My pad vir 2017...

Hierdie is die pad waarop ek my die oggend van 2 Januarie 2017, te voet, bevind het... Tamboti tentkamp in die Kruger Nasionale Park (of sommer net "Wildtuin"), is waar ek bevoorreg genoeg was om die eerste twee aande van 2017 te slaap.

En soos mens maar terugdink en onthou en bietjie nostalgies raak so met die begin van ñ nuwe jaar, het ek op my terugtog van die badkamer die pad as simbool van my 2017 pad gesien. Want daardie stukkie is ook ál wat ons van 2017 sover kan sien.

Daar is paaie en mense en situasies wat deel is van jou pad soos daardie paadjie van links... daar is modderpoele, wat heerlik is wanneer jy uit ñ ewigheidsperspektief daarna kyk: beloftes van groenigheid en versadiging, maar net soms loop ons mos en ander dinge dink of kyk en dan trap jy in daardie einste modderpoel en dan het jy geen ewigheidsvisie, net viesgeid en geirriteerdgeid. Want soms kyk ons na modderpoele as beloftes van nuwe lewe en soms is dit net... wel... ñ modderspul en gemors in ons pad!

Ek het geweet waarheen ek oppad was, want daar was ñ nommer, ons tent staanplek asook ons kar. Soms is dit so duidelik waar ons moet afdraai soos om ñ nommer te onthou of uit te kyk vir iets groots soos ñ kar... maar ander kere het die kar ñ draai gaan ry en jy nie opgelet na die nommer nie en dan moet jy "op gevoel" gaan. Of jy moet wag... wag vir ñ teken... soms is die teken voor die hand liggend maar soms is die teken subtiel. Of jy moet niks doen of jy moet plan maak en iets doen, soos om van tent-na-tent te stap tot jy jou goeters en/of mense sien of hoor.. of jy moet iemand bel: vir hulp, leiding of raad?

Die pragtige lower en bosse langs die pad maak dit terselfdertyd mooi, maar ook angswekkend, veral in die aand... Wanneer jy dringend moet badkamer toe, maar net die dowwe kolletjie van die flits het om te sien en vertrou. En dis presies die volgende waaraan ek gedink het... ons pas op ons lewenspad...

Soms is dit dringend en gefokus... op jou vinnigste met een doel voor oë. Soms is dit rustig en nadenkend met niks wat jou jaag of bekommer. Soms stap jy flink, maar jy is effens negatief vir waarheen jy oppad is: soos wanneer ek moet gaan skottelgoed was. Ek het al die "toerusting" vir ñ goeie resultaat maar ai... ek hou nou maar een maal net nie van skottelgoed was nie. Maar terwyl ek skottelgoed was dink ek: daar is eintlik mín dinge in die lewe so eenvoudig, wat onmidellike resultate (en satisfaksie) gee, soos skottelgoed was?! Wat mens weer laat besef dat alles deur jou houding en defnitiewe besluite bepaal word! Is jou glas half leeg of half vol?

Daardie draai in die pad... hoe vreeslik bang kan so lewenspad draai ons nie maak! Ons sien dit al aankom van ons die vorige draai gevat het, maar die onbekendheid van waarhéén dit lei, kan ons soms lam lê. Selfs die rigting van die draai en die hoek is bekend, maar steeds sal ons dit vrees en selfs uitstel of omdraai. Maar omdraai sal nie help, daar is net een pad vorentoe... in 2017 in. Met paaie agter ons, wat wel bekend is, al wissel die verkeer van stil tot baie besig... groot tot klein... vinnig tot stadig... as ons versigtig is en by die "padreëls" hou, behoort ons veilig by ons bestemming uit te kom.

Mag die Here hierdie jaar ons Bestemming wees... mag Hy ons Reisgenoot wees... ons Flits in die donker... ons Sunlight wanneer ons die skottelgoed moet skoonkry...


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...