...vir altyd ń "tannie"...
"The righteous will flourish like the date palm [long-lived, upright and useful]; They will grow like a cedar in Lebanon [majestic and stable]. [Growing in grace] they will still thrive and bear fruit and prosper in old age; They will flourish and be vital and fresh [rich in trust and love and contentment]; [They are living memorials] to declare that the Lord is upright and faithful [to His promises]; He is my rock, and there is no unrighteousness in Him.
PSALMS 92:12, 14-15 AMP
Oud-word... dis NIE vir sissies nie... en dís ń waarheid wat ons elke dag in die gesig staar. Vir die van ons wat geseënd is met ons ouers wat ons by ons kan hê, soos hul ouer word en in my beroep spesifiek waar al meer pyne en skete (en "wear & tear" - soos die Medici dit noem) met die ouderdom kop uitsteek.
Hierdie foto's het my aangegryp die eerste keer wat ek dit op die internet gesien het...
...want ek besef iewers is daar ń tyd wanneer ons nie meer die persoon in die spieël raaksien vir hoe sy lyk nie maar vir wie sy is... en dan is daar die onverwagse besef dat wat jý sien en wat ánder sien nie dieselfde is nie. En dit word gewoonlik bevestig deur ń tiener of selfs iemand in hul vroeë twintigs (hemele behoede), wat jou met ń glimlag "tannie" noem... tannie???!!! Hoekom dink jy ek is ń tannie??!! Ek lyk dan net soos jy (vir myself in die spieël). Ooooo dis seker omdat ek kinders by my het - ek het al gesien hoe ń matriekdogter "tannie" genoem word deur ń InniBos hekwag omdat haar jonger sussie by haar is! Was sý nou verontwaardig!
Maar dan gebeur dit wanneer jy alleen is, sónder die kinders... Oooo dis seker omdat jy ń trouring aan het. Oplettende, goed gemanierde kinders wat so praat... ("tannies", wat in sulke groot woorde aan jongeres as "kinders" dink!) En dan gebeur dit net elke keer... die hele tyd... soos hier by Die Eiland Vakansieoord vandag en ek besef: ek is nou vir altyd ń "tannie". Ek lewer droog kommentaar op twee yskoue ("cool") tienerseuns wat met hul pette en donkerbrille van die supertube afgly en hulle kom vra die "tannie" - dis nou ek - of hulle die pette en sonbrille daar by my kan los. Genade???!!! Wie is julle tannie??!! Uiteraard lyk ek vir hul baie verantwoordelik - soos dit ń "tannie" betaam...
Met nostalgie onthou ek toe ek by die Hoërskool begin het as Biokinetikus (ek was 27 jaar oud m.a.w. 9jr ouer as die Matrieks van daardie jaar) en hoe verontwaardig ek was toe van die Matrieks, wat reeds vroeg in Januarie begin gym het, heel duidelik by my aangelê het - die voortvaarenheid van die jeug. Eintlik (besef ek nou) moes ek vreeslik gevly gevoel het en die kompliment meer wardeer het, maar toe het ek my outoriteit en lewenservaring probeer wys. Ai... wat sou ek gee om weer deur ń Matriekseun ge-"chaff" te word. Natuurlik sal ek hom dadelik op sy plek sit - soos net ń "tannie" kan, maar dan sal ek ń slinkse glimlag gee en my facials en gene op die skouer klop... maar van nou af... sal ek maar moet vrede maak... ek is vir altyd nou ń "tannie"!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking