Bietjie murmering oor jy-wees...
As jy in 2 weke ń wysheid met 3 verskillende vroue in 3 verskillende fases van hul lewens deel, dan is dit dalk tyd dat jyself moet stil word met die wysheid en daaroor dink en dit indrink...
Om deurmekaar ("confused") te wees is sekerlik een van die onaangenaamste gevoelens/situasies waarin mens kan wees, want dit gaan gewoonlik gepaard met stres en dan ń minderwaardigheidsgevoel en om minderwaardig te voel sit ons gewoonlik terug in ons reptiel-brein... weet jy nie van ń reptiel-brein nie? Dis nou daardie primitiefste deel van ons denke, waar ons nie dink nie maar net doen... om te oorleef, soos ń krokodil val jy aan en veg tot die dood vir jou eie oorlewing. Dan is daar natuurlik ook jou soogdier-brein, wat effens van ń hoër orde is en jou deel van die "trop" maak, maar as daar gevaar is worry jy ook nie meer oor die trop nie en dan is dit weer: "ter wille van oorlewing"! Die brein waarin ons wíl wees, en maar min is of sommiges nog nie eers ontdek het nie, is ons grootmens-brein (dit het ń ander naam maar dis hoe ek dit nou onthou): dis wanneer jy rustig is en ń volwasse gesprek kan voer deur te luister én te hoor (want daar is mos ń groot verskil tussen die twee) en wanneer jy kan empatie betoon en die ander se belange eerste stel. Kenners sê dís waarin jy ń konfliksituasie wil oplos.
Maar hierdie stuk sê jy moenie bang wees vir deurmekaar wees, want dis wanneer jy oop is om nuwe dinge te leer, oor jouself sekerlik eerste en dan oor ander mense en situasies. Insigte wat nooit dalk sou gebeur as jy nie deurmekaar was en op jou voete moes dink nie.
Gebrokenheid is diep... seer... donker. Baie mense is gebreek en kry dit reg om dit weg te steek maar dan is daar ń deurmekaar-oomblik en die krakies wys duidelik of die gebrokenheid kom in die lig in ń oomblik van waansin, wat lei tot ń kettingreaksie van gebrokenheid. Gebrokenheid van gees is sekerlik makliker om weg te steek, maar daarom ook moeiliker om te genees as gebrokenheid van liggaam. En soms het ons die luuksheid en vryheid om gebroke te wees binne die samelewing en dan laat hulle ons dit toe, gun dit vir ons, soos met die verlies van ń geliefde, die breek van ń huwelik of die verloor van ń inkomste...
Frustrasie is nog ń ongemaklike gevoel, maar frustrasie gekannaliseer maak jou "real"... "authentic" en is dit nie wat ons almal na streef: om opreg en uniek te wees en om sulke mense in ons kernverhoudings te hê nie? Gun mekaar dan die frustrasie... en bid vir die ontdekking van jou geliefde se "authenticity" daarin!
Wees hartseer! Want as ons braaf genoeg is om hierdie emosie toe te laat sal ons hart se wysheid daardeur hoorbaar word en kan ons gees en liggaam se wonderbaarlike vermoë van selfgenesing begin... nie in eie krag nie maar op ons knieë, hande opmekaar... oë toe. Luister!!!! Luister na jou hart, na die ritme van hartseer en die ritme van lewe... ewige lewe in jou!
Wees wie jy is, laat jouself toe om uit te kom waar jy weggekruip het, omdat jy dit werd is! L'Oreal was nie verkeerd toe hulle dit hul slagspreuk gemaak het nie want ons wil ALMAL voel dat ons van waarde is. Altyd van waarde is: vir ons geliefdes en ons naaste en ons wêreld. Wees dit en dan laat jy jouself toe om die fase te beleef en daarin te groei en dan gaan jy vorentoe... word beter... raak nog méér werd!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking