Merke... gereed... vreet!!!
Terwyl ons terugry van ń heerlike paar dae van 6de verjaarsdag vieringe (ja ons is van die bevoorregtes wat verjaarsdag vier in Desember - 5 dae voor Kersfees, om presies te wees) sáám met Kersvieringe, voel ek dis tyd om die blog wat al in my kop is van Kersdag, neer te pen (tik).
Hierdie paar dae het ek weer die belangrikheid, simboliek en vreugde van kos beleef.
ń Begrafnis...
ń Dierbare (skoon)familie lid is skielik oorlede en na die hartseer van die oop graf en die sielsdodenheid van ń (té lang) begrafnis preek, was daar die (hartseer) vooruitsig na die "begrafnis broodjies", nou kyk vele mense het al die perfekte begrafnis broodjie besing, al was dit nie hardop nie: daardie smelt-in-die-mond várs wit broodjie... met fyn gesnyde blaarslaai bo-oor en die vulsels: eier mayonnaise, tuna mayonnaise, ham en kaas en dalk ń Marmite enetjie so tussen-in. Die VLU het begrafnis broodjies tot ń kuns vervolmaak en regdeur Suid-Afrika, word die kuns uitgevoer. By hierdie spesifieke begrafnis is daar verder vertroos met ystervarkies, vleispasteitjies, vlatertjies, samoosas en koeksisters...
Die volgende dag was dit partytjie tyd met ń vroeë Spur ontbyt saam Oumas en Oupas en nefies en niggies (met die vergesellende ooms & tannies). "Flame grilled bacon", proe darem net anders as die in ń pan gaar gemaak. Eiers (roereiers, het ek reeds lankal besef, is maar die veiligste om te bestel by jou deursnee familie restaurant), chips (met pienk Spur sous), borde vol roosterbrood met individuele bottertjies en konfytjies en dan daardie ekstra hoenderlewertjies - Dewald bestel dit "warm", sodat dit sy verhemelte kielie - is die begin van ń goeie dag vir énige eerlike Suid-Afrikaner (wat nie bang is vir ń moontlike geveg nie). As jy dan nog ń Spur verjaarsdag liedjie met ń roomys en "sparkler" daarmee saam kry, kan níks verkeerd gaan nie!
Ten spyte van die roomys en vieringe besluit ek en my Ma, dat mens nie kan 6 word, sonder ń verjaarsdagkoek nie. So betaal ons saam aan ń vars, blink, chocolate ganache koek - ek het ook die voorreg om my Ma te verduidelik présies wat "ganache" is. En die koek was elke sent die moeite werd met blink, taaierige ganache, klam sjokoladekoek en afwisselende room en sjokoladeroom lae tussen-in!
Die 23ste hou ons familie Kersfees, omdat my boetie-hulle iewers anders heen genooi is vir Oukersaand. Ons drink Muscatonic-my eerste bekendstelling aan die heerlikste, verfrissendste twist op ń G&T, met Muscadel i.p.v. Gin en die lekkerste suurlemoenskil linte, vir mooi maak én ekstra geur!
En elkeen kry ń dis om te maak: Ma maak die "roast" (beesvleis) met ń tradisionele bruinsousie. Dewald kry die gammon en hy maak dit gaar met ń brandewyn-en-Coke marinade (van google gekry). Pa maak tradisionele groenboontjies, met baie peper. Skoonsus bring ń gerasperde botterskorsie slaai - sodat Dewald dink hy eet wortelslaai i.p.v. pampoen (wat hy kamstig nie eet nie). Ek maak romerige aartappelslaai met agurkies en blokkies kaas en gekookte eier en fýn gekerfde uie. En nee die romerigheid is dubbelroom jogurt, níe kondensmelk nie!
...ja ons het ook klappers gekoop sodat ons ń (teleurstellende) verrassing binne-in kan kry en ń papierkroon kan hê om mee te eet. Almal eet soos konings en hou ń "gaatjie vir poeding", wat absoluut voortreflik was: die beste kroek-koek nog, te danke aan my Ma se sussie... gekoopte Woolworths kaaskoek met Pot O'Gold - dit proe anders as die ander - karamel kondensmelk met geroosterde pekanneute bo-oor gesprinkel. O genade!!!! Die beskuitjie kors met die suurerige kaaskoek bo-op en dan die soeter-as-soet karamel kondensmelk, met die half-bitter geroosterde pekanneute bo-op gesprinkel is die pérfekte afsluiting tot die feesmaal!
Die 24ste kry ons pap en kaiings (wat Pa die vorige dag in die swart pot uitgebraai het) vir ontbyt. Ons eet onsself in ń gal-aanval in, maar teen die middag het ons genoegsaam herstel vir perfek gebraaide rump steak met (oorskiet, maar hoe-ouer-hoe-lekkerder) aartappelslaai, vars koringslaai en (oorskiet) botterskorsie slaai.
Die 25ste gaan ons kerk toe en eet ń brunch van daardie oorskiet rump verheerlik met gebraaide uie, sampioene en room - ja "beef stroganoff" - met gebakte eier en ń italiaanse kaasbroodjie! Dis om van skaam te kry die geseëndheid van ons etes!
Iewers was daar ook boerewors wat spuit-as-jy-dit-byt, ń texan steak, ń knoffel ciabatta wat jou laat vergeet dat jy al 2 jaar (relatief) glutenvry eet. Roosterkoek met báie kaas,Lindt sjokoladeballetjies, vrugteslaai met roomys, biltong... en koffie met tuisgebakte beskuit élke oggend in die bed! Dís mos nou vakansie!
Opmerkings
Plaas 'n opmerking