Jack of all trades...

Master of none... sê die spreekwoord in engels. Ek weet nie of daar ñ soortgelyke een in Afrikaans is nie, maar dis ek: "Jack of all trades, Master of none". Ek kan ñ klomp goeters, redelik doen maar is baie goed met niks nie. Op skool was ek ñ "middelafstand" atleet. As ek nou probeer dink kan ek nie regtig weet hoekom ek die 800m, 1500m & 3000m op (hoër)skool gedoen het nie. Dalk was dit na my "speed wobble" (soos my Pa dit noem) in gr.2 se aflos, dat ek besluit het ek gaan liewers vir langer aan, maar hardloop stadiger - baie kleiner kans vir "speed wobbles". So het ek toe by Juf. Crouse begin "middelafstande" oefen: 1200m in die atletiek seisoen & 3km in die langafstand seisoen (laerskool afstande). Goeie maats gemaak en goeie tye om te onthou: vol adrenalien, sweet en baie Cokes & medaljes (want almal wat klaar maak kry een...) So was ek maar gewoonlik onder die "eerste vyf", darem nie heel laaste nie en heelwat kere op die podium maar selde eerste.

So was dit ook met die "akademie": ek het hard gewerk maar darem nog ñ "sosiale lewe" op skool ook gehad en was meestal net-net of net-net-nie onder die Top 10, maar nooit onder die eerste 3 nie. Darem het ek my 4 onderskeidings in Matriek gekry, waarop ek (steeds) heel trots is. Dit was in die dae wat mens nog net 6 vakke in Matriek gehad het en so hier en daar was iemand met geen lewe en ñ "sewende vak"-gewoonlik "Rekenaarstudie". Onthou toe het die rekenaars nog bonkige monitors & blou skerms gehad.

Die goed, wat ek altyd meen, ek goed mee was is Tik (ja, dit was 1 van my vakke op skool), op ñ regte tikmasjien waar jy 6 punte verloor vir elke tikfout wat jy maak, in jou spoedtoets en bietjie wiskunde moes kon doen om tabelle uit te werk. Vir Matriek moes ons 35 wpm (woorde per minuut) tik, ek het 58 wpm getik en 54/60 vir my spoedtoets gekry. Ek het ook 2de ("master of none") gekom in die "Typist of the year" kompetisie in my matriek jaar. En my eie (elektroniese) tikmasjien gewen (die 1ste prys was ñ rekenaar... bonkige monitor... blou skerm...)

Netbal, daarin was ek ook goed. Nét te kort vir die provinsiale span (elke keer in die finale rondte van proewe, dan val ek uit - hoe teleurstellend!) maar darem goed genoeg om vereer te word in st.8 (gr. 10) en om 2 jaar in die Eerste Span te speel (st. 9 & Matriek)

Ballet... dis die ander "ding" waarin ek goed was, elke meisie droom mos om eendag ñ ballerina te wees. Wel ek het ook... maar het goed gedoen in R.A.D. eksamens. Die reuk van LaPebra's, hars en pienk sykouse sal my altyd bybly: baie knippies, ñ ligpienk roos vir elkeen, wanneer hulle by hul eksamen ingaan & vroeg uit die skool kom vir ballet eksamen is van my kern-herhinneringe.

Om eerlik te wees is ek ook maar vreemd-anders met sekere goed. soos Bioplus en Red Bull: dit hou my nie wakker (vir deurnag swot nie), dit laat my slaap met ñ kop wat vibreer.

Olywe: mense is mos óf mal daaroor, óf sit nie hulle monde daaraan nie... wel ek is nie een van die twee nie: ek hou daarvan maar sal my nou nie daaraan vergryp nie. (Nie soos my TUKS-vriendin, Li, wat in die eetsaal gaan sit het al het sy nie vir ete bespreek, as sy hoor daar is Griekse slaai op die spyskaart... om almal wat nie olywe eet se olywe vir hul te eet nie).

Dan is daar "banting", ja daardie Lae Koolhidraat, Hoë Vet dieët,  wat prof. Tim Noakes soveel oor "aangevat" word. Ek het nie begin "bant" om gewig te verloor nie... ek het vir jare (voel dit my) die leefstyl bekyk, beluister & bestudeer voordat ek uiteindelik "begin" het... en volgens die régte banters bant ek steeds nie... so ek noem dit maar kinder-bant of Superhero banting (n.a.v. prof. Noakes se boek: "Raising Superheroes"). Ek eet vrugte & groente - hoekom anders sal die Here dit vir ons gegee het? Maar bly weg van alle brood en geprosesseerde kos. En dit werk vir my. Die IBS simptome is weg én as ñ bonus het ek gewig verloor en voel ek great!

En dan is daar oefen... as Biokinetikus gló ek om te "practice what you preach" en as "wetenskaplike" hou ek van navors en leer. Maar as ñ Ma... krý ek net nie týd vir gereëlde oefening nie. Ek droom van bikini fit kompetisies as ek 40 is of om net maklik met my kinders te kan werk en speel. Ek ontdek "compound exercises" as die beste ding naas gesnyde brood: oefen klómp spiere funksioneel en op een slag en word vinniger moeg en sien resultate... indien jy dit gereeld genoeg doen... en orals duik Crossfit op.



ñ Klomp kenisse... ou vriende en Facebookers doen Crossfit. Maar soos Pilates, voor ek uiteindelik by ñ Pilates instructor ñ kursus gedoen het, weet ek eintlik niks van Crossfit af nie. Ek weet die mense raak verslaaf daaraan, dit word in ñ groep gedoen en dat daar baie optrekke en opstote en squats by betrokke is (funksioneel!!!) maar verder weet ek nie veel... totdat ek heel toevallig in die Crossfit wêreld in gerehabiliteer word... ek leer name wat ek nooit van gehoor het nie, oefeninge wat ek nooit sou kon uitdink nie en menslike vermoëns wat jou laat dink dat X-Men régtig bestaan! Inspirerend... verslawend en mál! En nee, ek Crossfit nie, wat ñ klomp goeie, praktiese redes soos tyd... afstand en ñ onstabiele skouer insluit, maar ek weet al wat is ñ "thruster", "butterfly pull-up" & hoe jy die "bar" reg vashou. Ek het vir die pret ñ "pistol squat" gedoen in belaglike "wedges" saam ñ "regte Crossfitter"



en het ook ñ WOD-ring (persent gekry). Ek voel sterker en geïnspireerd, noudat ek skielik dit tóg regkry om vir 3 weke in ñ ry, gereëld te oefen en "leen" idees en inspirasie by die unieke "oefengeloof", maar weereens bly ek ñ "jack of all trades, master of none" en bly dink aan die stuk wat ek lank terug op Facebook raakgelees het en bly droom om eendag tog ñ "Master" te word... vir die wat verder wonder oor Crossfit, hier is ñ oulike blog (die Facebook stuk kry ek glad nie opgespoor😢)

http://gethealthyu.com/what-to-expect-at-crossfit/

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Geld wat stom is...

...soos 'n Koning Rooibekkie...

Die identiteit stryd...