Is jy...?
"Marne, is jy gelukkig?"
Iemand belangrik vra my in 'n onbelangrike oomblik hierdie gelaaide vraag. En omdat dit soveel fasette het en dit op so ongewone tyd gevra word, ruk my hart tot stilstand (en ook my kop) en maak ek 'n grap daarvan... of hét ek, want soos ons deur ons lewens hoor (& te danke aan vele "monkeypuzzles" op TUKS): jou eerste antwoord is gewoonlik reg!
Maar deur die dag ego daardie vraag by my en ek besef dis 'n vraag wat ek myself al meer gereeld begin vra het in die laaste ruk. En natuurlik moet mens dan vir jouself 'n definisie van "geluk"/"gelukkig" kry. Wat is die prentjie in jou kop, waarby jou dag... gesin... bankbalans... vriende... jyself moet kom om as "gelukkig" geag te word? Lente (van oom Karoolus) sing: "... is jy dalk bly oor die strikkies op jou kop? Of is jy bly oor jou splinternuwe pop? Wees liewer bly dat jou naam in die hemel geskrywe staan & dat jy aan Jesus behoort..."
In Desember voel ek oorweldig, t.s.v. die feit dat dit vakansie is en vra my Ma in ñ oomblik van alleenwees & eerlikheid: "het Ma ook soms gevoel of Ma wil weghardloop, toe ons klein was?" My Ma se antwoord was dat sy nogsteeds soms so voel... ek was verlig en uit die veld geslaan oor die belydenis.
Wat is dit wat ons toelaat om ons "geluk te steel"? Leuens... oor 'n onseker toekoms, wat ons inelkgeval niks aan kan doen nie, oor vooropgestelde idees en verdraaide voorwendsels en verwagtinge.
So... is ek gelukkig? Ja ek is. Ek is gelukkig in my gebrokenheid... gelukkig in die wete dat ek op 'n pad van groei en sterk word en ontwikkeling is: fisies, geestelik en emosioneel. Gelukkig om te weet daars mense wat wil weet of ek gelukkig is en nog gelukkiger dat van hulle sal stop wanneer ek ongelukkig is en my sal wil seën. Gelukkig in die wete dat God my deur en deur ken en my steeds so liefgehad het, dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat ek, wat in Hom glo, nie verlore sal gaan (vir ewig ongelukkig sal wees nie), maar die ewige lewe (ewige geluk) kan hê. (Joh.3:16)
Opmerkings
Plaas 'n opmerking