jou omstandighede nie, en dan weet ek dat ook dìt nie onoorkombaar is nie. Dat elke mens met rukke so voel, selfs die wat kan loop... en dan besef ek: omdat ek in geloof deur dit gekom het is ek 'n voorbeeld vir my kind en kan ek nie net simpatie hê nie, maar ook empatie oor haar frustrasie, wat oor soveel meer is en soveel meer te verstane is, en dan weet ek dat ek weet... ons sál hierdeur ook kom!

Dan is ek dankbaar dat "hazards" ook afgeskakel kan word... en dan besef ek dat die "hazards" albei rigtingwysers is, wat gelyktydig werk, wat juis die rede kan wees hoekom jy so "rigtingloos" voel? Dan weet ek verseker dat nét die Here vir my die krag kan gee om my "hazards" af te sit, waneer ek stil word by Hom. Dat Hy Self vir my die linker- of regterflikker sal help aansit en dat Hy my ook sal help om in my swakheid vir my kinders te wys waar om jou rigting te kry, wanneer ander met vraende oë na hulle kyk deur die lewe... oë wat sê: "hoekom is jou hazards aan?"

"Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: "Hier is die pad, loop  hierlangs." (Jesaja 30:21


Opmerkings

  1. Absoluut fenominaal.... insiggewende en inspirerende woorde in my eie "hazard(ous)" tydperk.

    AntwoordVee uit
  2. Ag my liefste Tjom!!! Hoe breek my hart vir jou vanoggend omdat ek ongelukkig te goed verstaan van die seer wat jy het. En ek wêns ek kon my witboude in Witrivier kry om jou net so ‘n bietjie vas te hou en jou hart se seer vir ‘n rukkie te dra.

    AntwoordVee uit
  3. En hier sit ek in trane, want net vanoggend het ek gemor oor die gewig wat ek aan gesit het en my frustrasies daar rondom. En dan dink ek aan Zele se see-blou ogies en ek voel nie net skuldig nie maar my hart wil breek vir haar. Sy het op dag 1 al my hart gesteel nie eers is sy my eie bloed nie maar gereeld skiet ek n gebedjie op vir "supernatural" genesing. As daar nou een gesiggie is wat altyd n glimlag dra, is dit daardie engel-kind.

    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...